Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
‘Ek gaan Jan Bal erg mis’ - Kerneels Breytenbach

Hy gaan die uitgewer Jonathan Ball erg mis, skryf Kerneels Breytenbach, ouduitgewer van NB-uitgewers, oor sy vriend en kollega wat die naweek aan kanker dood is.

Jonathan Ball het as uitgewer baie dinge reg gedoen.

In styl en benadering was hy die verpersoonliking van wat die Amerikaners “belly publishing” genoem het – uitgewers wat hul skrywers en kontakte aan die etenstafel ontmoet het en gesorg het dat die rojale onthaal en flambojante gesprekke uiteindelik uitloop op nuwe publikasies. Jonathan was ’n raconteur en lekkerbek van formaat, gesteld daarop om netjies geklee deur die lewe te gaan. Selfs in kortbroek en gemaksdrag het dit gelyk of hy sy klere in Jermyn Street, Londen, gekoop het.

Hy was in sy element in sy verhoudings met veral Britse uitgewers, terwyl die Amerikaanse uitgewers wat hy in Suid-Afrika verteenwoordig het, hom as meer Brits as die Britte self beskou het.

’n Ete saam met hom was ’n gebeurlikheid, soos ek dikwels saam met hom en Koos Human beleef het in veral die Groenpuntse restaurant Mario’s, en later die Five Flies. Dit is in laasgenoemde waar hy Edward Griffiths se boeke oor Francois Pienaar en die Springbok-rugbykapteins gewerf het. Mario’s is vir my onlosmaaklik aan die herinneringe aan Jonathan en Koos in gesprek oor die probleme in die boekbedryf, en die voortdurende soeke na boeke wat in groot getalle sou verkoop.

Hy had ’n oog vir sulke boeke, en het dit dikwels gevind via die Britse en Amerikaanse uitgewers wat JBP verteenwoordig het.

Sy ondervinding as bemarker het hom die moontlikhede van The Bible Code en Rich Dad Poor Dad laat insien, nes hy in die jare tagtig Thomas Pakenham se The Boer War en Ivor Wilkins en Hans Strydom se The Super-Afrikaners: Inside the Afrikaner Broederbond geïdentifiseer het as groot verkopers.

Britse en Amerikaanse uitgewers het uit hul pad gegaan om Jonathan by die stalletjie te kom sien, wel wetend dat Jonathan ’n bakkie gekerfde biltong en ’n oop bottel Allesverloren Cabernet Sauvignon vir hulle gereed sou hê.

Jonathan Ball het in die jare negentig en 2000’s ’n stalletjie by die jaarlikse Frankfurter Buchmesse gedeel met eers Tafelberg en Human & Rousseau, en later NB-uitgewers. Britse en Amerikaanse uitgewers het uit hul pad gegaan om Jonathan by die stalletjie te kom sien, wel wetend dat Jonathan ’n bakkie gekerfde biltong en ’n oop bottel Allesverloren Cabernet Sauvignon vir hulle gereed sou hê.

Dit het ’n soort ritueel geword om te hoor hoe hy aan hulle verduidelik wat Allesverloren beteken, en hoekom dit nie op die teenwoordiges betrekking het nie.

Saans het hulle sy rojaliteit beloon deur hom te onthaal in Frankfurt se swierigste eetplekke – hoewel dit sy nagedagtenis ’n oneer sou aandoen om nie daarop te wys dat Jonathan Ball dit verkies het om by plekke te eet waar hy “peasant foods” te ete kon kry. Vandaar die liefde vir Mario’s in Kaapstad en die destydse Trattoria Del Fico in Johannesburg.

Hy was ’n unieke mens – trots op sy herkoms, trots op sy skooldae in Norwood, Johannesburg, en ewe breëbors oor die bynaam wat hy onder sy naaste uitgewersvriende gehad het.

Ek gaan Jan Bal erg mis.

Meer oor:  Jonathan Ball  |  Kerneels Breytenbach  |  Huldeblyk  |  Uitgewer  |  Kanker
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.