Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Welkom-tragedie: Vrou glo al dood toe man met bure stry

Joe Vieira (68), wat homself vermoedelik Dinsdagoggend geskiet het, het blykbaar geweet sy vrou, Goretti (64), is dood voordat hy ’n rusie met sy buurman gehad het.

Inwoners van ’n woonkompleks in Jan Cellierspark, Welkom, sê Vieira was Dinsdag omstreeks 08:00 in ’n argument met Johan Kriek betrokke, wat langs hom woon. Vieira het glo na Kriek geslaan en is weer in die huis in waarna hy met ’n prokureursbrief in die hand vir ’n tweede keer na Kriek is.

Joe en Goretti Vieira van Welkom, wat Dinsdag in ’n dubbele tragedie dood is.

Vieira het onlangs ’n prokureursbrief aan die bestuur van die kompleks laat skryf omdat hy ontevrede oor sekere kwessies was.

Ná die onderonsie het hy teruggeloop na sy huis en op pad in trane uitgebars, sê ooggetuies.

Die egpaar se seun, Rogerio, en nog familielede en vriende het kort daarna by die huis begin opdaag, nadat hy hulle vermoedelik van Goretti se dood ingelig het. Rogerio het weer gery. Eers hierna het die polisie by die huis opgedaag en gereël dat Goretti se lyk verwyder word.

Volgens iemand na aan die familie het die polisie Vieira ondervra. Hy is ook gevra om sy vuurwapen te oorhandig omdat polisielede glo gesien het wat sy gemoedstoestand is.

Vieira het iets in sy studeerkamer gaan doen en het nie weer uitgekom nie. ’n Familielid wou hom gaan roep en het toe op sy lyk afgekom.

Vieira het blykbaar nog ’n vuurwapen, ’n pistool met ’n knaldemper, in sy studeerkamer gehad. Dié vuurwapen het glo aan Goretti behoort.

Rogerio, wat teruggekom het om sy pa te ondersteun, moes toe hoor dat albei sy ouers dood is. Die egpaar se dogter, Jacqueline, wat in Klerksdorp bly, het ook by haar ouerhuis opgedaag, onder die indruk dat sy haar ma verloor het. Sy het inmekaargesak toe sy hoor haar pa is ook intussen dood.

Kapt. Stephen Thakeng, polisiewoordvoerder, het Dinsdag gesê die polisie ondersoek twee sake van onnatuurlike dood en vermoed Goretti is aan ’n oordosis pille dood.

Netwerk24 het egter Woensdag by iemand na aan die ondersoek verneem dat Goretti aan ’n hartaanval dood is. Die medisyne wat sy geneem het, was glo nog nie deur haar liggaam opgeneem nie.

Vieira het die Sylvania Superspar in Welkom saam met vennote besit.

Die egpaar word Woensdag 27 November om 11:00 uit die St. Dominic Katolieke Kerk in Welkom begrawe.

Meer oor:  Goretti Vieira  |  Joe Vieira  |  Jan Cellierspark  |  Welkom  |  Misdaad  |  Welkom-Tragedie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.