Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Driehoek: Wedloop om die lewe te vier

’n Jaar nadat hulle langs mekaar gelê het en nie geweet het of hulle gaan oorleef nie, het twee leerlinge van die Hoërskool Driehoek Saterdag saam ’n 5 km-wedloop voltooi.

Saterdag ’n jaar gelede het Tasha Opperman (links) en Cheverné Duvenage saam langs mekaar vasgekeer gelê onder die brug by die Hoërskool Driehoek. Vrydag het albei gehuil toe hulle teruggedink het aan daardie dag, maar was ook dank-baar vir waar hulle nou is. Foto: Elizabeth Sejake

Op 1 Februarie 2019 is Cheverné Duvenage en Tasha Opperman vasgekeer onder die voetbrug wat kort ná saalopening by die skool ineengestort het.

“Tasha het regs van my gelê en ek het gedink sy is dood, want sy was bewusteloos en het doodstil gelê.” Tasha is toe nie dood nie en agt operasies later is Cheverné ook nog hier.

“Jammer,” sê Cheverné terwyl sy die trane afvee. “Ek het vanoggend opgestaan en gedink ek gaan oukei wees totdat ek by die skool gekom het. En nou met saalopening het almal weer gepraat oor wat daai dag gebeur het en ons het gesing en . . .”

Dan troos die twee 14-jariges mekaar terwyl die trane rol.

En toe het daar ’n tannie na my toe gekom en sy het gesê: ‘Jy gaan nie doodgaan nie, jy gaan lewe.’

’n Gedenkteken is Vrydag by die skool se ingang onthul vir die vier leerlinge wat in die ongeluk dood is – Roydon Olckers, Jandré Steyn, Marli Currie en Marnus Nagel – asook ander wat daardeur geraak is.

Ná saalopening het hartseer leerlinge kranse gaan neerlê.

“Ons het maar almal baie gegroei, baklei en vergewe die laaste jaar,” sê Cheverné.

Sy en Tasha sê hul vriendskap is deur die trauma versterk. “Ek het deur ’n fase gegaan ná die ongeluk waar ek geen van my maatjies buiten Tasha wou sien nie. Dit het net vir my gevoel asof sy verstaan,” sê Cheverné.

’n Monument is Vrydag by die Hoërskool Driehoek onthul ter nagedagtenis aan die vier kinders wat dood is. Volgens die kunstenaar, Jacques van der Westhuizen, is die driehoek simbolies van die skool, maar ook die Drie-eenheid.

Tasha stem saam. “Die hele tyd terwyl ons vasgekeer was, was ek so bang sy (Cheverné) gaan dood. En ek was ook bang ek gaan dood en toe het ek net aan my sussie Miané (6) gedink en my gesin en gedink ek kán dit nie aan hulle doen nie . . .”

“Ek kan onthou ek het gebid en vir God gevra as ek gaan, moet hy asseblief vir Tasha spaar en mooi na my familie kyk,” sê Cheverné.

“Ek het dit in my kop gebid en toe het daar ’n tannie na my gekom wat buite langs die brug kom sit het waar ons vasgekeer was en sy het vir my gesê: ‘Jy gaan nie doodgaan nie, jy gaan lewe.’ En toe het ek gevra dat sy ook vir Tasha moet bid. Ons het haar hand gevat en saam gebid.”

Tasha was twee weke in die hospitaal met ’n gebreekte bekkenbeen.

Cheverné Duvenage en Tasha Opperman het Saterdag die lewe gevier met ’n 5 km-wedloop.

Cheverné was altesaam 53 dae in die Netcare Unie-hospitaal in Alberton, waar sy sewe operasies aan onder meer haar bekken, heupe en maagwand ondergaan het voor sy vir nóg ’n maand na ’n rehabilitasiehospitaal in Johannesburg oorgeplaas is. Sy moes van voor af leer loop. Intussen het sy nóg ’n operasie aan haar maagwand ondergaan. In Maart word hopelik die laaste rekonstruksie-operasie aan haar maagwand gedoen.

“Daarvoor moet ek gewig verloor en het toe op ’n stadium nadat ek deur alles is net so lus gevoel om te begin hardloop,” vertel Cheverné. “Ek was nog nooit iemand wat lus was vir oefening nie en sou glad nie eens voor die ongeluk gehardloop het nie. Maar dis net asof ek so dankbaar gevoel het dat ek my bene het en wil hulle nou gebruik.

“So, toe begin my ma (Nicola Senekal, 35) ook saam met my hardloop en nou doen ons gereeld wedlope en Tasha het ook intussen begin saam hardloop.

“As ek sien, trek my voete net weg. Al haat ek elke sekonde daarvan, het ek amper alles verloor en besef nou eers regtig wat ek het,” sê sy trots.

As hulle oor die nuwe brug moet loop, doen hulle dit saam, sê die twee. “Maar ons loop nooit op die deel onder die brug wat geval het nie – nie omdat ons bang is nie, maar uit respek vir die kinders wat daar dood is.”

suzanne.venter@rapport.co.za

Meer oor:  Brug  |  Hoërskool Driehoek  |  Tragedie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.