Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Eindelik! ’n Bohaai in die Baai vir die Bokke

’n Selfie saam met die Springbokkaptein, Siya Kolisi, het opgemaak vir die bykans vier maande se wag om hom én die Webb Ellis-trofee van naby te sien.

So sê Tarryn Williams van Bethelsdorp in Port Elizabeth nadat Kolisi Woensdag haar selfoon uit die skare geneem het om ’n foto van hulle in die skare te neem.

Williams was een van die duisende aanhangers wat in November verlede jaar teleurgesteld moes huis toe gaan toe die Springbokke se oorwinningsparade nie by sekere gebiede in die stad uitgekom het nie.

“Ons het verlede jaar ure lank langs die pad gewag. In die reën. Maar vandag maak beslis op daarvoor. Dit is ’n oomblik wat ek vir altyd sal onthou en ’n foto vir die geskiedenisboeke,” sê Williams opgewonde.

Nadat die Springbokke die Engelse met 32-12 in Jokahama in Japan in die Wêreldbeker-eindstryd geklop het, het die Springbokke deur dele van Suid-Afrika getoer om met die Webb Ellis-trofee by aanhangers te spog.

Kolisi, Bongi Mbonambi en Mzwandile Stick, hulpafrigter van die seëvierende Springbokke, het Donderdag na Port Elizabeth teruggekeer om te vergoed daarvoor dat hul oorwinnigsparade vroeër in die stad kortgeknip is.

Siya Kolisi, die Springbokkaptein, neem Woensdag ’n selfie met een van die aanhangers se selfone terwyl hy Donderdag mense by die Cleary Park-winkelsentrum in Port Elizabeth ontmoet het. Foto: Lulama Zenzile

Hulle het spesifiek die inwoners van die noordelike voorstede by die Cleary Park-winkelsentrum gaan groet en later die middag ’n draai by die CW Hendrickse Primary School in Uitenhage gemaak. Dit is hier waar aanhangers verlede jaar gal gebraak het toe die Springbokke se beplande roete op die laaste oomblik verander is.

’n Inskrywing op die Springbokke se Twitter-blad het aangedui dat skares, verkeersopeenhopings en die rugbyspelers se vlug na Kaapstad daartoe gelei het dat hulle ’n onvermydelike verandering aan die beplande roete moes maak.

Woensdagmiddag het dit egter voorgekom asof die voorval reeds vergewe en vergete is toe Kolisi by die verhoog opstap en die skare in applous en die dreunsang “Siya, Siya, Siya!” uitbars.

Die aanhangers het verder opgewonde geraak toe Kolisi ’n paar sinne in Afrikaans sê. Hy het die aanhangers vir hul geduld en ondersteuning bedank.

Kolisi het ook gesê dit was baie moeilik om in November die stad te verlaat voordat hulle by al die beplande gebiede uitgekom het.

“Ons weet wat ons vir die mense beteken en wat hulle vir ons beteken. Daar was ongelukkig net dele op die toer wat lank geneem het, soos in New Brighton en Zwide, waar dit baie stadig gegaan het.

“Ons is baie bly ons kon vandag terugkom en die mense sien wat so baie vir ons beteken en is dankbaar vir die mense wat gekom het om ons steeds te ondersteun.”

Die Springbokrugbyspelers Bongi Mbonambi en Siya Kolisi spog Woensdagmiddag met die Webb Ellis-trofee. Foto: Lulama Zenzile

Meer oor:  Bokke  |  Baai  |  Sprinbokke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.