Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
‘Eben wou my skiet’

Een van die klaers wat die Springbokslot Eben Etzebeth van rassisme beskuldig, sê Etzebeth het vir hom gesê dat hy “die h*tn*t” gaan “vrek skiet” omdat die klaer hom (Etzebeth) op die nag van die voorval herken het.

Eben Etzebeth en Siya Kolisi, Bok-kaptein, ná die Springbokke se oorwinning Dinsdag oor Kanada. Foto: Getty Images

Die 42-jarige Enver Wilsnach het nou vir die eerste keer sý weergawe gegee van wat gebeur het in Langebaan in die vroeë oggendure van 25 Augustus, enkele dae voordat die Springbokspan na Japan vertrek het.

“Kom ek skiet die h*tn*t vrek, want hy’t nou klaar my gesig gesien,” het Etzebeth glo vir Wils­nach gesê luidens die verklaring wat Wilsnach verlede Vrydag by die gelykheidshof ingedien het.

Wilsnach se verklaring is een van vier wat adv. Buang Jones, die Menseregtekommissie (MRK) se waarnemende regshoof, by die hof in Hopefield ingedien het. Al vier die verklarings is in dieselfde handskrif en in Engels afgeneem, hoewel die klaers se huistaal Afrikaans is.

Volgens Wilsnach het hy dié betrokke Sondagoggend tussen 02:00 en 02:30 saam met twee vriendinne gestap toe hy ’n swart-en-wit Ford Mustang sien “wat in sirkels rondry”.

Die vier eis skadevergoeding van meer as R1 m. van Etzebeth.

Die Mustang, vermoedelik Etzebeth s’n, het toe saam met twee ander voertuie by Die Watergat-kroeg gaan parkeer, waarna ’n groep mans uitgeklim het en na hom en sy vriende aangehardloop gekom het.

Wilsnach beweer hy het probeer weghardloop, maar dat Etzebeth hom gevang en met ’n vuurwapen oor die kop geslaan het. Dit is glo toe dat Etzebeth die dreigement gemaak het om hom te skiet, waarna Etzebeth en sy vriende hom bewusteloos geskop het.

André Calitz, Etzebeth se regsverteenwoordiger, sê sy kliënt ontken die bewerings.

Die ander drie mense wat ­ook verklarings ingedien het, is Shi­yaad Smith (21), wat ook be­weer dat Etzebeth en sy vriende hom aangerand het, asook twee vroue, Yorayda Papier (43) en Kay-lee Davids (19).

Enver Wilsnach Foto: News24

Smith, Papier en Davids se verklarings strook almal met mekaar en maak die volgende bewerings:

* dat Etzebeth en sy vriende uit die Mustang en twee ander voertuie geklim het by Die Watergat; en

* dat Etzebeth vanaf die voertuig vir hulle gegil het: “Wat soek julle h*tn*ts nog hierdie tyd op straat? Julle is so k*k, julle hoort nie op straat nie.”

Smith verklaar ook dat hy gesien het hoe Etzebeth en sy groep vir Wilsnach aanrand, waarna hy probeer ingryp het en toe met die vuurwapen teen sy kop gedreig is en ook aangerand is.

Die vier eis skadevergoeding van meer as R1 miljoen van Etzebeth, asook dat Etzebeth die bruin gemeenskap en alle Suid-Afrikaners om verskoning vra, dat hy opleiding in woedebestuur en rasse-sensitiwiteit ondergaan en dat hy gemeenskapdiens in Langebaan moet doen.

Die optog teen rassisme Saterdag in Langebaan. Foto: Edrea du Toit

Nie een van die vier verklarings maak egter melding van die klip of baksteen wat na die Mustang gegooi is nie. Die bewering is vroeër deur Wilsnach se regsverteenwoordiger, Nigel Samuels, aan Rapport gemaak, alhoewel hy ontken het dat dit sy kliënt was wat die voorwerp gegooi het.

Calitz sê hy het namens Etzebeth sewe beëdigde verklarings aan die MRK verskaf wat almal bevestig dat Etzebeth nie by enige aanranding betrokke was of rassistiese woorde gebruik het nie. Calitz sê egter Jones het nie enige van die verklarings by die hof ingedien nie. Calitz wou ook nie enige van die verklarings aan Rapport verskaf of wys nie.

Adv. Bongani Majola, MRK-voorsitter, het aan Rapport bevestig dat Calitz die verklarings al in Augustus aan die MRK verskaf het, maar sê dat Jones nog nie die verklarings gesien het nie.

Jones het die afgelope week onder kwaai kritiek deurgeloop nadat hy verlede Donderdag, ’n dag voordat hy die verklarings ingedien het, op ’n gemeenskapsvergadering in Langebaan gesê het dat Etzebeth “in ’n tronksel” hoort en dat hy aangekla moet word van poging tot moord.

“Ons wil vir ander rassiste wys dat die k- of h-woord pynlik en skadelik is en bruin mense verontmenslik,” het Jones gesê.

“Onthou, hy het geld, en onthou, die stelsel ondersteun hom, dit is hoekom hy in Japan is,” het hy bygevoeg.

  • Die MRK-kommissaris adv. André Gaum het die afgelope week erken dat Jones se uitlatings “problematies” is en ondersoek word. Jones se mond is ook gesnoer en hy mag glad nie meer met die media oor die Etzebeth-aangeleentheid praat nie. Benewens die haatspraak-klag, kan Etzebeth ook deur strafregtelike klagte in die gesig gestaar word.

Intussen is die polisie ook besig om die beweerde aanrandings te ondersoek. Die nasionale vervolgingsgesag het aan Rapport bevestig dat die dossier reeds twee keer na speurders teruggestuur is vir verdere ondersoek.

’n Groep van sowat 50 mense het Saterdag in Langebaan teen rassisme betoog. Die groep is gelei deur die gemeenskapsaktivis Sammy Claassen, die man wat die oorspronklike klag van rassisme by die MRK aanhangig gemaak het, asook die ANC se jeugliga in die Wes-Kaap.

Intussen berig Brenden Nel SA Rugby het ’n oudregter van die konstitusionele hof, regter Johann van der Westhuizen, aangestel om die bewerings van aanranding en rassisme teen Etzebeth te ondersoek.

Mark Alexander, president van Saru, het sy aanstelling bevestig en gesê Van der Westhuizen het reeds begin met onderhoude.

“Sy mandaat is wyd – dit sluit enigiets in wat reeds in die openbare domein is en hy het ’n vry hand oor hoe hy sy eie ondersoek gaan lei. Ons het hom gevra om ons te adviseer nadat sy ondersoek afgehandel is en wat ons volgende stappe behoort te wees.”

* Lees ook die onderhoud met adv. André  Gaum en Tim du Plessis se rubriek in Stemme.

    Meer oor:  Eben Etzebeth  |  Enver Wilsnach  |  Springbok  |  Rassisme
    MyStem: Het jy meer op die hart?

    Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

    Ons kommentaarbeleid

    Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

    Stemme

    Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.