Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Eish! Laurika laat akteur Neels koes

Om liefde op die kassie te soek is nie maklik nie. Vra maar vir Laurika Nezar, wat vir die tweede keer stoksielalleen geëindig het.

Laurika Nezar Foto: FACEBOOK

Maar dié prokureur van Somerset-Wes het gesorg vir groot drama in die kykNET-reeks Op my eish! waarin die Fynskrif-akteur Neels van Jaarsveld na ’n maat soek.

Sy is die afgelope week huis toe nadat sy en Neels “saam besluit het” daar is nie vir hulle ’n toekoms nie.

Dit is die tweede keer dat Laurika ’n maatsoek-realiteitsprogram met leë hande verlaat. Sy het in 2010 ook aan Boer soek ’n vrou deelgeneem.

Laurika, wat toe 29 jaar oud was, het destyds gesê sy is nie een vir speletjies nie en as die boer Jacobus ook weet wat hy wil hê, sal hulle goed oor die weg kom.

Sy het die top-drie gehaal, maar Jacobus het toe uiteindelik vir Ina van Bloemfontein gekies.

Laurika het vir Neels gesê sy voel afgeskeep.

Sy het haarself destyds voorgestel as Laurika le Grange, maar heet nou Nezar. Dis nie duidelik of sy intussen getroud was nie.

Haar verskyning op Op my eish! het kykers met gemengde gevoelens laat reageer in die kuberruim.

Een kyker skryf op Facebook: “Sy het van dag een af die fout gemaak om te dink sy is die wenner. Haar ego was te groot en toe is die teleurstelling nog groter.”

’n Ander kyker kom tot haar verdediging: “Laurika sal nog haar deksel vind. Sy is te reguit vir die TV.”

Laurika het die reputasie van ’n gifappeltjie gekry toe sy vroeër in die reeks in ’n bekgeveg tussen Janka, Tan­ya en Abigail betrokke geraak het.

Neels van Jaarsveld

Anders as met soortgelyke afspraak-reekse het Op my eish! nie ’n vaste struktuur waarin mense op bepaalde tye afsprake het of uitgeskop word nie. Gevolglik is misverstande en bekgevegte aan die orde van die dag. En Laurika se uitgesprokenheid het haar gereeld in die kollig laat beland.

Op ’n aand waarop die wyn gevloei het, het Laurika prontuit vir Neels gesê sy voel afgeskeep tussen die ander vroue.

“Jy vra my nie uit nie. Ek is die een wat in die lug hang, terwyl ek geld kan verdien, my hondjies kan sien, dinge doen wat belangrik is.

“Ek hang in die lug en jy vergeet van my. Jy kies altyd die ander vroue bo my.”

Neels was sigbaar ontsteld.

Hy vra toe vir die groep vroue of daar nog van hulle is wat só voel. Dit het Laurika se emosies tot in die rooi gedryf. Sy was woedend omdat hy hul “private gesprek” uitgelap het. Hulle het dinge uitgepraat en saam besluit dis beter as sy groet.

Laurika het nie op Rapport se navrae gereageer nie.

Meer oor:  Neels Van Jaarsveld  |  Op My Eish!
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.