Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Eish! Teef op TV laat Neels se eks rooi sien

Die meisies wat in die realiteitsreeks Op my eish! meeding vir Neels van Jaarsveld se aandag, het in Donderdag se episode op kykNET lekker met sy miniatuurworshond, Lulu, gespeel, maar sy eks-meisie is glad nie beïndruk nie.

Neels van Jaarsveld en sy eks Natalie Brink koer op hul hondjie, Lulu, se Instagram-blad. Foto: Instagram/honnelulu

Natalie Brink het dit uit Miami in die VSA, waar sy ’n geleentheidsbeplanner by ’n restaurant is, duidelik gemaak dat sy Lulu nié op televisie wou sien nie.

Van Jaarsveld het Lulu in Mei verlede jaar gekry terwyl hy en Brink tydens die inperking in Botrivier saamgebly het.

Soos dit ’n ster se hond betaam, het Lulu sommer dadelik haar eie Instagram-rekening gekry. Brink het die rekening bedryf.

Kort nadat hulle in Oktober uitmekaar is, het Van Jaarsveld betrokke geraak by die werklikheidsreeks waarin hy vir homself liefde soek.

Toe Brink besef Lulu gaan op televisie verskyn, het sy op Lulu se Instagram-rekening, @honnelulu, daarteen uitgevaar. “Lulu het sedert #Lockdown2020 ’n mamma in Botrivier,” het sy geskryf. En: “No parental consent given to kykNET for Lulu to appear on #opmyeish.”

Sy skryf dat sy geen vertroulikheidsooreenkoms onderteken het nie en ook nie toestemming gegee het dat “haar” hond aan die program mag deelneem of onderwerp mag word “aan die trauma van die verfilming” daarvan nie.

Lulu het ’n mamma in Botrivier.

Sy het ook ou, romantiese foto’s van haar en Van Jaarsveld saam met Lulu op Instagram gelaai.

Gister het Brink gesê sy het Van Jaarsveld gevra om nie die hond deel van die program te maak nie omdat dit vir die tefie traumaties sou wees “om rondom ’n filmspan en alles te wees”.

“En die clips wat ek gesien het van haar op die program wys dat hulle haar boonop op ’n Harley-Davidson laat ry het, wat my ’n bietjie ongelukkig gemaak het. ’n Hond se ore is baie sensitief.”

Volgens Brink was sy en Van Jaarsveld twee jaar in ’n verhouding. Hy het in Op my Eish! egter geen melding van sy verhouding met Brink gemaak nie.

“Dis amper asof ek vir almal weggesteek is. Almal maak asof ek niemand is nie.”

Sy sê hul verhouding was geen geheim nie. Sy het in Maart 2020 in die inperkingstyd by hom gebly.

“Ek moet sê hy het sy huis en hart vir my oopgemaak en my blyplek gegee tydens die pandemie en ek sal altyd dankbaar wees daarvoor.” Sy benadruk sy het darem help betaal.

“Ek het van sy vriende ontmoet. Maar hy het nooit amptelik in die media daaroor uitgekom nie.”

Sy weet nie hoekom nie.

“Nou sê almal skielik hy is op die regte plek in sy lewe om liefde te vind. So wat was die afgelope twee jaar? Wat het dit beteken? Wat was dit?

“Nou ewe skielik glo hy weer in die liefde! Was ek maar net ’n tydverdryf?

“Jy vlieg nie van Amerika af Suid-Afrika toe in die middel van ’n pandemie as julle niks is nie.”

Sy weet nie wat Van Jaarsveld dink van haar skrywes op Lulu se Instagram-rekening nie.

Sy sê ook sy wil niemand in ’n slegte lig stel nie. “Ek weet nie of hy my gaan dagvaar of nie, maar Lulu se bladsy is onder my Instagram geskep en ek het dit gebruik om die publiek te wys die hele program is gebou op die feit dat hy weer liefde wil vind. En dit voel vir my asof dit ’n leuen is.

“Ek sê nie hy het gelieg nie. Ek sê net dis nie alles noodwendig die waarheid nie. Ek wens hom die beste in die lewe toe. Ek wens hy het geluk gevind.”

Die motorfiets-sessie, wat Donderdag uitgesaai is, was deel van Van Jaarsveld se alleentyd met die eNuus-joernalis Nadine Theron, wat ook aan Op my eish! deelneem. Die deelnemers het ’n groot ophef gemaak van die worshondjie, wat van die begin van die reeks voorgehou is as die groot liefde van sy lewe. Lulu het op verskeie meisies se skote gesit en is gevryf en gedruk.

Lindi Herbst van kykNET sê Lulu is Van Jaarsveld se hond. Hy het haar gekoop.

Meer oor:  Neels Van Jaarsveld  |  Op My Eish!
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.