Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
‘Ek is nou oor dit,’ sê Hesmarie ná krokodil-aanval
Hesmarie van Loggerenberg
Hesmarie van Loggerenberg Maandagmiddag in Swartruggens, Noordwes. Sy is Maandag uit die Job Shimankana Tabane provinsiale hospitaal in Rustenburg ontslaan, nadat ‘n krokodil haar verlede Woensdag byna opgevreet het. Foto: Susan van Loggerenberg.

Noem haar sommer Hessie van Helsdingen.

Hesmarie van Loggerenberg (15) het Maandag gesê sy is “nou oor” die krokodilaanval verlede Woensdag toe die gedierte se tande haar linkerbeen verskeur het.

Sy kry nie meer so baie terugflitse oor die aanval nie en slaap goed, het die dapper meisie telefonies gesê.

Sy is Maandag uit die Job Shimankana Tabane- provinsiale hospitaal in Rustenburg ontslaan nadat sy minder as ’n week gelede die dood – deur die bek van ’n krokodil – in die oë gestaar het. Hesmarie was byna krokodilkos toe die reptiel haar in ’n swemgat in die Elandsrivier in haar tuisdorp, Swartruggens, gegryp het.

Sy het agterna vertel dat sy in die vlak water geloop het toe sy op iets trap. Die volgende oomblik het die krokodil voor haar opgespring, haar aan die been gegryp en onder die water probeer intrek. Sy het teruggeveg, na bo geswem en om hulp geskree.

’n Paar mans wat in die omgewing woon, het die krokodil met klippe bestook en ’n stok na Hesmarie uitgehou. Sy het dit gegryp en is só nader na die kant getrek. Die krokodil het intussen sy greep laat los nadat Hesmarie wild na hom geskop het. Sy sê hoewel dit baie seer was terwyl die krokodil aan haar “begin eet” het, het sy aan een ding gedink: Sy moet oorleef.

Toe sy eers uit die water is, het sy in haar jeugdige wysheid besef dat sy “’n tweede kans gekry het”.

Sy was histeries en erg getraumatiseerd ná die aanval, het Cinda de Klerk, een van die mense wat op die toneel noodhulp op haar toegepas het, gesê. “Sy was so wit soos papier.”

Hesmarie van LoggerenbergFoto: Verskaf

Hesmarie het diep wonde aan haar linkerkuit, en sny- en bytwonde aan haar linker- en regterbobeen gehad.

Die wonde is met steke geheg nadat sy van Swartruggens na die hospitaal in Rustenburg oorgeplaas is. Sy kan nie sê presies hoeveel steke sy gekry het nie, maar “die dokter sê dis baie” het Hesmarie gesê.

Sy loop nou al op haar erg beseerde linkerbeen. “Die pyn is nie meer so erg nie.”

Hesmarie het sterk dosisse antibiotika teen infeksie gekry en tot dusver is daar nog geen teken van infeksie nie, sê haar ouma, Susan van Loggerenberg, ’n gekwalifiseerde verpleegster.

Hesmarie se ma, Hester, is drie jaar gelede aan kanker dood.

Daar was vrese van senuweeskade in haar linkerbeen, sê Hesmarie, maar sy het nou volle gevoel terug in haar been nadat dit ’n dag of wat ná die aanval dood gevoel het. Sy moet egter steeds vir opvolgbesoeke en skanderings hospitaal toe gaan.

Susan sal Hesmarie se wonde nou tuis versorg. Intussen oorweeg sy stappe omdat krokodille al ’n geruime tyd in die omgewing gesien word. “Niks is daaraan gedoen nie, ook nie aan stories dat die krokodille uit ’n nabygeleë krokodilplaas ontsnap het nie.”

Hesmarie van Loggerenberg en haar ouma, Susan, in die hospitaal nadat die krokodil haar aangeval het.Foto: Verskaf

Intussen soek amptenare van die departement van ekonomiese ontwikkeling, omgewingsake, bewaring en toerisme in Noordwes steeds na die krokodil wat haar aangeval het.

Dumisa Seshabela, departementele woordvoerder, het gesê krokodille kom nie normaalweg in die Elandsrivier voor nie en dat die departement bewus is van die plase in die omgewing waar krokodille aangehou word.

Die departement beplan ook om waarskuwingsborde in die omgewing op te rig om die plaaslike gemeenskappe te waarsku dat daar krokodille kan wees.

Enigiemand wat ’n krokodil gewaar, word gevra om Vasti Botha, ’n dierebeheerspesialis, by 083 761 7497 te bel of die polisie in kennis te stel.

Hesmarie se linkerbeen kort ná die aanval.Foto: Verskaf

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.