Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Eindelose ramptoestand ‘is onwettig’

In Maart het paniek oor Covid-19 Suid-Afrika gepak en is ’n ramptoestand ingestel om ons hospitale kans te gee om vir ’n moontlike magdom gevalle voor te berei. Destyds is selfs geprojekteer 351 000 Suid-Afrikaners sou weens die nuwe koronavirus kon sterf as drastiese stappe nie gedoen word nie.

Vandag weet ons Covid-19 is nie vir almal ewe gevaarlik nie; dat die infeksiesterftekoers wêreldwyd so laag as 0,2% is; en dat Suid-Afrika se hospitale selfs hernude uitbrekings van die siekte sal kan hanteer.

Daarom is die verlenging van die ramptoestand deur pres. Cyril Ramaphosa tot middel Desember onnodig en onwettig en is dit tyd dat die ramptoestand opgeskort word, betoog die burgerregtegroep DearSA in ’n dringende aansoek wat die afgelope week by die hooggeregshof in Pretoria ingedien is.

Volgens DearSA is die jongste verlenging van die ramptydperk boonop sonder parlementêre toesig gedoen.

Dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, minister van samewerkende regering en tradisionele sake, is die enigste respondent in die saak. Sy het Donderdag ’n verklaring ingedien om DearSA se saak te opponeer.

Die regering het in Maart die eerste ramptoestand van drie maande aangekondig wat daarna elke maand vir 30 dae verleng kon word. Ramaphosa het die jongste verlenging van die ramptydperk, tot 15 Desember, op 11 November aangekondig.

Volgens die Rampbestuurswet mag die regering slegs ’n ramptydperk aankondig om die publiek te beskerm, verligting te bied, of om ’n ontwrigting soos ’n pandemie te hanteer.

Dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, minister van samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta). Foto: GCIS

Teen Vrydagaand het die departement van gesondheid aangekondig dat 20 759 mense weens Covid-19 in Suid-Afrika dood is.

DearSA voer aan die oorspronklike doelwit van die ramptoestand – om tyd te koop – is bereik. “Suid-Afrika het nie meer te kampe met die onsekerhede waarmee hy gekonfronteer is toe die oorspronklike rampbestuurtydperk in werking getree het nie,” het Daniël Eloff van die regsfirma Hurter Spies, wat vir DearSA optree, die afgelope week aan Money­web gesê.

In ’n eedsverklaring sê Rob Hutchinson, direkteur van DearSA, Dlamini-Zuma word onbepaald toegelaat om die rampbestuurtydperk te verleng sonder parlementêre toesig, terwyl grondwetlike regte van Suid-Afrikaners tot onder meer vrye beweging, handelsvryheid en basiese onderwys geskend word. Derduisende ondernemings moes tydens inperking sluit, net soos skole en universiteite. Miljoene mense is hul werk kwyt.

DearSA het Maandag in ’n verklaring gesê hoewel hulle die rasionaliteit van ’n inperking in Maart kon verstaan, het die wêreld sedertdien ingrypend verander. Baie van die rampbestuursmaatreëls het boonop geen rol in die vertraging van die verspreiding van Covid-19 gespeel nie.

DearSA sê elke vroeë projeksie oor sterftes op grond waarvan die Suid-Afrikaanse regering die ramptoestand aangekondig het, het intussen op die ashoop beland omdat veel minder mense weens Covid-19 sterf as wat gevrees is.

Selfs die mees beskeie raming in Junie het gewaarsku meer as 40 000 Suid-Afrikaners sou teen November kon sterf.

Dit het nie gebeur nie. Intussen betoog die regering steeds die ramptoestand moet verleng word omdat ’n “tweede golf” Suid-Afrika kan tref.

DearSA voer egter aan dit is “onbehoorlik” om ’n ramptydperk “voortdurend” in te stel vir “een of ander nuwe ramp wat op ’n ongekende datum kan voorkom”. ’n Nuwe ramptoestand kan eerder afgekondig word indien verhoogde infeksies dit noodsaak.

Die saak word op 1 Desember in die hooggeregshof in Pretoria aangehoor.

Meer oor:  Dr. Nkosazana Dlamini-Zuma  |  Ramptoestand  |  Onwettig  |  Covid-19  |  Dearsa
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.