Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Einde van Ghoemas?

Die stof oor die “verbanning” van ’n musiekvideo waarin Steve Hofmeyr verskyn uit die kykNET-Ghoemas het nog lank nie gaan lê nie. Die herrie dreig trouens nou om die Ghoemas se raad van trustees in twee te skeur.

Steve Hofmeyr Foto: jaco marais
Steve Hofmeyr Foto: Jaco Marais

Dit bedreig selfs die voortbestaan van die hele kompetisie – die mees prestige-ryke toekennings vir Afrikaanse musiek.

Boonop het die Ghoemas Saterdag gesê dat hulle “onder geen omstandighede” gaan sê hoeveel stemme elkeen van die finaliste in die kategorie vir beste musiekvideo op hulle verenig het nie.

Dit kom te midde van agterdog in sommige oorde dat die video “Die land”, waarin Hofmeyr, Bok van Blerk, Jay, Ruhan du Toit en Bobby van Jaarsveld optree, die afdeling vir musiekvideo sou gewen het.

Die Ghoema-trustees het Saterdag gesê hulle gaan nie die beoordelaars se stemme bekend maak nie omdat hulle ’n “eed van vertroulikheid” afgelê het.

Dié betrokke kategorie is deur vier anonieme beoordelaars beoordeel en die publiek het glad nie gestem nie.

‘Die trustees het nie genoeg tyd gehad om die ultimatum te debatteer nie.’

Demi Lee Moore se musiekvideo vir die lied “Mis Eet Slaap Herhaal” het uiteindelik dié kategorie gewen.

Sy het vir ’n opskudding gesorg toe sy in haar bedankingstoespraak haar prys aan Hofmeyr, sy medesangers en produksiepersoneel opgedra het.

Interne Ghoema-korrespondensie wat Rapport onder oë gehad het, toon dat die vonke reeds op 25 Maart begin spat het toe Joe Heshu, MultiChoice se hoof van korporatiewe sake, die Ghoemas voor ’n borgskap-ultimatum gestel het oor die musiekvideo waarin Hofmeyr verskyn.

Teen dié tyd, het Heidi Edeling, uitvoerende hoof van die Ghoemas en ’n trustee, die afgelope week volgehou, was die beoordelingsproses lankal afgehandel en Demi Lee Moore se video reeds as wenner aangewys.

Volgens haar was die beoordeling einde Februarie voltooi en MultiChoice het op 25 Februarie die ultimatum gestel. Edeling sê daarna het hulle eers ’n oplossing gesoek en toe dít nie slaag nie, het die trustees gestem.

Edeling het die afgelope Maandag die bestuurskomitee in kennis gestel van die besluit om “Die land” se benoeming “terug te trek” in ’n e-pos wat ook aan Heshu gestuur is.

Sy skryf daarin dat die proses “onaangeraak (is) en die uitslae in die spesifieke kategorie staan”.

Dit kan deur die ouditeure “gestaaf word”.

Arnold Coleske, wat die Hofmeyr-video benoem het, het die volgende oggend aan Edeling geskryf dat hy “diep hartseer is oor hul besluit”.

“Dit raak nie net die deelnemende kunstenaars, die komponis van die liedjie en die regisseur van die video nie, maar elke ander kunstenaar wat ’n toekenning kry omdat ons glo dit plaas die integriteit van die toekennings onder verdenking.”

Hy het op die toekennings se reglement gewys wat bepaal dat die pryse “onafhanklik” is en nie onderhewig is aan die grille van “die nasionale pers en media of enige platemaatskappy” nie.

Later dieselfde dag het Hofmeyr op sy Twitter-rekening gespog met die benoeming van “Die land”, net om die volgende dag aan te kondig hy is uitgeskop.

Barry Pretorius van Coleske Artists, wat in 2011 ’n stigterslid van die Ghoemas was, maar die laaste drie jaar nie meer daarby betrokke is nie, sê hy verstaan dat daar mense is wat voel “Die land” is omstrede, “maar wat van ateïste wat voel dat gospelliedjies kontroversieel is?”

Rapport verneem op onberispelike gesag dat vier van die ses trustees ten gunste daarvan was dat hulle die knie moes buig voor MultiChoice se ultimatum.

Edeling het aan Rapport gesê dat hulle geen ander keuse gehad het nie omdat MultiChoice byna alle onkostes betaal.

“Die geleentheid soos beplan in die Sun Arena by Times Square Casino sou nie kon voortgaan nie en verskeie diensverskaffers en rolspelers sou rampspoedige skade gely het.”

’n Vertroueling van Edeling, die pianis Roelof Colyn, het in ’n brief aan Rapport gesê MultiChoice en kykNET het sy vriendin “vir die wolwe gegooi”.

Rapport verneem ook dat die prokureur Frikkie Jordaan, een van slegs twee trustees wat sy rug probeer styfmaak het teen MultiChoice, nou dreig om te bedank oor die debakel.

In ’n e-pos wat Rapport onder oë gehad het, skryf hy dat die sensuur van MultiChoice hom “kwel” en dat hy nie met die meerderheidsbesluit van die trustees saamstem nie.

Nog ’n trustee, die sanger Loyiso Bala, wat bekend is vir sy treffers onder sy voornaam, het Saterdag aan Rapport gesê die trustees het glad nie genoeg tyd gehad om MultiChoice se ultimatum ordentlik te debatteer nie.

Hy wou nie sê hoe hy gestem het nie. “In my persoonlike hoedanigheid ondersteun ek glad nie Steve se standpunte nie.

“Maar of sy musiek verteenwoordig moet word by die toekennings, behoort die besluit van sy kollegas te wees.”

Die ander trustees is Karen Meiring, kanaalhoof van kyk­NET, die rekenmeester Henico Schalekamp en Shihaam Domingo, ’n hiphop-kenner.

Rapport verstaan ook dat daar senuweeagtigheid in die gange van kykNET was oor die planne om die toekenningsaand Woensdag regstreeks uit te saai. Uiteindelik het hulle besluit om die uitsending Woensdagaand te laat vaar en eerder ’n heruitsending van die kinderfliek Heidi te vertoon.

Suzaan Keyter, woordvoerder van kyk­NET, ontken dit. Sy sê die plan was om dit regstreeks uit te saai, maar hulle het besef die toekenningsaand gaan langer as gewoonlik aanhou en dat dit nie in die tydgleuf sou pas nie.

* Lees ook Tim du Plessis se rubriek oor die petalje hier.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.