Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Egpaar wat deur njala-bul gegaffel is, ‘bestendig’

WAARSKUWING: Hierdie berig bevat foto's wat sensitiewe lesers kan ontstel. 

’n Diereliefhebber van Phalaborwa in Limpopo het, terwyl ’n njala-bul se horings haar een been deurboor het, die bok om sy een oog gevryf in die hoop dat hy sal bedaar en die aftog blaas.

Dié poging van Barbara Boshoff (52) het egter nie die verwoede bok tot bedaring gebring toe hy haar en haar man, dr. Wessels Boshoff (68), Sondagmiddag op hul hoewe buite Phalaborwa bestorm en gegaffel het nie.

Barbara Boshoff en haar man, dr. Wessels Boshoff, van Phalaborwa op ’n besoek aan ’n wildplaas.Foto: FACEBOOK/Barbara Boshoff

Die Boshoff-egpaar is albei baie ernstig beseer en is in die waaksaal van die Mediclinic Tzaneen in Limpopo. Hulle het Sondagaand reeds operasies ondergaan.

Dit is niks minder nie as ’n wonderwerk dat die egpaar oorleef het, sê Zander Osmers, Barbara se seun uit ’n vorige huwelik.

“Die dokters sê met die beserings wat hulle opgedoen het, is hulle baie gelukkig om te leef.”

Barbara is ’n groot diereliefhebber en versorg gereeld wilde diere op haar en haar man se hoewe.

Osmers sê sy ma het baie bloed verloor. Sy het gapende wonde aan haar lieste, sowel as aan albei haar bene, onder die knieë.

Die njala-bul, wat sowat vier jaar oud is, het Sondagmiddag uit ’n kamp op die hoewe gebreek. Barbara het probeer om die dier weer in die kamp te kry toe hy haar bestorm het.

Sy het om hulp geroep en Boshoff het die bok toe van haar probeer weglok. Die bok het Boshoff toe óók begin gaffel.

Hy het onder meer ’n wond in sy maag waar die bok se horings hom deurboor het.

Mense wat op die hoewe was, het die nooddienste ontbied.

Die “mak” njala-bul wat Sondagmiddag ’n dokter en sy vrou van Phalaborwa bestorm en gegaffel het.Foto: Verskaf

Daar is nie ’n hospitaal in Phalaborwa nie en nooddienste is vanaf Tzaneen, sowat 100 km verder, ontbied.

“Die ambulans het eers sowat ’n uur en ’n half later by die hoewe opgedaag. My ma het toe skaars ’n polsslag gehad weens die groot hoeveelheid bloed wat sy verloor het,” sê Osmers.

Dr. Karin Coetzee, ’n veearts van die Tambotie-dierekliniek in Phalaborwa, is ’n vriendin van Barbara en is inderhaas na die hoewe.

“As dit nie vir haar was nie, was my ma dood,” sê Osmers.

Dr. Wessels Boshoff en sy vrou, Barbara, van Phalaborwa in Limpopo. Foto: Facebook/Barbara Boshoff

Coetzee het Barbara bygestaan totdat die nooddienste opgedaag het.

Osmers sê dit het Maandag “al beter” gegaan met sy ma en Boshoff. Barbara sal Dinsdag egter nóg ’n operasie moet ondergaan.

“Dokters is bekommerd oor die moontlikheid van infeksie in die wonde wat sy opgedoen het.”

Volgens Osmers is die njala-bul Maandagoggend van kant gemaak.

“Ek het al vir my ma gesê sy moet versigtig met die wilde diere wees, sy is ’n baie groot diereliefhebber.”

Barbara is in Mei 2012 deur ’n rondloperhond gebyt wat hondsdolheid gehad het.

Die hond is deur die Dierebeskermingsvereniging (DBV) verwyder en van kant gemaak. Toetse wat by Onderstepoort op die hond gedoen is, het vasgestel dat die dier hondsdol was. Barbara is vir weke met die middel Verorab behandel en het wonderbaarlik nie hondsdolheid opgedoen nie.

Marlize Delport, woordvoerder van die Mediclinic Tzaneen, het Maandagmiddag gesê die egpaar is albei in ’n bestendige toestand.

Barbara Boshoff van Phalaborwa toe sy Sondagmiddag by die Mediclinic Tzaneen aangekom het nadat ’n njala-bul haar gegaffel het.Foto: Verskaf
Dr. Wessels Boshoff van Phalaborwa is ernstig beseer toe ’n njala-bul hom Sondagmiddag gegaffel het.Foto: Verskaf
Dr. Wessels Boshoff en sy vrou, Barbara, gee vir twee wilde bokke melk wat hulle op hul hoewe buite Phalaborwa versorg het.Foto: Facebook/Barbara Boshoff
Meer oor:  Dr. Wessels Boshoff  |  Barbara Boshoff  |  Phalaborwa  |  Gegaffel  |  Njala-Bul  |  Waakeenheid  |  Ongeluk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.