Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Driehoek-tragedie: Solidariteit hof toe oor BLF
Lindsay Maasdorp. Foto: Isabel Venter

Die vakbond Solidariteit gaan Lindsay Maasdorp, BLF-woordvoerder, voor die gelykheidshof daag en glo hy kan selfs tronkstraf kry.

Dit volg nadat Maasdorp die (wit) kinders wat Vrydag by die Hoërskool Driehoek in Vanderbijlpark dood is, se afsterwe op sosiale media verwelkom het. Drie kinders is Vrydag dood en een is die naweek aan sy beserings dood nadat ’n gedeelte van ’n loopbrug by die skool ineengestort het.

Die Menseregtekommissie (MRK) en die Ahmed Kathrada-stigting het Maasdorp reeds skerp oor sy uitsprake gekritiseer. Die DA en VF Plus het ook gesê hulle gaan Maasdorp by die MRK verkla.

Solidariteit het Sondagoggend op sy webtuiste geskryf talle van die beseerde kinders se ouers is lede van die vakbond.

“Ons is met totale afsku oor Maasdorp se opmerkings vervul. Verskeie ouers en vriende van die slagoffers het ons genader om regstappe teen Maasdorp in te stel.”

Die hofstukke sal reeds volgende week op Maasdorp en die BLF beteken word. Solidariteit beplan om ’n klag van crimen injuria by die gelykheidshof in te dien. Daarvoor sal die vakbond op onder meer die Vicki Momberg-presedent steun. Solidariteit glo dié presedent regverdig tronkstraf vir Maasdorp.

“Ons beplan ook om ’n saak by die gelykheidshof aanhangig te maak in die lig van die presedent wat die Penny Sparrow-saak geskep het. Maasdorp het 'n strafregtelike oortreding begaan wat ’n swaar straf verdien.”

Intussen het die Emfuleni- plaaslike munisipaliteit in Vanderbijlpark in ’n mediaverklaring gesê die munisipaliteit rou saam met die gemeenskap oor die “verskriklike tragedie” by die Hoërskool.

Gift Moerane, wat onlangs as nuwe burgemeester ingehuldig is, het die skool kort ná die ongeluk Vrydag saam met Panyaza Lesufi, Gautengse LUR vir onderwys, besoek.

“My eerste dag as burgemeester was ook die hartseerste dag van my lewe,” sê Moerane.

“Die prentjie van ons onskuldige kinders se lyke wat uit die puin verwyder word, sal my nog lank bybly.”

Mense bid en ondersteun mekaar Vrydag ná die tragedie by die Hoërskool Driehoek in Vanderbijlpark. Foto: Simon Sonnekus

Moerane het inwoners gevra om in die gees van ubuntu (medemenslikheid) saam te staan om die families in rou by te staan. Hy het mense bedank vir hul volgehoue gebede.

“Ons innige meegevoel en ondersteuning is met die families wat kinders verloor het of wie se kinders beseer is, onderwysers en ander leerlinge. Ons doen ’n beroep op politieke, maatskaplike en godsdienstige groeperings om hande te vat met die onderwysdepartement, families en skool om hulle die nodige ondersteuning te gee.”

Meer oor:  Solidariteit  |  Vanderbijlpark  |  Brugtragedie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.