Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Eis van R9 m. teen gewese Springbok ná skietery

’n Eis van R9 miljoen is teen Johan Goosen (28), ’n voormalige Springbok- en Cheetah-losskakel, ingestel.

Johan Goosen saam met Armandt Stoman, sy vriend wat hy glo per ongeluk geskiet het. Foto: Facebook

Dit volg nadat Armandt Stoman, ’n vriend en werknemer van hom, in ’n skietongeluk met ’n jaggeweer in die onderkant van sy linkerbeen gewond is.

Boonop word Goosen in hofstukke in die hooggeregshof in Bloemfontein daarvan beskuldig dat hy ’n ooreenkoms verbreek het om Stoman (28) geldelik met sy mediese koste, salaris, toekomstige verlies aan inkomste en algemene skade by te staan.

Stoman het reeds 11 operasies en verskeie ander prosedures vir die rehabilitasie van sy been ondergaan.

Goosen het die nuwe jaggeweer hanteer toe ’n skoot afgaan.

Die eis word teen Goosen persoonlik ingestel en in die alternatief teen hom en die maatskappy G10 Bonsmara Stoetery as eienaar van die plaas Lila Flanders in die distrik Aliwal-Noord in die Oos-Kaap waar die skietongeluk op 24 Januarie 2017 gebeur het. Goosen is ’n direkteur van die maatskappy.

Goosen, wat in Frankryk bly en by die Montpellier-klub gekontrakteer is, en die maatskappy sê in ’n spesiale pleit Stoman is ’n werknemer en moet van die ongevallekommissaris eis en nie van hom en die maatskappy nie.

Stoman was die oggend toe die skietongeluk op die plaas gebeur het, aan diens. Dit was in werktyd en Stoman het op die plaas gewerk, sê hulle.

Stoman se regspan sê in hul hofstukke die ongeluk het nie in die uitvoering van sy pligte op die plaas gebeur nie.

Die ongeluk het gebeur in die huis waarin Stoman op die plaas gebly het.

Goosen was besig om die jaggeweer, wat hy en Stoman die vorige naweek in Kimberley gaan haal het, aan ’n ander vriend, James Rheeders, te wys, toe die skoot afgaan.

As die ongeluk nie gebeur het nie, was hulle van plan om in die Wimpy in Aliwal-Noord te gaan eet. Dit was gebeure tussen drie vriende en was nie deel van Stoman se werk nie. Dié jaggeweer was ook nie ’n werktuig wat Stoman in sy werk gebruik het nie.

Stoman se regspan sê op 17 Junie 2017 is ’n mondelingse kontrak tussen die partye aangegaan waarin Goosen beken dat sy nalatigheid die oorsaak van die ongeluk en Stoman se gevolglike skade was.

Daarvolgens sou Goosen al Stoman se mediese koste betaal wat nie deur sy hospitaalplan gedek word nie. Goosen of die maatskappy sal sy salaris betaal totdat sy mediese toestand sodanig gestabiliseer was dat ’n realistiese prognose oor sy gestremdheid weens die ongeluk gemaak kan word.

Goosen sou ook die verlies aan toekomstige verdienste, algemene skade, koste van deskundiges en regskoste betaal.

Hulle het sy salaris tot einde Augustus 2019 en van sy regskoste betaal en onderneem om van sy toekomstige uitgawes en skade te betaal.

Sedert 1 September het hulle die ooreenkoms verbreek, lui sy eis.

BRISBANE, AUSTRALIA - SEPTEMBER 10: Springboks pl
Johan Goosen druk 'n drie tydens 'n wedstryd tussen die Springbokke en Australië in September 2016 in Brisbane. Foto: Bradley Kanaris/Getty Images

Luidens Goosen en die maatskappy se verweerskrif ontken hulle die bestaan van die ooreenkoms en sê dit was blote skikkingsamesprekings sonder benadeling van hul regte.

Hulle het Stoman se salaris tot einde Augustus en van sy mediese koste betaal, maar dit is net uit welwillendheid gedoen.

Hugo Janzen van Vuuren van Rosendorff Reitz Barry-prokureurs is Stoman se prokureur en Leon Strating van Symington en De Kok-prokureurs is Goosen en die maatskappy se prokureur.

Meer oor:  Johan Goosen  |  Eis  |  Skietwond  |  Hofsaak
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.