Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
EFF en Good-party tree toe tot herrie oor student se hare
William Sezoe soos sy hare nou lyk. Foto: Facebook

Twee politieke partye het die afgelope week geëis dat die Wes-Kaapse onderwysdepartement teen die hoof van ’n laerskool aan die Weskus moet optree.

Die hoof van die Laerskool Vredenburg aan die Weskus het glo verlede Maandag ’n tweedejaaronderwysstudent van Maties oor sy gekleurde haredos by die skool weggejaag.

André Muller, die skoolhoof, het Maandag kort nadat William Sezoe (19) vir sy twee week lange waarneming by die skool opgedaag het, glo vir Sezoe weggejaag omdat sy hare bo wit gekleur is. Onder is dit swart.

Die EFF en die Good-party het albei in hul verklarings Muller se optrede as rassisties beskryf. Hulle het verder gesê Muller se kommentaar daarna aan Netwerk24 dat sy skool nie die Boswell Wilkie-sirkus is nie, is weersinwekkend en laakbaar.

“Diere is by die Boswell-sirkus vir vermaak geparadeer en dit is verskriklik onmenslik om ’n kind van Afrika te vergelyk met ’n dier wat by die Boswell-sirkus geparadeer was,” het die EFF gesê.

“Geen swart of bruin kind moet so verneder word soos Muller vir Sezoe verneder het nie en dit bloot op grond van sy hare,” het die EFF in die verklaring gesê. Hulle het gevra dat Muller onmiddellik geskors word en dat die klimaat en kultuur by die skool ondersoek moet word. Die EFF het ook gesê dat Muller vir Sezoe psigologies en emosioneel geboelie het en het gevra dat Debbie Schäfer, die LUR vir onderwys in die Wes-Kaap, stelsels in plek moet sit om vir Sezoe emosioneel te ondersteun.

Die Good-party se Sammy Claassen het op sy beurt gesê die beweringe en optrede van Muller kom neer op rasse-diskriminasie, die misbruik van mag en “ ’n algehele minagting van regeringsbeleid en regulasies”.

“Die beweerde optrede van mnr. Muller het net weer ou wonde en pyn wat mense van kleur tydens apartheid oor die kwetsende opmerkings ten opsigte van hulle hare en neuse moes aanhoor, oopgemaak.”

Die EFF en Good-party vra dat André Muller, hoof van die Laerskool Vredenburg aan die Weskus geskors word hangende ’n ondersoek na sy beweerde optrede verlede Maandag toe hy glo ’n jong onderwysstudent van sy skool oor sy hare weggejaag het. Foto: Verskaf

Claassen sê Muller se beweerde optrede is nie net rassisties van aard nie, maar ook beledigend teenoor Sezoe. “Hy moes hom met respek en waardigheid hanteer het, maar toe behandel hy hom lelik, onprofessioneel en bring die hele Wes-Kaapse onderwysdepartement in oneer.”

Hulle het geëis dat Muller en die departement vir Sezoe verskoning moet vra, dat Muller se optrede ondersoek word en dat daar teen hom opgetree word.

Hy het ook gesê die party en sy lede beplan om van Maandag 22 Februarie voor die hekke van die skool met plakkate te betoog tot daar teen Muller opgetree word.

Intussen blyk dit dat niemand van die provinsiale onderwysdepartement se ondersoekspan nog met Sezoe oor die voorval gepraat het nie.

Sezoe het Sondag gesê dat die kringbestuurder van die departement, Avril Daniels, hom verlede week gekontak het. Hy het sy weergawe van gebeure in die telefoniese gesprek aan Daniels gegee. Daniels het toe glo gesê dat die inligting aan die persoon wat die voorval ondersoek, deurgegee sou word.

Sezoe het gesê hy het gehoop dat die persoon hom intussen sou kontak sodat hy vir haar sy weergawe van gebeure kon deurgee, maar tot op hede was daar nog geen kontak nie.

Die provinsiale onderwysdepartement het verlede week by monde van Millicent Merton, ’n woordvoerder, gesê die ondersoek na die beweringe gaan voort omdat Sezoe en Muller se weergawes verskil.

Sondag het Bronagh Hammond, nog ’n woordvoerder van die departement, gesê dat die ondersoek nou na hul arbeidsverhoudinge-afdeling verwys is.

 “Arbeidsverhoudinge het sekere dokumente by die distrik en skool aangevra wat nou aan hulle oorhandig is.”

Sy het gesê die beweringe word in ’n ernstige lig beskou. “Ek kan nie sê wat die sanksie sal wees nie omdat die ondersoek sal kan bepaal of die hoof aangekla gaan word of nie,” het Bronagh gesê.


MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.