
Bob Dylan
Die legendariese sanger Bob Dylan het nog geen woord gerep oor die Nobelprys vir letterkunde wat aan hom toegeken is nie.
Die Sweedse Akademie het ook vir eers moed opgegee om Dylan in die hande te kry, berig The Guardian.
Dit is seker nie dat hy ondankbaar is oor die eer en die meegaande $904 000 (sowat R12,8 miljoen) nie. Dalk is hy net besig.
Dylan het in Las Vegas opgetree die aand waarop bekend gemaak is dat hy nou ’n Nobelpryswenner is, maar hy het niks laat blyk dat hy van die prys weet nie.
Sara Danius van die Sweedse Akademie sê sy het oproepe gedoen en e-posse gestuur aan Dylan se naaste medewerker en dit is met vriendelike antwoorde ontvang.
“Dit is seker genoeg vir nou,” sê Danius.
Of Dylan gaan opdaag vir die prysuitdeling, wat op 10 Desember in Stockholm plaasvind, is nog onseker.
Danius sê sy is nie bekommerd nie . . . sy dink hy sal opdaag.
Miskien het sy al geluister na Dylan:
The answer, my friend, is blowin’ in the wind
The answer is blowin’ in the wind