Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Eise van R180 m. teen polisie tydens inperking in Gauteng

Sedert die begin van die staat van inperking is 132 siviele eise met ’n gesamentlike waarde van R180 miljoen in Gauteng teen lede van die Suid-Afrikaanse Polisiediens ingedien.

Foto ter illustrasie. Foto: Felix Dlangamandla

Faith Mazibuko, Gautengse LUR vir gemeenskapsveiligheid, het op 23 Junie op ’n virtuele sitting van die Gautengse provinsiale wetgewer vrae van die DA oor dié kwessie beantwoord en gesê nog net nege van die klagte is afgehandel. Wat die res betref, word 79 tans geprosesseer en 44 word nog ondersoek.

Pinkie Numa, woordvoerder van Mazibuko, het die syfers bevestig, maar navrae vir verdere kommentaar na die polisie verwys.

“Die LUR het ’n antwoord van die Polisiediens weergegee en hulle sal daarop kommentaar kan lewer. Die departement is nie verantwoordelik vir die gedrag van die polisie nie.

“Dit is ons verantwoordelikheid om die diens wat hulle aan die gemeenskap lewer, te monitor,” het sy gesê.

Michael Shackleton, Gautengse woordvoerder oor gemeenskapsveiligheid van die DA, het Dinsdag gesê dit is onrusbarend dat polisielede nie hou by hul gedragskode wanneer hulle hul werk doen nie.

“Dit is veral kommerwekkend dat hulle nie mense se regte respekteer wanneer hulle hul werk doen nie.

“Die geld wat nou vir dié eise uitbetaal moet word, kon gebruik gewees het om toe te sien dat ons polisiekantore toegerus is met die hulpbronne wat nodig is vir doeltreffende misdaadvoorkoming.”

Kobus Hoffman van die Vryheidsfront Plus sê hy dink die situasie kan selfs erger wees omdat hy meen die syfers is onderskat.

“Daar kom nog eise. Daar is hope klagtes oor lede van die polisie wat eie reg gebruik. Hulle is nie opgelei en toegerus om die situasie te hanteer tydens die staat van inperking nie,” sê hy.

Lizette Lancaster, ’n navorser by die Instituut vir Sekerheidstudies, sê in die inperking het die bestaande probleme in die polisiediens net vererger.

“Ons weet daar is probleme met opleiding, maar daar is ook ’n onderliggende kultuur van straffeloosheid by die polisie. Dit begin al wanneer die mense vars uit die polisiekollege kom. Uiteindelik is dit ’n probleem wat van bo af reggestel moet word.”

Sy meen die demilitarisering van die polisie is nog ’n kwessie wat hanteer sal moet word.

“Baie van wat gedoen moet word, is reeds in die nasionale ontwikkelingsplan. Die eerste daarvan is die demilitarisering van die diens. Ons sit met die gedagte dat die polisie ’n soort militêre operasie is. Ons probeer al twee dekades lank van dié beeld van die polisie wegkom, maar steeds is dit wat ons in ons strate sien,” sê sy.

Vrae is gestuur aan brig. Mathapelo Peters, Gautengse polisiewoordvoerder, maar hy het nog nie gereageer nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.