Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Egpaar na troue op pad toe hulle in ongeluk sterf

Die egpaar van Brakpan wat Donderdagoggend in ’n grubotsing in die Noord-Kaap dood is, was op pad na Namibië om ’n troue by te woon.

Ben (66) en Koba (64) Mostert se dogter, Heleen du Preez, sê haar ouers sou haar oom se troue in Namibië bywoon.

Ben en Koba Mostert
Ben en Koba Mostert Foto: Verskaf

Die Mostert-egpaar is Donderdagoggend op die toneel dood verklaar ná die ongeluk wat in die vroeë oggendure op die N14, 50 km buite Olifantshoek in die Noord-Kaap, plaasgevind het.

Kapt. Sergio Kock, polisiewoordvoerder, het vroeër aan Netwerk24 gesê die ongeluk, tussen Olifantshoek en Upington, was tussen ’n bakkie, ’n vragmotor en die Volkswagen Tiguan waarin die Mostert-egpaar gery het.

“Die oorsaak van die ongeluk is nog onbekend, maar die polisie ondersoek ’n saak van strafbare manslag.”

Motoriste moes Donderdagoggend ure lank wag en die verkeer het kilometers ver opgehoop voordat die toneel opgeruim en die pad weer oopgestel is.

Du Preez sê haar hart is stukkend en alles rondom die gebeure voel onwerklik. “Ek het hulle Woensdagaand nog gesien voordat hulle vertrek het. Hulle was so opgewonde om die sandduine te sien en op en af met kwadfietse te ry,” sê sy.

Haar oom, haar ma se broer, trou op 10 April en haar ouers was saam met hom en sy dogter op pad om te help met die laaste reëlings.

“Hulle het met drie karre agter mekaar gery. My oom in een, sy dogter in ’n ander en my ouers in hul motor.

“In ’n stadium het my oom gesien hulle is nie meer naby nie en haal ook nie in nie. Hy het hulle gebel en toe hy hulle ook nie in die hande kry nie, omgedraai om hulle te soek.”

Du Preez sê toe haar oom op die ongelukstoneel kom, was die pad reeds afgesper en die owerhede was daar.

Die Volkswagen Tiguan waarin die egpaar dood is nadat dit met 'n bakkie en 'n vragmotor gebots het. Foto: Verskaf

“Ek weet almal sê dit altyd, maar ek het werklik die beste ouers gehad. Hul deur was altyd oop, ore altyd gespits en hande reg om te help. Ek weet nie hoe ’n mens ooit oor dit gaan kom nie.”

Du Preez sê dis veral erg vir haar ouers se kleinkinders.

“My en my broer se kinders was my ma-hulle se hele lewe. Hulle het alles aan hulle toegewy. Die kinders kry regtig swaar.”

Die Mostert-egpaar word deur hul dogter, Heleen, seun, Eben, en kleinkinders, Marcel (21) en Lerushka (18), oorleef.

Die begrafnisreëlings sal binnekort bekend gemaak word.

Meer oor:  Motorongeluk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.