Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Einde van era vir Hop-huise

Provinsies en metrorade het opdrag gekry om voortaan net huisbouprojekte goed te keur vir bejaardes, gestremdes, gesinne waarvan minderjariges die hoofde is en vir MK-veterane.

Dié belangrike beleidsbesluit om die verskaffing van bekostigbare huise aan armes te staak, is voorverlede week doodluiters deur Lindiwe Sisulu, minister van menslike nedersettings, bekend gemaak in ’n vrae­sessie in die Nasionale Raad van Provinsies, hoewel sy self erken het die kabinet het dit nog nie goedgekeur nie.

Dit lyk volgens haar uitlatings asof die tydperk van Hop-huise – gesubsidieerde huise waarmee die ANC in 1995 begin het – verby is.

’n Brief wat die regering onlangs aan alle provinsiale departemente van menslike nedersettings gestuur het, bevestig dit.

In die brief gee Mbulelo Tshangana, direkteur-generaal van menslike nedersettings, provinsies en metrorade opdrag om geen nuwe kontrakte vir die bou van Hop-huise te sluit nie en bestaande kontrakte in te kort.

“Beplande projekte sal voortaan net ondersteun word as dit tot voordeel van bejaardes, militêre veterane, gestremdes en huishouding met minderjarige hoofde is,” lui sy brief.

Nieregeringsorganisasies verskil oor die omvang van die agterstand met huisvesting in die land.

Die Hop-huisprogram het in die 20 jaar van 1995 tot 2015 ’n aansienlike bydrae gemaak om Suid-Afrikaners huise te gee.

Die Centre for Affordable Housing Finance in Africa (CAHF), ’n nieregeringsorganisasie in Johannesburg wat huismarkte oor die hele Afrika navors, bereken daar is steeds ’n agterstand van sowat 2,1 miljoen huise in die land.

huise

Volgens sy jaarverslag, wat twee weke gelede gepubliseer is, is 6,6 miljoen residensiële eiendomme in die land se akteskantore geregistreer.

“Daarvan is sowat 2 miljoen Hop-huise wat sedert 1994 deur die ANC-regering gebou en aan mense oorgedra is. Nog 1,1 miljoen staatsgesubsi­dieerde huise is nog nie oorgedra nie. Wanneer dit gedoen is, sal 43% van die totale huismark in die land huise wees wat die staat verskaf het,” lui die jaarverslag.

Die huisfinansiering-sentrum sê die Hop-huise wat die afgelope 26 jaar met staatsubsidies gebou is, het nou ’n nuwe intreevlak-produk aan die onderpunt van die huismark geword.

“Mense wat hul huise verkoop, gee daarmee geleentheid vir ’n intreevlak-opsie wat op die oomblik goedkoper is as om ’n nuwe huis te bou.

“Dit bied ’n uitdaging aan huisfinansiers om mikroverbande te gee vir huise van tussen R130 000 en R320 000 wat eerste huiseienaars sal pas. Dit sal waarskynlik meer as 22 500 huistransaksies per jaar oplewer.

“Dit sal nie alleen 22 500 nuwe huiseienaars vir die eerste keer in staat stel om eiendom te besit nie, maar ook die 22 500 verkopers in staat stel om ’n volgende huis te koop. Dit kan weer die vraag na die bou van huise stimuleer,” sê die CAHF in sy jaarverslag.

’n Belangrike vraag is egter of die regering gaan byhou met die toeken van gedienste erwe waarop gebou kan word.

Die ANC het in 2014 in sy verkiesingsveldtog onderneem om ’n miljoen huise binne vyf jaar te bou. Teen 2019 het hy net 680 000 daarvan gebou.

En verlede jaar het die department onderneem dat hy in die komende vyf jaar nog 470 000 huise gaan bou, asook 300 000 erwe met munisipale dienste beskikbaar gaan stel en 1 500 informele nedersettings gaan opgradeer.

Ons glo mense sal beter na die huise kyk as hulle dit self gebou het en die huise beskerm.

Maar daar is duidelike aanduidings dat die regering nie by hierdie teikens gaan hou nie. Die departement se begroting is vanjaar reeds met R2,26 miljard verminder.

In die hersamestelling van die begroting is R1,7 miljard minder beskikbaar gestel vir die bou van huise en R1,1 miljard minder vir die opgradering van plakkerskampe.

Sisulu sê die regering gaan voortaan net erwe aan voornemende huiseienaars beskikbaar stel “omdat dit vir ons goedkoper gaan wees”.

“Dit gaan die bestaande model vervang waarin die regering huise bou en dit aan mense oordra,” het sy gesê.

“Ons gaan grond in erwe verdeel, dit omhein en die noodsaaklike middele beskikbaar maak sodat mense hul eie huise kan bou. Ons glo mense sal beter na die huise kyk as hulle dit self gebou het en die huise beskerm.” Wanneer die kabinet die nuwe beleid goedgekeur het, sal dit aan die parlement voorgelê word, het Sisulu gesê.

Emma-Louise Powell, die DA se woordvoerder oor menslike nedersettings, sê Sisulu se departement het tot dusver vanjaar net vir 126 informele nedersettings planne vir opgradering opgestel en nog geen nedersettings opgradeer nie.

“Vanjaar sou 300 informele nedersettings opgradeer word,” sê Powell. “Dis ’n regstreekse gevolg van jare se korrupsie, stropery van die staatskas en reddingsboeie vir wankelende staatsbeheerde maatskappye soos die SAL en Eskom.” 

 

Meer oor:  Lindiwe Sisulu  |  Hop-Huise  |  Cahf  |  Begroting  |  Huisbouprojekte  |  Armes
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.