Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
‘Dronk’ Devon pla sangeres op verhoog

Devon Hofmeyr het voordat sy kakebeen afgeslaan is “dronk” op die verhoog van ’n kroeg probeer klim en die opkomende sangeres wat probeer sing het, “geteister”.

Devon Hofmeyr en sy pa, Steve.

Só sê verskeie mense wat Donderdagaand by die Platteland-kuierplek in Centurion was waar Devon Hofmeyr omstreeks 23:00 tot in die waakeenheid van die hospitaal geslaan is.

Daar was bloeding op sy brein en hy moet Maandag geopereer word om sy kakebeen te herstel.

Steve Hofmeyr het Saterdag getwiet sy seun moet ’n les leer uit die voorval. Dit nadat hy Vrydag foto’s van die “aanvallers” vir sy volgelinge geplaas en gevra het vir “inligting”. Hy het intussen die foto verwyder.

Oor Devon het hy Saterdag getwiet: “Ek het ’n vreeslose aktiviste nodig, maar vir aktivisme (sic). Niks anders nie. Elders SAL hy nederig MOET leer bly.”

Dan twiet hy verder: “Sy aanvallers het egter oorboord gegaan.”

‘Hy het hom nie geslaan nie, net geklap.’

Ooggetuies van die drama sê Devon se optrede het hoegenaamd niks met aktivisme te doen gehad nie.

Dit was ’n oop mikrofoon-aand by Platteland en die sangeres het op die verhoog reggemaak om te begin sing.

Die sangeres se man sê Devon was dronk en het terwyl sy haar klank opgestel het vir haar geskree hy gaan saam met haar sing.

Hy wil nie hê sy vrou moet geïdentifiseer word nie uit vrees vir viktimisasie.

“Sy het gesê: ‘Nee, jy gaan nie. Ek sal saam met jou sing, maar nie vandag nie, want dis nie gereël nie.’

“Ons almal weet wie Devon is en wie sy pa is,” sê die man.

“Hy het daar by die ingang van die verhoog bly staan. Toe sy ‘Simply the Best’ sing, het hy so hard gesing dat dit haar ongemaklik gemaak het.

“Hy en sy vriend, wat soos ’n foksterriërtjie agter hom aan was, het heeltyd aanmerkings gemaak. Ek het vir hom gevra hoekom hy dit doen en of hy wil hê ek moet hom bliksem.”

Devon het volgens hom om verskoning gevra, maar toe ontstaan daar ’n onderonsie tussen Devon, sy vriend en ’n mede-eienaar van Platteland, Rudi Oosthuizen. Die vriend is net bekend as “Francois”.

Devon was ook saam met ’n vriend genaamd Francois by vanjaar se Ghoema-toekennings waar hulle die verrigtinge ontwrig het. Rapport kon nie vasstel of dit dieselfde Francois is nie.

Volgens iemand wat Donderdagaand by Platteland was, het Devon of Francois – hy kon nie mooi sien wie nie – vir die eienaar gesê “wie de f** is jy?!” en hom gestamp.

Oosthuizen wou nie hierop kommentaar lewer nie. Hy het net gesê hy werk saam met die Hofmeyr-familie en wou eers met Steve Hofmeyr praat voordat hy Rapport verder te woord staan.

Die sangeres se man het gesien hoe ’n uitsmyter vir Devon en Francois uit die gebou marsjeer, maar weet nie wat verder gebeur het nie.

“Die bakleiery het niks met my en (die sangeres) te doen nie. Sy probeer net naam maak en het nie hierdie storie nodig nie.

“Armand (Hofmeyr, Devon se broer) het my later gebel om te hoor wat gebeur het. Hy het my op speaker gesit toe Steve namens Devon om verskoning gevra het.”

’n Ander ooggetuie, wat ook nie genoem wil word nie omdat hy in die musiekbedryf betrokke is, sê Devon en Francois was aan die begin van die aand baie rustig, maar het later al hoe opruiender geraak.

“Hulle het op en af geloop.”

Hy sê Devon en Francois het selfs stamperig geraak met die uitsmyter.

Terwyl die uitsmyter hulle uitgevat het, het ’n klomp ander mense saamgedrom, en Francois het glo sy hande ook vir die omstanders gelig.

Dit is een van dié omstanders wat glo toe hulle buite kom vir Devon geslaan het.

’n Vriendin wat saam met die slaner gekuier het die aand, sê haar vriend “het hom nie geslaan nie, net geklap”. “Hy is wel baie groot, so dit moes ’n harde klap gewees het.”

Volgens haar wou die slaner eintlik vir Francois klap, maar het toe per ongeluk vir Devon bygekom.

Marcus Oosthuizen, Rudi se broer en mede-eienaar van die klub, het aan Rapport bevestig “ ’n ou” het van die kant af gekom en vir Devon geslaan.

“Die outjie het van die kant af gekom en Devon toe met die plathand teen die kop geklap,” het Oosthuizen gesê.

Devon het sy bewussyn verloor en Rudi het sy vinger in sy mond gedruk om sy lugweg te open.

Christo de Villiers, ’n mededirekteur by Devon se Atlas7-veiligheidsonderneming, het gesê Devon “is orraait”.

“Die bloeding is gelukkig nie baie ernstig nie en Devon is by sy positiewe.”

Rapport het Saterdag vergeefs probeer om Devon, Armand en Steve Hofmeyr in die hande te kry.

Meer oor:  Devon Hofmeyr  |  Steve Hofmeyr  |  Centurion  |  Bakleiery
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.