Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
EFF neem plaas oor waar boer man vermoor

Terwyl die familie en vriende van Anele Hoyana (40) nog sukkel om tot verhaal te kom ná sy dood, het lede van die EFF sy moordenaar, Fritz “Majeke” Joubert (45), se plaas oorgeneem.

Fritz Joubert (45). Hierdie foto van hom verskyn op sy Facebook-blad. Foto: Facebook

Die moord op Hoyana het skokgolwe deur die land gestuur en veral in lig daarvan dat Joubert die hele voorval opgeneem en op sy Facebook-blad geplaas het.

Joubert, wat deur ’n polisielid doodgeskiet is, het Hoyana Saterdag op sy plaas net buite Gonubie in die Oos-Kaap vermoor.

In die video verwys Joubert onder meer na homself as ’n “prins en uitverkorene” en na Hoyana as “Satan”.

Ao. Hendrick Fielies Odendaal en konst. Phillip Bam wat op die noodoproep van die bure van die plaas Geluksdal gereageer het, het Hoyana se lyk in ’n plas bloed

daar aangetref.

Odendaal het Joubert glo uit selfverdediging doodgeskiet toe Joubert hom glo aangeval het in ’n poging om hom te ontwapen.

Hoyana was ’n sangoma. Hy was glo op Joubert se plaas omdat ’n reinigingsritueel daar uitgevoer sou word. Na verneem word sou Joubert ook as sangoma geïnisieer word.

Beeldmateriaal wat op EFFJoziGroundForces se Twitter-profiel verskyn, wys hoe EFF-lede by Joubert se plaas opruk.

Die inskrywing lui: “Die huis van die moordenaar, Fritz Joubert, is amptelik onteien sonder vergoeding. Daai bastard moet nooit weer terugkom nie. #RipAneleHoyana.”

Die EFF se inskrywing het gemengde reaksie gelok. Sommige mense het die rooi barette geloof vir hul optrede en ander het hulle beskuldig van politiekery. Daar is selfs ’n versoek gerig dat die plaas afgebrand word.

Oor Joubert se drie video’s het Twitter-gebruikers ook vrae gehad oor wie die persoon is wat die video-opnames gemaak het, en of dié persoon ook aangekla gaan word.

Joubert het voor sy dood drie video’s op sy Facebook-blad gelaai. Twee van die video’s is deur ’n ander persoon opgeneem.

In een daarvan sê Joubert vir die persoon wat die video maak om nader te kom, terwyl hy Hoyana met die dood dreig.

In nog ’n video sit Joubert sy arm om ’n man wie hy as Sabelo Ngaka voorstel. Daar is nie bevestiging dat Ngaka die video’s opgeneem het, of hoekom hy in een van die video’s verskyn nie.

Anele Hoyana was ’n sangoma. Hy was na verneem word op Joubert se plaas om ’n reinigingsritueel uit te voer toe hy vermoor is. Foto: Facebook

Verklarings wat deur die polisie uitgereik is, sê nie of enige ander persoon, behalwe Joubert, by Hoyana se moord betrek word nie.

Brigadier Tembinkosi Kinana het die publiek versoek om die polisie ruimte te gee om hul ondersoek deeglik af te handel.

Volgens Kinana sal die polisie die beeldmateriaal van die moord nagaan. Daar is ’n versoek gerig aan enigeen wat verdere inligting het, om na vore te kom.

Hoyana se broer, Olwethu Hoyana, het in ’n inskrywing op Twitter gesê die familie sukkel om tot verhaal te kom.

Hy sê hulle waardeer die publiek se ondersteuning, maar vra dat hulle ruimte gegun word in dié moeilike tyd.

In een van Joubert se video’s staan Hoyana op sy knieë in Joubert se huis met sy tweejarige seun in sy hande, terwyl Joubert, geklee in ’n Springbok-rugbytrui, dreig om hom te vermoor.

Hoyana troos sy seun deur sy kop en rug te streel. In ’n stadium sit hy die seuntjie se kop op sy skouer.

Joubert verwys na Hoyana as “Satan” en sê hy gaan hom straf volgens wat God wil hê hy moet vir sy gemeenskap doen.

Joubert verwys na homself as ’n “prins, die uitverkorene, en die koning van Afrika wat die krag gekry het”.

“Viva, Amandla, viva! Ek moes dit op my eie doen. Ek gaan begin met jou teen jou kop (sic) vir wat jy doen aan die wit man en die wit boer, en die swart man en die swart boer, en die soldaat.

“Dit is Satan en Satan se kind. Ek gaan hom moor. Ek gaan jou terugstuur na waarvandaan jy gekom het. Dit is hoekom ons land is waar dit is,” sê Joubert in die video.


Meer oor:  Eff  |  Fritz “Majeke” Joubert  |  Anele Hoyana  |  Plaasmoord  |  Vermoor
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.