Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Duisende honger – en kosreëls nóg strenger!

Organisasies skop vas teen die regering se sentralisering van kosverspreiding terwyl voedselnood erg toeneem.

Mense drom saam waar duisende pakkies kos uitgedee
Mense drom saam waar duisende pakkies kos uitgedeel is aan inwoners van die Mooiplaas-gemeenskap in Centurion. Foto: Deaan Vivier

Derduisende honger mense kry nie voedselhulp nie, sê nie­regeringsorganisasies, omdat die regering aandring daarop om die uitdeel van kos sentraal te beheer.

Lindiwe Zulu, minister van maatskaplike ontwikkeling, het Vrydag erken haar departement het nuwe, strenger voorskrifte uitgereik vir die uitdeel van kospakkies en gaar kos, selfs nadat Rapport twee weke gelede berig het dat dit reuse-oponthoude veroorsaak.

“Die ongekoördineerde uitdeel van kospakkies skep ’n omgewing waarin hierdie dodelik virus onder kwesbare mense kan versprei.

Om ’n herhaling hiervan te voorkom, het die departement nuwe opdragte vir kosskenkings en ander humanitêre hulppogings uitgereik. Die doel is om te verseker dat kosverspreiding op ’n waardige manier gedoen word wat mense nie blootstel aan die verspreiding van die virus nie,” sê Zulu.

Regulasies veroorsaak dat kosskenkings “honderdduisende honger mense” nie bereik nie, sê dr. Stephen Greenberg, wat help om sowat 350 nieregeringsorganisasies saam te snoer om kosverspreiding te koördineer.

Al wat ons wil doen is om honger mense kos te gee en ons word gestop.

Greenberg sê die regering probeer honderde organisasies en duisende kleiner gemeenskapsbewegings onder sy beheer bring, maar het geen benul hoeveel kos só van armes weerhou word nie.

“Ons is vasgevang in ’n chaotiese burokrasie van reëls en regulasies. In Gauteng moet jy op die oomblik 48 uur voordat jy enigiets kan uitdeel, ’n plan van jou verspreiding by die provinsiale departement van samewerkende regering indien. Daarna moet jy ook goedkeuring van die departement van maatskaplike ontwikkeling (DSD) en van die polisie kry.

“Maar as jy enige van hierdie departemente probeer bel om dit reël, dan lui die foon net aan die ander kant net. Hulle beantwoord nie hul telefone nie terwyl mense honger ly en daar kos vir hulle beskikbaar is,” sê Greenberg.

Kosnood is volgens hom enorm omdat die verskaffingsketting van informele handelaars in duie gestort het weens die regulasies.

“Die regering probeer alles sentraliseer, maar dit werk nie. Jy kan tog nie verwag dat honderde organisasies skielik in die stelsels van hierdie staatsdepartemente gevoer moet word nie. Die oplossings is juis om dinge te desentraliseer,” sê hy.

“Daar is soms oorvleueling van kosverspreiding, maar daar kan liewer oorvleueling wees as dat mense honger ly terwyl daar kos vir hulle beskikbaar is,” sê hy.

Talle organisasies skop vas.

* In Krugersdorp is Melodie van Brakel van The Cradle of  Hope deur die Gautengse departement van maatskaplike ontwikkeling verbied om voorbereide kos aan honger mense te verskaf. Dis mense wat volgens Van Brakel meestal “onder ’n brug” bly en kwalik kos kan gaarmaak. Uit protes het sy ’n plakkaat op haar hek geplak wat lui: “The ANC Government has forced us to stop feeding you!!!! (see permit). Please go to the DSD Office at 16 Human Street to ask for food assistance. Attention: Mrs. Ndo Kobeli.”

“Ons is gedaan,” sê Van Brakel. “Al wat ons wil doen is om honger mense kos te gee en ons word gestop. Ons moet elke dag in die oë van honger mense vaskyk, maar hulle mag nie kos kry nie.”

Toe sy Woensdag om 11:30 grondboontjiebottertoebroodjies wou uitdeel, het die polisie oorkant die hek stilgehou en haar “intimiderend aangegluur”.

Die Gautengse departement vereis dat alle ontvangers van kospakkies “goedgekeur” word.

Panyaza Lesufi, waarnemende LUR vir maatskaplike ontwikkeling in Gauteng, het Donderdag gesê “daar is geen kwaadwillige motief nie, dis vir die doeleindes van koördinering sodat die regte mense hulp ontvang”.

* Tina Thiart van die drukgroep 1000 Women 1 Voice het in ’n brief aan die Verenigde Nasies se afdeling vir die bevordering van vroueregte gesê hulle weier dat die DSD besluit wie sopkombuise mag bedryf.

“Hou jul hande van ons sopkombuise af. Ons as gemeenskappe en nieregeringsorganisasies sal besluit hoe en wanneer ons kos voorsien,” het Thiart gesê.

* Natalie Jacobs, ’n onderwyseres by Soetendal Primêr sowat 5 km buite Wellington in die Wes-Kaap, sê dit sal ’n ramp wees as hulle moet ophou om sop en kospakkies uit te deel. “Baie ouers het nie gas- en kookgeriewe nie.”

* Derek Esterhuizen van die Suid-Afrikaanse Tuberkulosevereniging deel gekookte kos en sop uit in Strandfontein en Tafelsig op die Kaapse Vlakte en in Tulbagh en sê hulle sal voortgaan ondanks die regulasies. “Gelukkig het ons ’n goeie verhouding met die polisie en werk altyd met hulle saam.”

* In KwaZulu-Natal het Sihle Zikalala, premier, self ingegryp nadat Rapport berig het dat 7 500 kospakkies vir brandarm distrikte meer as ’n week in pakkamers gelê het omdat die regering gesloer het met ’n permit weens ’n toutrekkery tussen departemente.
Zikalala het op die ou end self permitte laat uitreik.

Die kospakkies is die afgelope tien dae deur die Domino-stigting in die Ugu-distrik suidwes van Durban, en die King Cetshwayo- en Ilembe-distrik noordoos van Pietermaritzburg uitgedeel, sê Shaun Tait, uitvoerende direkteur van Domino.

“Ons het vroeër sentrale punte gebruik waar mense kos kom haal het, maar nou reël ons dat gesinne in groepe van nie meer as tien mense nie elke uur by die verspreidingpunte in hul gemeenskappe opdaag om hul kospakkies te kom haal. Ons kan dit doen, want ons weet wie die kwesbare mense in hierdie gemeenskappe is,” sê Tait.

Hy sê die permitproses moet dringend gedesentraliseer word.

Meer oor:  Lindiwe Zulu  |  Sihle Zikalala  |  Kospakkies  |  Armoede  |  Covid-19  |  Werkloosheid  |  Kosnood  |  Hongersnood
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.