Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Egpaar ernstig beseer ná ongeluk op motorfiets

’n Egpaar van Tzaneen in Limpopo veg in verskillende hospitale in Gauteng om hul lewe nadat hulle in ’n gru-motorfietsongeluk was.

Danielle Fourie (32), ’n onderwyseres aan die Hoërskool Merensky in Tzaneen, en haar man, Louis (28), wat tot Junie 2019 ook ’n onderwyser aan die skool was, is Sondag ernstig beseer in die ongeluk in die Letsitele-distrik buite Tzaneen.

Danielle moes Sondagaand per helikopter na die Milpark-hospitaal in Johannesburg gebring word, waar sy sedertdien onder verdowing in die trauma-waakeenheid is.

Louis en Danielle Fourie van Tzaneen in Limpopo. Foto: Verskaf

Maryna Fourie, haar skoonma, sê sy is aan ’n ventilator gekoppel en het ’n skedelfraktuur wat bloeding op haar brein veroorsaak. Danielle se een sleutelbeen en skouerblad is gebreek, haar bekken is gekraak en sy het gesigfrakture.

Louis het wonde aan sy linkervoet, albei arms en sy hande.

Hy het infeksie in van sy wonde en moes Woensdag in die Unitas-hospitaal in Centurion opgeneem word.

Danielle en Louis was Sondag ná kerk saam met sy broer, Johan, en sy vriendin, Stephanie Buys, wat ook in Tzaneen woon, op twee motorfietse op pad na Ohrigstad in Limpopo vir ’n laat ontbyt.

Johan, wat ’n argitek in Tzaneen is, sê hulle het omstreeks 11:00 op die R529-pad gery en naby ’n T-aansluiting spoed verminder om te stop. Dit is 49 km buite Tzaneen op die pad van Letsitele na Sekgororo.

Philip Smit, ’n prokureur van Polokwane, wat ook ’n gekwalifiseerde forensiese deskundige in die rekonstruksie van motorongelukke is, ondersoek die ongeluk namens die Fourie-familie.

Louis Fourie van Tzaneen se linkervoet is ernstig in ’n motorfietsongeluk beseer. Foto: Verskaf
Een van Louis Fourie van Tzaneen se beserings ná die motorfietsongeluk. Foto: Verskaf

Hy sê sowat 300 m vanaf die T-aansluiting het ’n vrou in ’n oranje Smart glo na regs geswenk op dieselfde oomblik toe Louis en Danielle, op hul Kawasaki Versys, verby haar gery het. Die vrou is ongedeerd.

Johan sê die agterwiel van die Smart het sy broer se motorfiets getref waar Louis se linkervoet was. Die impak van die botsing het die motorfiets laat vassteek en Louis en Danielle is deur die lug geslinger.

“Louis het die hele tyd gevra waar is sy vrou, want hy kon nie sien nie omdat sy bril van sy gesig geval het.”

Danielle het meters verder langs die pad teen ’n afdraende gelê en het gesukkel om asem te haal.

“Ons het gedink ons gaan haar enige oomblik verloor,” sê Johan.

Stephanie is ’n bedryfsingenieur by die ZZ2-tamatieplase en het op WhatsApp-noodgroepe om hulp gevra.

“So 30 minute later het vier ambulanse daar gestop. Daar was ’n vrou op die ongelukstoneel wat die heeltyd gebid het. Sy was soos ’n beskermengel,” sê Johan.

Die Fouries is na die Mediclinic Tzaneen geneem waar hulle gestabiliseer is. “Skanderings het gewys dat Danielle gespesialiseerde sorg nodig het en sy is om 19:00 per helikopter na Johannesburg geneem,” sê Johan.

Maryna sê wat gebeur het, is “enige ma se nagmerrie. Ons gryp alles wat positief is aan en ry tussen die twee hospitale om by ons kinders te wees”.

Weens Covid-19-regulasies mag daar slegs een familielid vir 30 minute per dag by Louis en Danielle wees. “Dit is geweldig erg vir Louis om nie by sy vrou te kan wees nie, maar ons glo en bid dat albei volkome sal herstel, sê Maryna.

Die Letsitele-polisiekantoor ondersoek ’n klag van roekelose en/of nalatige bestuur.

Meer oor:  Tzaneen  |  Ongeluk  |  Motorfiets  |  Motorfietsongeluk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.