Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Duisende teken versoekskrif wat doodstraf vra

’n Aanlyn versoekskrif waarin gevra word dat die doodstraf teruggebring word, het Dinsdagoggend reeds meer as 319 000 handtekeninge gehad.

’n Facebook-samestelling met foto’s van enkele van die vroue en kinders wat in Augustus vermoor/vermis is. Foto: Facebook

Die versoekskrif is Maandag op die webtuiste change.org begin nadat mense, veral vroue, hul misnoeë oor die vlaag van aanvalle en moorde die afgelope maand in Suid-Afrika teenoor vroue en kinders te kenne gegee het.

Die opstellers van die versoekskrif skryf dat misdaad teen vroue in Suid-Afrika ’n onbeheerbare en wrede siklus geword het, waarin vroue en kinders seksueel aangerand en vermoor word, met min of geen geregtigheid vir diegene wat agterbly nie.

Hulle noem onder andere die naam van Uyinene Mrwetyana, ’n eerstejaarstudent van die Universiteit van Kaapstad, wie se lyk op 26 Augustus in Lingelethu-Wes, Khayelitsha, gekry is.

Sy is laas op 24 Augustus lewend gesien toe sy ’n pakkie in die Clareinch-poskantoor in Claremont gaan afhaal het. ’n Poskantoor-teller (42) het Maandag op aanklagte van moord, verkragting en regsverydeling in die landdroshof in Wynberg verskyn.

Hy het homself glo aan die polisie oorgegee en ’n bekentenis afgelê dat hy haar verkrag en met ’n skaal in die poskantoor doodgeslaan het.

Bronne het Maandag gesê kringtelevisiemateriaal wat aan die polisie oorhandig is, wys na bewering dat die man Saterdagaand terug is na die poskantoor om die moordtoneel skoon te maak. Volgens die bronne het die polisie bloed op die toonbank in die poskantoor gekry.

Daar word verder beweer dat die man ’n misdaadgeskiedenis het en dat die poskantoor glo moet sê hoekom hy heeltyds aangestel is.

Navrae hieroor is aan Martie Gilchrist, Wes-Kaapse woordvoerder van die poskantoor, gestuur en dit sal bygewerk word sodra dit ontvang word.

Vroue en kinders wat in Augustus vanjaar vermoor is
  • Nolundi Vumsindo (44) van Holela Village in Centane in die Oos-Kaap is doodgesteek waar sy langs haar dogter in haar huis geslaap het.
  • Verusha Padayachee (32) is na bewering deur haar vervreemde man vermoor. Sy het ’n beskermingsbevel teen hom gehad.
  • Lynette Volschenk (32) is in haar woonstel in die Seesig-woonstelgebou in Loevenstein, Bellville, met ’n mes doodgesteek. Haar lyk is daarna in stukke opgesny.
  • ’n Vrou (84) van die Oos-Kaap is voor haar kleinkinders vermoor. Haar vermeende moordenaar het gesê sy is ’n heks.
  • Meghan Cremer (30) is van haar huis op ’n perdeplaas in Philippi weggelok en vermoor. Haar lyk is by ’n sandmyn op ’n plaas naby haar huis gekry. Drie mans is vir haar moord aangekeer.
  • Leighandre “Baby Lee” Jegels (30), ’n bokser van Oos-Londen, is deur haar gewese kêrel, ’n polisieman, doodgeskiet.
  • Nathlia Pienaar (6) is deur bendes geskiet terwyl sy buite haar ouerhuis in Lavender Hill, Kaapstad, gespeel het.
  • Sadiqah Newman (26), ’n swanger vrou van Oliver Tambo Village in Manenberg, is agt keer raakgeskiet terwyl sy saam met ’n vriend winkel toe geloop het om elektrisiteit te gaan koop.
  • Chantal McKenzie-Vlotman, ’n ma van Kaapstad, is doodgeskiet.
  • Lauren Prins (30), ’n liggaamlik gestremde ma van ’n driejarige seuntjie, is deur strydende bendes doodgeskiet.
  • ’n Vrouedokter (39) van Zakariyya Park in Johannesburg en haar helper is in haar huis vermoor.
  • Jesse Hess (19) van Parow en haar oupa is in hul woonstel in Parow vermoor.
  • Esmeralda Isaacs (14) van Upington in die Noord-Kaap is doodgesteek en in ’n veld gelos.
  • ’n Verpleegster (55) van Kuilsrivier is deur haar 14-jarige seun doodgesteek.
  • Sisanda Fani (30), ’n jong ma van Port Elizabeth, is met ’n enkele kopwond in haar motor gevind. Sy was besig om te skei.
  • Janika Mallo (14) van Heinz Park in Mitchells Plain is vermoedelik verkrag en vermoor. Haar lyk is agter haar ouma se huis in Heinz Park gekry.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.