Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Eenoog-Java veilig terug by huis
Madeleen van Niekerk en haar Java kort nadat sy hom in Eersterust opgespoor het .Foto: Verskaf

Java, die eenoog-hondjie wat saam met sy eienaar se voertuig gesteel is, is ná twee dae uiteindelik opgespoor en is veilig terug by die huis.

Die Jack Russell is Donderdag laatmiddag in Eersterust gevind nadat sy eienaar, Madeleen van Niekerk, inligting opgevolg het wat sy vroeër die dag gekry het.

’n Inwoner het laat weet sy het ’n hond in die strate gesien wat net soos Java lyk. Van Niekerk en haar man het gaan ondersoek instel.

“Nadat ons ’n uur rondgery het, het ons hom gekry – ’n blok van die adres wat sy gegee het,” sê Van Niekerk.

Madeleen was verlig en oorstelp van vreugde.

Haar 12-jarige hondekind was vermis sedert Dinsdagmiddag toe haar Volkswagen Polo met hom daarin uit die parkeerterrein van die Silverwater Crossing-winkelsentrum in Meyerspark in Pretoria gesteel is.

Madeleen van Niekerk is verlig en oorstelp van vreugde omdat haar geliefde hond, Java, veilig terug is by die huis.Foto: Verskaf
Dié einste foto van Java het soos ’n veldbrand versprei sedert hy vermis geraak het. Foto: Verskaf

Die voertuig is nog nie opgespoor nie.

Lees ook: Hond saam met kar gesteel

Van Niekerk het Woensdag ook ’n anonieme wenk gekry oor waar Java hom moontlik bevind, maar dit was valse inligting.

Sy het vroeër gesê sy bed is leeg en haar hart stukkend omdat haar hond weg is.

Java was nog ’n babahondjie toe hy meer as ’n dekade gelede deel van Van Niekerk se lewe geword het.

Sedertdien is die twee onafskeidbaar en volg hy haar soos ’n skaduwee.

Java ry ook byna oral saam met haar, veral wanneer sy perdestalle toe gaan.

Die dag wat die voertuig met hom daarin gesteel is, was hulle juis op pad na die kleinhoewe waar Van Niekerk terapeutiese perdylesse aanbied.

Sy het eers by die winkelsentrum stilgehou en die voertuig met Java in is toe gesteel nog voordat hulle by die stalle kon uitkom.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.