Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Egpaar oorleef 9/11 én Knysna-brande
Cilia en Aldo Kleyn van Knysna in hul winkel, AKLD (Aldo Kleyn Leather Designs) op Theseneiland. Foto: Eugene Gunning

“Ons het ’n terugflits gehad van 11 September 2001 in New York,” sê Aldo en Cilia Kleyn van Knysna oor die onlangse brande op die dorp waarin hulle die meeste van hul besittings verloor het.

Dit is nou byna twee maande ná die rampspoedige dag op 7 Junie en hulle probeer hul lewe weer op koers kry.

Hulle bedryf steeds hul winkel, AKLD (Aldo Kleyn Leather Designs) op Theseneiland waar hulle onder meer ontwerpersleerprodukte en kunswerke verkoop.

Aldo by hul huis in Knysna by van hul naaimasjiene wat vernietig is. Foto: Verskaf

Op 9/11 was hulle in New York op pad na hul winkel toe hulle sien hoe die vliegtuie in die World Trade Center vasvlieg en mense na hul dood spring. Op Knysna het hulle ter nouer nood ontsnap en by hul winkel gestaan en kyk hoe hul huis afbrand.

Aldo het sy eerste winkel wat leerprodukte verkoop in 1979 in Pretoria geopen en die tweede vroeg in die 1980’s in Johannesburg.

In die vroeë 1990’s het hy na New York verhuis en daar vir Cilia ontmoet. Sy is ’n ontwerper en kunstenaar en kom oorspronklik van Rio de Janeiro, Brasilië.

Aldo het haar betrek by sy sakeonderneming en hulle het dit verder suksesvol in New York uitgebrei. Hulle het ’n goeie lewe gehad en baie hard gewerk. “Ons het in 2000 ’n eerbewys as die beste leerwinkel in New York ontvang.”

Die onderneming het gegroei en bekendes het by hul winkel kom koop, soos Oprah Winfrey en Britney Spears. En toe breek 9/11 aan en verander alles.

Hulle was vroegoggend op pad na hul winkel toe die vliegtuie in die Twin Towers vasvlieg.

Hulle was vroegoggend op pad na hul winkel toe die vliegtuie in die Twin Towers vasgevlieg het.

“Ons het alles gesien,” sê Cilia. Die gebied was afgesper en hulle kon 19 dae lank nie by hul winkel uitkom nie.

Hulle wou graag in New York bly, maar het besluit om na Suid-Afrika te verhuis.

Hulle het sowat drie jaar in Kaapstad gebly en in ’n stadium die Tuinroete besoek. Cilia was dadelik verlief op Knysna omdat dit haar aan die buitewyke van Rio de Janeiro herinner het.

Hulle het ’n winkel op Theseneiland geopen en dit oor 12 jaar uitgebou.

Op 7 Junie vanjaar het hulle van hul huis in Knysna Heights gewerk.

Laatmiddag het ’n vriend by hul hek gestop en gesê hulle moet die huis ontruim. Hulle het net tien minute gehad.

“As ons vriend ons nie kom waarsku het nie, sou ons in die huis vasgekeer gewees het,” sê Aldo.

Hulle het die meeste van hul diere gered. Hulle het in hul motor gespring en nat handdoeke om hul gesigte gedraai om hulle teen rookinaseming te beskerm.

Hulle was die laaste mense wat uit die gebied padgegee het.

“By ons winkel op Theseneiland het ons op ’n afstand gesien hoe ons huis afbrand. Dit was soos ’n terugflits na 9/11 in New York."

Wat het hulle geleer?

Net soos 9/11 het die Knysna-brande hul uitkyk op die lewe verander.

Hulle aanvaar dinge nie as vanselfsprekend nie. Hulle is dankbaar dat hulle leef en gesond is.

“God het ons weer beskerm. Hy het ’n doel met ons lewe,” sê Cilia.

“God se engele het ons gered,” sê Aldo.

Hulle wil weer voor begin. Dit is ’n lang proses en sal nie kan gebeur sonder die hulp wat die staat belowe het nie.

Aldo benadruk hulle is nie spyt dat hulle na Suid-Afrika gekom het nie. “Die lewe is onvoorspelbaar. Rampe kan enige plek in die wêreld gebeur.”

Hul skade word op sowat R3 miljoen geraam. Van die goed wat vernietig is, is onvervangbaar.

Hulle is hartseer oor die mense wie se huise afgebrand het en dankbaar oor diegene wie se huise nie beskadig is nie.


Meer oor:  Knysna  |  New York  |  Oorlewing  |  Knysna-Brande  |  9/11  |  Egpaar
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.