Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Driehoek-hoof sê elke dag moet ’n omgeedag wees
Jo Black, wat vertel het hoe die brugtragedie hom as ’n pa van twee geraak het. Foto: Deaan Vivier

As een ding uit die tragedie van 1 Februarie te leer is, is dit om elke dag vir mekaar om te gee.

Hein Knoetze, hoof van die Hoërskool Driehoek in Vanderbijlpark, se gemoed was vol toe hy Saterdag-namiddag op die verhoog voor 2 600 mense moes praat.

Agter hom, op ’n grootskerm, het die glimlaggende gesigte van Marli Currie (14), Jandré Steyn (13), Roydon Olckers (17) en Marnus Nagel (16) verbygeflits – die vier leerlinge wat dood is nadat ’n loopbrug daardie swart Vrydag by die skool ineengestort het.

Die saal voor Knoetze by die Emerald Resort & Casino was volgepak. Aan die een kant was blink ligte wat uitspel “#Oorwin”. Aan die ander kant pers en geel ballonne, die skool se kleure.

Die Vaaldriehoek en Suid-Afrikaners van so ver soos KwaZulu-Natal het opgedaag vir ’n samekoms wat in die middernagtelike ure tussen Overvaal Stereo 96.1 se Ignaz Streicher en Albertus Potgieter van iTickets gebore is: die Hoërskool Driehoek-konsert.

Roydon Olckers (17) se foto flits op die groot skerm terwyl Hein Knoetze, hoof van die Hoërskool Driehoek in Vanderbijlpark mense vra om aan te hou omgee. Foto: Deaan Vivier
Klarissa van Zijl, Hoërskool Driehoek se hoofmeisie, staan saam met skoolmaats in ’n erewag met ballonne in die skool se kleure.Foto: Deaan Vivier

Die doel was om mense net vir ’n oomblik ’n asemskep-kans tussen al die trauma te gee, om ’n oomblik te neem om op hoop te fokus en om geld in te samel vir die skool en slagoffers, sê die twee.

Daar is 2 500 kaartjies teen R100 elk beskikbaar. Dit was binne 72 uur uitverkoop.

Familielede van die oorledenes en slagoffers het komplimentêre kaartjies gekry, wat die ander 100 plekke gevul het.

Die casino se parkering was verniet, asook die saal en veiligheidsbeamptes.

Die konsert, waarin kunstenaars soos Juanita du Plessis, haar dogter Franja, Jo Black, Ruan Josh, Willem Botha, Manie Jackson en Brendan Peyper verniet opgetree het, sou eers 16:30 begin. Konsertgangers het egter meer as twee uur voor die tyd by die ingang gewag.

“Daar is binne die eerste tien minute al 560 mense in!” het Potgieter verstom getel.

Hoewel mense mekaar op die oog af vrolik gegroet het, was die drukkies wat uitgedeel is ’n bietjie langer en inniger as ’n gewone groet.

Mense daag van vroeg af op vir die Hoërskool Driehoek-konsert by die Emerald Resort & Casino in Vanderbijlpark.Foto: Deaan Vivier
Brendan Peyper en sy orkeslede het die Hoërskool Driehoek se skoolbaadjies aangetrek uit eensgesindheid met die gemeenskap.Foto: Deaan Vivier

“Ons almal weet hoekom ons eintlik hier is,” het een vrou oor ’n ander se skouer gesê.

Streicher het tydens die opening aan die gehoor gesê: “Ons wil hê julle moet julself vir ’n oomblik geniet en asem skep, maar kom ons hou eers net ’n minuut van stilte.”

Knoetze het daarna gepraat.

“Dankie Vanderbijlpark. Dankie Vaaldriehoek. Dankie Suid-Afrika. Jul liefde, gebede dra ons. Julle weet nie wat dit vir ons beteken nie. Jul liefde gee ons hoop.

“As iets uit 1 Februarie te leer is, is dit om, soos die liefde nou uitstroom, Maandag en ander dae so te laat voortgaan,” het hy gesê.

Johan van der Merwe, voorsitter van Overvaal Stereo, het gebid en gevra dat die Here “verstaan” bring.

Ruan Josh, wat die jonges in die gehoor op hul voete gehad het.Foto: Deaan Vivier

“U weet hoe hartseer ons is, hoeveel hulp ons nodig het. Bring verstaan. Skenk krag sodat ons mekaar kan bystaan. Liewe Here, wees met ons.”

Agter die verhoog was dit ’n geskarrel. Van die kunstenaars wat opgetree het, moes dit op die nippertjie tussen hul ander konserte inpas. Maar hulle het dit reggekry.

Ruan Josh het eerste opgestap. Die skoolmeisies het eers skaam-skaam uit hul sitplekke met selfone foto’s geneem. Kort voor lank het die sanger hulle op hul voete gehad.

Elke kunstenaar het ’n boodskap van hoop gebring. Jo Black het voor sy optrede sag erken: “Ek het self twee dogtertjies. Skielik (ná die brugtragedie) raak ’n mens senuweeagtig om jou kind skool toe te stuur. Dit raak elke ouer.”

Sy boodskap aan die gehoor was: “Ons kan nie die seer van die wêreld wegneem nie. Oulike Facebook-inskrywings gaan ook nie help nie. Maar ons kan hand uitsteek om ander op te help en weer te laat hoop.”

Juanita du Plessis het gesê: “Die tragedie het my so diep geraak, dat ek net gevoel het ek moet betrokke raak om te help. Dis ’n groot voorreg.”

Brendan Peyper en sy orkes het opgestap, geklee in die skool se baadjies.

“Vandag is ons trotse Driehoekies,” het hy onder luide toejuiging gesê.

Die saal se dak het nog hoër gelig toe Manie Jackson met die “Die onse Vader” lostrek. Elke toeskouer het uit volle bors saamgesing of hul hand op die hart gehou.

Die konsert het bevestig wat Klarissa van Zijl, die Hoërskool Driehoek se hoofmeisie, gesê het terwyl sy deel was van ’n erewag met skoolkleur-ballonne.

“Ons is so dankbaar vir almal se omgee. Ons gáán weer opstaan. Sien, hierdie konsert wys daar is reeds hoop. Ons probeer by die skool die positiewe uitlig, die tentklaskamers ’n avontuur maak.

“Ons sóék die positiewe sodat ons kan sterk staan. En ons het ’n hele gemeenskap wat ons hierin ondersteun.”

Hoe die konsert gebeur het

Ignaz Streicher van Overvaal Stereo 96.1 in Viljoenskroon het besef hoe mense smag vir maniere om te kan help ná die brugtragedie.

Intussen het Albertus Potgieter van iTickets kilometers verder in Pretoria om 23:00 met sy baba se bottel in die een hand en selfoon in die ander gesit toe hy op die Facebook-blad “Gebedsgroep vir Driehoek-Kinders” afkom.

Albei manne het die impak van die voorval besef.

Albei wou help.

Hul paaie het gekruis: twee mense wat mekaar nog nooit ontmoet het nie.

Streicher sê: “Binne tien uur nadat ons kontak gemaak het, was alles beplan en mense aan boord, soos Ruan Josh, wat die ander kunstenaars betrek het.

“Hulle, die venue, die klank, die dienste en optredes – almal het alles gratis aangebied.”

Potgieter voeg by: “Dit is wat die gemeenskap vermag het, toe hulle hande gevat het. Sonder ’n politieke leier. Sonder ’n kerkleier. Daar was ’n gemeenskaplike visie. Die beginsel van unity against a common enemy, in dié geval ’n ramp, het mense nasionaal laat hande vat.”

Die rolspelers het reeds Saterdagaand ná die konsert met die skoolhoof en ander vergader om te besluit hoe die geld wat ingesamel is, gebruik gaan word. Hulle sal later die week ’n opvolgvergadering hou.

“Die konsert is vir die skool, die kinders, gehou. Ons sal seker maak dat die geld daarvoor aangewend word,” sê Streicher en Potgieter.

Meer oor:  Brugtragedie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.