Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
‘Ek het geweet dit was Henri’ – Teresa se vriendin

Nadat Henri van Breda Maandag skuldig bevind is aan die moord op sy ma, pa en broer, en aan poging tot moord op sy suster, het vriende en familielede van die gesin emosioneel gereageer.

Die hooggeregshof in Kaapstad het bevind dit was Henri, en nie ’n onbekende inbreker nie, wat sy pa, Martin, sy ma, Teresa, en sy broer, Rudi, op 27 Januarie 2015 met ’n byl in hul huis op die De Zalze-landgoed buite Stellenbosch vermoor het.

Martin en Teresa van Breda.

Ansie Buissinne, ’n vriendin van Teresa, sê sy het die uitspraak heeldag dopgehou.

“Die dag toe ek hoor wat met hulle gebeur het, het ek dadelik geweet dit was Henri,” sê Buissinne. “Ek het gesê as Henri nie skuldig bevind word nie, is my naam nie Ansie nie.

“Henri was altyd ’n eenkant kind,” sê Buissinne, wie se vier kinders byna net so oud as die Van Breda-kinders is. “Hulle (haar kinders) was mal oor Rudi en hulle kon nie genoeg van Marli kry nie, maar snaaks genoeg het Henri en my seun van dieselfde ouderdom nooit saam gespeel nie.”

Sy sê Rudi het in die jaar voor die moorde aan haar kinders gesê hy is bekommerd oor Henri. Rudi het glo gesê Henri gebruik dwelms.

Polisielede begelei ’n geboeide Henri van Breda Maandag na die hofselle nadat hy skuldig bevind is.Foto: Jaco Marais

Buissinne het die Van Breda’s sowat 20 jaar lank geken. “Al was ek reg dat hy skuldig is, het ek in my moederhart vandag empatie met Henri,” het sy ná die uitspraak gesê. “Maar ek het steeds woede in my hart dat hy Teresa-hulle van ons af weggevat het.”

Stefan van der Westhuizen, ’n vriend van die familie, het begin huil nadat regter Siraj Desai Henri skuldig bevind het.

Hy het die hof in trane verlaat en buite die deur vir Sonja du Toit, Henri se tannie en Teresa se skoonsuster, ’n drukkie gegee.

Hy het buite die hof eenkant gaan staan met sy hand teen die muur en sy emosies onder beheer probeer kry.

Hy sê hy het die familie kom ondersteun.

“Ek wou daar wees vir Henri en Marli. Ek is baie emosioneel. Ek is nie seker waar my emosies lê nie. Ek is gelukkig oor die uitspraak, maar mense het verskillende opinies.”

Daniella Janse van Rensburg, Henri van Breda se vriendin, verlaat Maandag die hooggeregshof in trane nadat Henri skuldig bevind is aan die bylmoord op sy ma, pa en broer, en aan poging tot moord op sy suster. Foto: Jaco Marais

Martin se broer André van Breda het nie die uitspraak bygewoon nie. “Ek voel baie emosioneel,” het hy ná die uitspraak telefonies aan Netwerk24 gesê.

“Ek is net bly dis alles nou verby. As ’n familie is dit ’n hartseer tyd, maar ek dink aan albei kante is ons net verlig dat dit nou verby is sodat almal kan aangaan met hul lewe.”

Nie André du Toit, Teresa se broer, of Narita du Toit, haar suster, wou kommentaar lewer op die uitspraak nie.

“Dis ’n persoonlike saak,” het Narita gesê.

Henri van Breda se vriendin van die afgelope twee jaar, Daniella Janse van Rensburg, het in trane by die hof uitgeloop nadat Henri geboei en na die hofselle gelei is.

Hy sal in die Pollsmoor-gevangenis se hospitaalafdeling aangehou word tot die volgende hofverskyning op 5 Junie.


MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.