Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Eben is lank, maar Juan nog langer

’n Gr. 11-leerling van Johannesburg het nooit kon dink dat hy vir Eben Etzebeth, Springbokrugbyspeler, letterlik in die skadu sou stel nie.

Maar ’n foto van die 17-jarige Juan Oosthuyzen, ’n leerling aan die Helpmekaar-kollege in Braamfontein, saam met die Bok toon dat hy sigbaar langer is as Etzebeth.

Eben Etzebeth is 2,03 m lank, maar die 17-jarige Juan Oosthuyzen nog langer op 2,09 m. Foto: Walt de Lange

Die foto is Donderdag tydens die Bokke se oorwinningsparade ná hul Wêreldbekersege verlede Saterdag in Japan, by die skool geneem.

Eben is 2,03 m lank en Juan, wat ’n nommer 14-skoen dra, is 2,09 m.

Hy sê toe hy hoor die Bokke gaan hul skool besoek, het hy gesorg dat hy voor in die ry kom om vir Eben te sien.

“Ek wou nog altyd sien hoe lank ek teen hom is. Ek het nou nie geweet ek sou langer as hy wees nie,” skerts Juan.

“Hy het my net so gekyk en gevra wat ek eet,” sê Juan.

Juan is ’n veelsydige atleet. Hy neem aan diskusgooi, gewigstoot en gholf deel. Hy speel ook rugby en sou dit graag meer ernstig wil beoefen.

Hy het vroeër vanjaar op die o.18-atletiekkampioenskappe in die Paarl ’n tweede plek in diskusgooi en ’n vierde plek in gewigstoot behaal. Hy wil graag kwalifiseer vir die junior wêreldkampioenskappe wat in 2020 in Kenia gehou word.

Juan Oosthuyzen (regs) saam met sy ma, Hannelie, en sy ouer broer, Hanrich (19). Foto: Brümilda Swartbooi

Juan sê hy is ’n groot rugbyaanhanger. Hy het al die Springbokke se wedstryde in die Wêreldbekertoernooi gekyk en hy het, soos die hele nasie, veral die eindstryd geniet.

Sy ma, Hannelie, sê haar seun het dalk sy lengte by sy pa, Chris, se familie geërf. Juan se ouer broer, Hanrich (19), is 1,95 m lank en hul pa 1,92 m.

Op sosiale media was mense in ongeloof oor die skoolseun wat langer as Etzebeth is. “Goeie genade,” sê een. En ’n ander: “Langer as Eben?”

Op Twitter sê nog een: “Skoolseun saam met Eben, Eben is 2,03. Ons kweek groot seuns in Afrika.” (hyperlink)

Ander sê in hul kommentaar hulle hoop Juan speel ook rugby.

Meer oor:  Juan Oosthuyzen  |  Eben Etzebeth  |  Lengte  |  Lank  |  Springbokke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.