Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
EFF betoog teen mishandeling van huiswerkers

Die EFF het die week betoog voor die huis in Rylands waar ’n 60-jarige huiswerker glo maande lank mishandel en sonder betaling aangehou is.

Lede van die party het Maandag begin met ’n plakkaatbetoging en het Woensdagaand weer opgeruk na dié huis in Ernestweg.

EFF-lede betoog in Rylands.Foto: Verskaf

Lydia Gwele is sedert April verlede jaar in diens van die gesin en is glo nie toegelaat om die eiendom te verlaat nie.

Een van die bure wat in 2010 oor dié mense by die polisie in Athlone gaan kla het oor soortgelyke probleme, het gesê hy is bly die saak word nou ernstig opgeneem en iets word gedoen.

“Dit is nie die eerste keer dat hulle ’n huiswerker sleg behandel nie. Dit is verbysterend dat mense so iets kan doen,” sê hy.

Lede van die EFF betoog in Rylands teen huishoudelike geweld.Foto: Verskaf

Dié man, wat anoniem wil bly, sê Gwele wou op 30 Januarie vlug en het huilend vir ’n veiligheidswag in die buurt gesê die mense rand haar glo aan en behandel haar sleg. Toe die polisie by die huis aankom, het sy haar deuntjie verander.

“Toe familielede van haar ’n paar dae later daar opdaag om haar weg te vat, het die eienaars hulle ingelig dat die polisie haar vroeër in die week reeds weggeneem het. Dit was ’n blatante leuen, want die polisie is sonder haar daar weg. Dit het ek met my eie oë gesien,” het die man gesê.

Volgens die buurman het hy die vrou se familielid na die polisiekantoor geneem waar hulle die polisie sover gekry het om weer na die huis te gaan.

“Die polisie moes twee hekke oopdwing voordat die eienaars die derde hek oopgemaak het en die huiswerker uitgehardloop het.”

Die buurman sê hy het die EFF op Facebook versoek om in te gryp in die saak.

Lede van die EFF ondersteun huiswerkers in Rylands.Foto: Verskaf

Gwele se neef, Simphiwe Dukiso, sê sy bly nou by hulle in Montclair, Kaapstad. “Dit gaan beter met haar.”

Volgens Dukiso het hulle klagte teen die mense ingedien en die polisie ondersoek nou die saak. “Ons het al ’n saaknommer gekry.”

Die Wes-Kaapse polisie het by navraag bevestig dat hulle ondersoek instel.

“Die polisie ondersoek ’n saak van ontvoering en aanranding. Niemand is nog in hegtenis geneem nie,” sê kol. Andrè Traut.

Bernard Joseph, EFF-verteenwoordiger, sê sulke gesinsgeweld is ’n alledaagse verskynsel in Rylands en moet tot ’n einde kom.

“Dit is nie reg dat ’n huiswerker so mishandel word nie.

“Ons gaan aanhou betoog sodat die polisie en die departement van arbeid ingryp om die lot van huiswerkers in die gebied onder die vergrootglas te plaas.”

Die EFF sê die polisie sal ook moet sê waarom niemand nog in hegtenis geneem is nie.

Meer oor:  Eff  |  Lydia Gwele  |  Kaapstad  |  Rylands  |  Ernestweg  |  Betoog  |  Mishandeling  |  Sonder Betaling  |  60-Jarige  |  Huiswerkers  |  Aangehou
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.