Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Ek groet jou, ouboeta Conrad...

My ouboeta Conrad was ’n optimis, ’n lewensavonturier en ’n bietjie van ’n idealis.

Conrad Sidego, in 2016 nog burgemeester van Stellenbosch, gesels hier met skoolkinders. Foto: Eikestadnuus

Hy het onwrikbaar geglo dat as die beste in elke mens vir elke ander mens skyn, sal ons hemel op aarde kan optower. Dít is moontlik, het hy gereken, as ons harte verander, koppe oopmaak en handevat.

Dit was vir hom lekker om mense met dikwels strydende standpunte te bevriend en om ’n tafel te laat gesels. Grense het hy gemaklik oorgesteek.

Conrad is die oudste van ses kinders – drie broers en drie susters – waarvan ek die jongste broer is. Sy baanbrekerswerk in joernalistiek het my geïnspireer om sewe jaar ná hom ook by Die Burger as joernalis te begin werk.

Boelies het gou agtergekom dat hy maar ’n sagte hartjie het.

Nuwe geleenthede het hy soos avonture benader – so byvoorbeeld het hy die gemaksone van die onderwysberoep sonder aarseling vaarwel geroep om as baanbreker die eerste bruin joernalis by Die Burger te word.

Dalk kom dit van ons ma. Haar lewensverhaal het Conrad oneindig geïnspireer.

My ma het op ’n plaas in die Tulbagh-distrik grootgeword en was bestem om by haar ma, my ouma, as kombuiswerker in die plaashuis oor te neem.

My ma, toe ’n skrander leerling in st. 6, is egter deur haar onderwysers aangemoedig om verder te gaan leer. Verder leer vir ’n bruin kind het beteken om dit in die naaste groot dorp buite Tulbagh te doen. Net wit leerlinge kon in Tulbagh tot matriek studeer. My ma se leerkragte het aangebied om al die reëlings te tref sodat dit haar niks sou kos nie. Maar my ouma, wat nie kon lees óf skryf nie, wou niks hiervan hoor nie.

Met die aansporing van haar onderwysers het my ma een nag ná die Desember-skoolvakansie die nodigste in ’n leë meelsak gestop, stilletjies van haar plaaswerker-ma se huis weggeloop en sowat 12 km gestap om die trein na die Paarl te haal. Hier het sy haar skoolloopbaan voortgesit en uiteindelik haar onderwyskwalifikasie verwerf.

Die verhaal het Conrad lewenslank geïnspireer om homself aanhoudend te verbeter. Hy het byvoorbeeld voortdurend boeke oor inspirerende leiers en sakelui asook oor selfverbetering gelees.

Hoewel Conrad kop en skouers (letterlik) bo sy skoolmaats uitgetroon het – hy was uiteindelik ’n yslike 6’2” – het boelies gou agtergekom dat hy maar ’n sagte hartjie het. Toe my ma agterkom hy word geboelie, het sy het hom aangemoedig om liggaamsbou te doen en later selfs karatehandleidings aan te koop.

Vir die geboelie het Tromp van Diggelen se liggaamsbou-kursusse gehelp. Conrad het ’n advertensie hieroor in Huisgenoot uitgeknip en vir die kursus ingeskryf.

Toe hy ’n paar jaar later by Hewat-opleidingskollege in Kaapstad gaan studeer, het sy lengte en stewige liggaamsbou hom ’n woelige slot in die kollege se toprugbyspan gemaak.

Conrad se uitstekende vaardigheid as fotograaf, sy interessante geselsies oor astrologie (sterretekens) en sy sukses met Oom Lasie se kursusse in geheueskoling het hom dikwels die middelpunt van belangstelling gemaak by partytjies waar hy met groot genoegdoening sy nuut ontwikkelde goeie geheue as ’n partytjietruuk gebruik het. Hy kon mense se name onthou, selfs dié wat hy net een keer, soms maande en selfs jare vroeër, vlugtig ontmoet het. Dit het hierdie kennisse aangenaam verras.

Ek groet jou, ouboeta Conrad – ’n mentor en baanbreker. En mag ons almal se lampies aanhou vir mekaar skyn!

Meer oor:  Conrad Sidego  |  Joernalis  |  Burgemeester  |  Sterfgeval
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.