Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Droomvaart word hel

Wat ’n droomvakansie moes wees, het vir Isabel Lamprecht in die ergste nagmerrie denkbaar geëindig deurdat haar man verlede Vrydag ná ’n stryery in hul kajuit op die MSC Musica ’n oordosis pille gedrink het.

Die MSC Musica waarop Willem Lamprecht gesterf het.

“Dit voel of ek die laaste dag van Willem se lewe 500 keer in ’n uur oor en oor beleef,” sê Isabel (34) verslae in die vierslaapkamerhuis in Rustenburg wat die egpaar pas gekoop het. Sy moes die afgelope twee dae alleen daar intrek.

Die eerste vier dae van hul bootreis was idillies, sê Isabel. Sy en Willem (42), met wie sy agt jaar lank getroud was, het in die son gesit, baie geëet en lekker gesels.

Maar Donderdagaand het ’n man wat saam met hulle aan tafel gesit het, vir Willem, wat werkloos was, gesê dit lyk of hy niks met sy lewe bereik het nie.

‘Depressie is soos kanker.’

Vir Willem, wat aan depressie gely het, was dit ’n teer saak, sê Isabel, wat in ’n bestuurspos by ’n motorhandelaar werk. Hy het al voorheen gereeld vir haar gesê hy voel nutteloos.

“Ons het nog aan tafel grappies gemaak toe Willem só tien minute later opspring en kamer toe is,” vertel Isabel.

Sy is agterna om hom te oorreed om terug te gaan, maar in die kamer het hulle ’n uitval gehad.

Isabel Lamprecht (34) praat oor haar man Willem (42) se selfdood.Foto: Deon Raath

“Ek kan nie vir jou sê waaroor ons baklei het nie, want dit was regtig niks,” het Isabel gister aan Rapport gesê. “Maar dit was ’n scene.”

Willem was só ontsteld dat hy sy vrou se selfoon deur die kajuitvenster oor die balkon gegooi het. Dit het in die see geval.

Ná dié drama het die skeepsowerhede vir Isabel haar eie kajuit gegee om Willem tyd te gee om af te koel.

“Ek het geweet na só ’n episode moet Willem net ontspan. Ek het al geleer om hom net te los.”

Sy het ’n rukkie verder gekuier en toe niksvermoedend gaan slaap. Die volgende oggend het personeellede haar kom wakker maak om te sê hulle is byna in Durban en die passasiers moet reg maak om af te klim. Sy het aan die deur van Willem se kajuit gaan klop en toe hy nie oopmaak nie, het sy een van die skoonmakers gevra om die deur vir haar oop te sluit. Willem was nie in sy bed nie.

Die paartjie in gelukkiger tye.

Toe vind sy haar man, sittend in die stort. Dood. Hy het al sy medikasie, wat hy vir epilepsie en depressie gebruik het, tegelyk gedrink.

“Ek was só gedisoriënteerd,” sê Isabel, haar oë tranerig.

“Ek het aan sy been gevat en gesê hy moet wakker word. Hy was yskoud, maar my brein het nie geregistreer nie.” Sy het uit die kajuit gehardloop, in die kaptein vas.

“My husband is dead, my husband is dead,” het sy geskok herhaal.

Sy het haar ouers gebel en haar pa, Willem Engelbrecht, en sy vrou, Wilma, het dadelik Durban toe gevlieg. “Ek moes heeldag op die skip bly terwyl speurders die toneel ondersoek het.”

Sy moes verskeie verklarings aflê vir die Suid-Afrikaanse polisie, die skip se veiligheidsdienste en vir MSC se prokureurs. “Dit was die langste dag in my lewe. Al wat ek vir ure en ure en ure gewonder het, is of hy pyn gehad het.” Die beeld van wat sy gesien het, kry sy nie uit haar gedagtes nie.

Willem Lamprecht tydens sy vakansie met Isabel, op die Portugese Eilande.

“Die dokter het vir my skoonma gesê depressie is soos kanker. Dis ’n fisieke siekte.”

In Junie vanjaar was Willem 24 dae lank in ’n psigiatriese hospitaal.

“Uiteindelik het dokters uitgevind hy het ’n vorm van epilepsie wat deur breinskade by geboorte veroorsaak is,” sê Isabel.

Haar ouers het vir haar dogtertjie, Lila (7), van haar pa se dood vertel.

“Sy het baie gehuil, maar ’n kind is nóú hartseer en besef nie watter impak dit op haar lewe gaan hê nie,” sê Isabel.

Meer oor:  Isabel Lamprecht  |  Willem Lamprecht  |  Selfmoord  |  Selfdood  |  Depressie  |  Bootreis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.