Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Driehoek-ma se sprokiestroue ná ernstige ongeluk

’n Silwerrandjie om ’n donker wolk.

Dít is hoe Kruger Crause (46) van Vanderbijlpark sy troudag met Debbie Coetzee (46) beskryf nadat sy op 1 Februarie ernstig in ’n motorongeluk beseer is toe sy op pad was na die Hoërskool Driehoek waar ’n loopbrug ineengestort het.

Die verwelkomingsbord by die troue van Kruger en Debbie Crause. Foto: FACEBOOK

Vier leerlinge is dood en 22 beseer in dié tragedie wat die land geruk het.

Crause en Coetzee is Sondag in die eg verbind aan die oewer van die Vaalrivier danksy verskeie sakeondernemings wat saamgespan het om hul troue te borg.

“Dit was ’n lieflike dag,” sê Crause. Die egpaar se spesiale dag was omhul in ’n sprokieswaas van pienk en wit.

Selfs die troukoek het pienk rose opgehad en die wynglase op die bruiloftafels was ook pienk. Debbie het gespog met pienk strepe in haar hare en haar bruidsruiker was pienk rose, wit krisante en groen loof. Haar sneeuwit trourok met ’n effense sleep is deur ’n plaaslike ontwerper geskenk. ’n Gastehuis het verblyf verskaf vir die bruidsgeselskap, waar hulle aangetrek het.

Crause sê dit gaan baie beter met Debbie nadat sy ernstig in die motorongeluk beseer is.

Sy was Vrydag 1 Februarie in haar Ford Eco Sport op pad na die Hoërskool Driehoek, waar haar dogter, Rizaan (14) en Kruger se seun, Johan (15), albei in gr. 8, was. Hulle is gelukkig nie beseer toe ’n loopbrug, wat twee geboue by die skool verbind, kort ná die saalopening ineengestort het nie.

Op pad na die skool het ’n ander motor Debbie se Ford Eco Sport getref en sy is weens die slag etlike meters ver uit die motor geslinger.

Sy het ernstige kopbeserings opgedoen en was vir weke in die waakeenheid van die Mediclinic Emfuleni op Vanderbijlpark.

Kruger en Debbie Crause van Vanderbijlpark is Sondag getroud. Foto: VERSKAF
Kruger en Debbie Crause is Sondag getroud. Foto: FACEBOOK
Die bruidspaar, Debbie en Kruger Crause, by Johan Crause (15). Foto: VERSKAF
Die Ford Eco Sport waarin Debbie Coetzee op Vanderbijlpark in ’n ongeluk was. Foto: VERSKAF

Coetzee het weens die kopbeserings ’n beroerte gehad. “Sy sukkel nog met ’n naalde-en-spelde-gevoel in haar regterarm,” sê Crause.

Coetzee sukkel ook nog met haar balans en duiseligheid, “maar dit gaan soveel beter as in Februarie”. Hulle sou einde Februarie getrou het, maar weens die ongeluk moes dit uitgestel word.

Die Crause-egpaar gaan nie dadelik wittebrood hou nie.

* Drie leerlinge van die Hoërskool Driehoek is nog in rehabilitasiesentrums nadat hulle ernstig beseer is.

Shamoné Steynvaart (14), ’n gr. 9-leerling, is na die brugramp verlam en word in die Mediclinic Muelmed in Pretoria se spinale rehabilitasie-eenheid behandel. Cheverné Duvenhage (13), ’n gr. 8-leerling, en Vanessa Slabbert (18), ’n gr. 12-leerling, is in ’n rehabilitasiesentrum in Johannesburg.

Meer oor:  Driehoek-Ramp  |  Debbie Coetzee  |  Brugtragedie  |  Ongeluk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.