Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Agent se lyk in hotel gevind

’n Eiendomsagent van die Somerset-Wes-omgewing en ’n ouma van vier was hardwerkend en iemand op wie ’n mens altyd kon staatmaak.

So sê die familie van Jenny Craig (60), ’n eiendomsagent by Chas Everitt in Helderberg wat Donderdag dood in ’n hotelkamer in Gordonsbaai gevind is.

Kol. Andrè Traut, polisiewoordvoerder, sê ’n geregtelike doodsondersoek word gedoen.

Netwerk24 verneem geen misdaad word vermoed nie.

Die lyk van Jenny Craig (60), ’n eiendomsagent by Chas Everitt in die Helderberg, is Donderdag in ’n hotelkamer in Gordonsbaai gevind. Foto: Facebook

Petra Kruger, Craig se broerskind, sê die familie en haar werkgewer was nie Donderdag daarvan bewus dat haar lyk gevind is nie en het ’n groot soektog na haar van stapel gestuur.

“ ’n Kollega van haar by Chas Everitt in Somerset-Wes het onraad vermoed toe Jenny nie vir ’n vergadering opdaag nie,” sê Kruger.

“Sy het my Donderdagoggend gekontak aangesien dit glad nie in Jenny se aard was om nie ten minste verskoning te maak nie. Jenny se selfoon was af.

“Ons het almal begin soek en uitgevind dat sy die vorige aand tussen 19:00 en 20:00 laas gesien is by haar woning.”

Jenny Craig (regs) en haar dogter, Therina van der Merwe. Foto: Verskaf

Sy het alleen in ’n tuinwoonstel in Somerset-Wes gebly.

“Haar selfoon was die laaste keer Woensdag om 19:30 aan. Haar maatskappymotor was ook nêrens te vinde nie,” sê Kruger.

“Strand Buurtwag het ondersoek ingestel oor haar vermiste motor en vasgestel dat dit omstreeks 21:13 laas deur kringtelevisiekameras opgetel is oorkant die Spar-winkel in Broadwayweg, die Strand.”

Kruger het Donderdag ’n boodskap op Facebook geplaas om mense se hulp te vra om Craig te vind. Die plasing is wyd gedeel, ook deur die Pink Ladies-organisasie.

Kruger is na die Somerset-Wes-polisiekantoor om Craig as vermis aan te meld, maar voordat dit by die polisie se stelsel ingetik kon word, het sy die tyding oor haar tante se dood gekry.

Iemand wat waarskynlik betrokke was by die vind of verwydering van die lyk, het Jenny se foto op Facebook herken en die polisie in Somerset-Wes gekontak.

“Die polisie het my meegedeel dat Jenny haar eie lewe in die hotelkamer geneem het.”

Traut het nie gereageer op navrae hoekom Craig se familie nie daarvan in kennis gestel is dat sy dood gevind is nie.

Craig het twee kinders, Izak van der Merwe en Therina van der Merwe, en vier kleinkinders.

“Sy het sonskyn in enige vertrek gebring met haar stralende lag en groot skouers van omgee,” sê Therina. “Sy is my alles. My kinders, Mikhayla en Michael, se alles.”

Sy laat ook Izak se kinders, Zian en Zantè, agter, asook haar twee broers, Johan en Gert Laufs, en suster, Dandelina Bestele.

“Liewe Moeks, my hart is seer,” skryf Izak op Facebook. “Die vrae is baie, maar ek weet Ma is nou op ’n beter plek. Ma het my al die dinge van die lewe geleer, behalwe hoe om sonder Ma te lewe.”

Jenny Craig en twee van haar kleinkinders, Michael en Mikhayla. Foto: Verskaf

Craig het in 2019 van Germiston aan die Oos-Rand verhuis na Gordonsbaai en sedertdien in die gebied gewerk.

“Jenny was geliefd onder elke persoon met wie sy paaie gekruis het. Sy was ’n absolute mense-mens, ’n omgee-mens.

“Sy was baie, baie hardwerkend en betrokke by die gemeenskap en iemand op wie ’n mens altyd kon staatmaak. Sy was altyd gereed met ’n grappie en lief vir poetse bak. Sy was baie lief vir lag,” sê Kruger.

Craig was volgens haar ook baie lief vir die natuur en vir die see. “Ons sal altyd onthou hoe sy omgegee het en almal anders altyd eerste gestel het. Sy was ontsettend lief vir haar kinders en kleinkinders.”

Kruger sê die familie is baie dankbaar teenoor Pieter Kotze, bestuurder van Chas Everitt in Helderberg, “vir alles wat hy vir Jenny gedoen en beteken het”.

Craig was ’n hoogaangeskrewe en baie gewaardeerde lid van die Chas Everitt-span, sê Meg Wilson, woordvoerder van die agentskap.

“Sy het haar loopbaan by Chas Everitt in Witbank begin voordat sy na die Oos-Rand en daarna na Helderberg verhuis het.

“Sy was geliefd deur kollegas en kliënte vir haar vriendelikheid en besorgdheid oor ander, en ons was baie hartseer om te hoor van haar skielike heengaan hierdie week.”

Die groep het sy innige simpatie aan haar familie en vriende betuig.

Volgens die familie was Craig ’n orgaanskenker.

’n Roudiens vir Craig word Dinsdag om 10:00 by die NG Kerk Gordonsbaai gehou.

Meer oor:  Helderberg  |  Eiendomsagent  |  Hotel  |  Lyk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.