Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
‘Dubbele standaarde oor kospakkies moet einde kry’

Die dubbele standaarde met die uitdeel van kospakkies moet einde kry. As die Springbokke kospakkies uitdeel en op TV kom, moet sy kerk ook kan kos uitdeel, sê ’n leraar van Middelburg.

“Ons gee aan almal kos. Intimidasie teen gemeentes moet stop,” sê Tinus van der Merwe.

Sy kerkgroep het sedert die begin van die staat van inperking meer as 3 000 kospakkies uitgedeel.

Van der Merwe het Woensdag aan Netwerk24 gesê daar is verskeie onregverdighede met die regulasies van die staat van inperking.

Die voormalige Protea-toetskaptein Faf du Plessis en Siya Kolisi, kaptein van die wêreldkampioen-Springbokke, sit Donderdag hand by in ’n sopkombuis in Bonteheuwel, Kaapstad.

“Die polisie en die ANC was Woensdagoggend in ons kerkgebou om ons kospakkies te konfiskeer. Niks is gevat nie, maar ons vergader Donderdag met die burgemeester oor die situasie. Die Springbokke deel dan kospakkies uit en kom op televisie,” sê Van der Merwe.

Volgens Van der Merwe volg hulle die nodige veiligheidsmaatreëls wanneer hulle kospakkies uitdeel en hulle sal aanhou om dit te versprei.

“Daar is geen wet wat my verbied om dit te doen nie. Die Staatskoerant sê net dit moet gereguleer word, maar nie deur wie nie. Iemand moet my eers wys watter wet verhinder my,” sê hy.

By navraag aan die Suid-Afrikaanse Rugby Legendes Organisasie (Sarla) het Stefan Terblanche, uitvoerende hoofbeampte, gesê hulle is ’n liefdadigheidsorganisasie en het permitte.

“Sarla het en ’n vennootskap gesmee met mense wat permitte vir voedselverspreiding en veiligheidsklaring het. Ons volg die regte protokolle en maak ’n verskil by diegene wat dit die nodigste het,” sê Terblanche.

Intussen het Francois Rossouw, uitvoerende hoof van die landbou-organisasie Saai, gesê die organisasie het al verskeie kospakkies uitgedeel om honger mense te voed tydens die staat van inperking.

Rossouw sê die proses om eers ’n permit te bekom veroorsaak dat nog mense vir langer honger is.

“Ons sal voortgaan met kosverspreiding. Ons reël vooraf waar ons gaan versprei en sorg dat die nodige veiligheidsmaatreëls toegepas word. Almal dra maskers en handhaaf ’n gesonde afstand.”

Ons reël vooraf waar ons gaan versprei en sorg dat die nodige veiligheidsmaatreëls toegepas word. Almal dra maskers en handhaaf ’n gesonde afstand.

Rossouw sê die sentralisering van kospakkies deur die staat is nie ’n goeie idee nie, want niks word stiptelik deur die staat gedoen nie.

Imtiaz Sooliman, stigter van die noodleningsorganisasie Gift of the Givers, sê hulle het nog geen probleme met die departement van maatskaplike ontwikkeling gehad met die verspreiding van kospakkies nie.

Die organisasie is volgens Sooliman in die Staatskoerant as ’n noodsaaklike diensverskaffer gelys.

“Die departement van maatskaplike ontwikkeling wil net ingelig wees sodat daar nie duplikasie van kospakkies is nie en chaos vermy kan word,” sê Sooliman.

Hy sê ook hulle kry samewerking van die departement. Hulle het sedert die begin van die inperking verskeie kospakkies en higiëne-produkte uitgedeel en toerusting aan hospitale en klinieke geskenk.

Lindiwe Zulu. Foto: Felix Dlangamandla

By navraag aan die departement van maatskaplike ontwikkeling het Lumka Oliphant ’n vorige verklaring van Lindiwe Zulu, minister van maatskaplike ontwikkeling, gestuur. 

In die verklaring sê Zulu gerugte dat die departement die verspreiding van kospakkies verbied, is vals en daar moet samewerking tussen die staat en organisasies wees.

Zulu sê deur by die riglyne van veilige afstande te hou, het die departement sy werkwyse verander. Pleks van gekookte kos by gemeenskapsentrums te bedien, is daar nou deur-tot-deur-aflewering en voorafverpakte kos word aan gesinne verskaf.

“Die ongekoördineerde situasie met die verspreiding van kospakkies skep ’n omgewing vir die verspreiding van die dodelike virus onder die kwesbaarste mense. Om ons mense teen die moontlike infeksie van die dodelike virus te beskerm is net so belangrik as om voedselverligting aan hulle te bied,” sê Zulu.

Meer oor:  Middelburg  |  Kospakkies
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.