Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
‘Ek is uitgestamp,’ sê Matie ná val uit koshuisvenster
Taylië Jaap

Die Matiestudent wat ernstig beseer is toe sy in Mei by ’n venster van die Serruria-koshuis in Stellenbosch uitgeval het, beweer dat ’n medestudent haar met opset uitgestamp het.

Taylië Jaap (19), ’n BSc-student in haar eerstejaar aan die Universiteit Stellenbosch (US), beweer nou dat haar val van 7 m op 26 Mei geen ongeluk was nie.

Jaap, wat onlangs vanaf die Tygerberg-hospitaal se hoësorgeenheid na die Karl Bremer-hospitaal in Bellville oorgeplaas is, het die naweek haar stilte verbreek en eksklusief aan Netwerk24 gesê ’n medestudent het haar uit jaloesie by die venster uitgestamp.

“Die persoon wat my gestamp het, het gesê ek is mooier as sy en my punte is beter,” sê Jaap.

Die persoon wat my gestamp het, het gesê ek is mooier as sy en my punte is beter.
Met Netwerk24 se besoek aan die hospitaal wou Taylië Jaap nie afgeneem word nie. Samuels het wel dié foto van haar aangestuur. Foto: Verskaf

Die naam van die student wat geïmpliseer word, is bekend aan Netwerk24, maar sy reageer al etlike dae nie op versoeke om kommentaar te lewer nie.

Volgens Jaap is die bewerings deur een van haar broers dat sy gespring het toe sy ’n visioen van haar oorlede ma gesien het, onwaar. 

Jaap, wat in 2018 hoofmeisie van die Schoonspruit Sekondêre Skool in Malmesbury was, sê sy het die betrokke Saterdagaand om middernag teruggekom by die koshuis nadat sy en ’n maat in die Neelsie-studentesentrum vir die eksamen studeer het.

Sy is na ’n kamer in die koshuis, waar sy en ’n mede-student vroeg die Sondagoggend aan die stry geraak het. Die voorval was nie in Jaap se kamer nie.

Sy sê hulle het mekaar se hare begin trek. Jaap beweer sy is toe by die koshuiskamer se venster uitgedwing wat tot die val gelei het.

“Ek kon dood gewees het en dít as gevolg van jaloesie. Dit is só ’n selfsugtige ding om te doen,” sê Jaap. Sy en haar ouer broer, Brenvan Samuels (35), hou vol daar was geen drank, dwelms of ander middels by die voorval betrokke nie.

Jaap het uit die middelste venster van die tweede verdieping geval. Die venster was glo nie gebreek nie.Foto: Jaco Marais

Jaap het ’n skedelfraktuur en breinbeserings opgedoen en daar is aanvanklik vir haar lewe gevrees. Bloeding op haar brein is vroeër in die Tygerberg-hospitaal gedreineer.

Jaap en Samuels voor die voorval.Foto: Verskaf
Dit gaan nou beter met my, ek kan al self loop.

“Dit gaan nou beter met my, ek kan al self loop,” sê  sy. 

Sy sukkel om uit haar linkeroog te sien en sy verduur steeds pyn.

Omdat sy ’n geruime tyd in die hospitaalbed gelê het, het haar spiere verswak en sy het gesukkel om te loop. Nadat sy fisioterapie ontvang het, is sy nou al in staat om saam met susters op hul saalrondes in die hospitaal te loop.

Jaap sê sy het al ’n paar van die ander pasiënte leer ken en selfs vriende gemaak. Sy geniet dit om saam na die ander pasiënte te gaan en bied haar hulp aan met klein takies.

“Dit hou my besig, dit maak my kop skoon.”

Jaap sê sy gaan nie vanjaar terug na die universiteit om haar studies voort te sit nie.

“Ek gaan die tyd gebruik om mooi en vinnig te herstel.” Sy sê indien sy goed genoeg herstel, sal sy moontlik volgende jaar weer studeer.

“Die dood is iets wat vir ons almal kom. Dit was darem nog nie my tyd nie.”

Volgens Samuels het hul gesin van die begin af vermoed dat sy uitgestamp is. Hy sê sy broer wat die storie oor die visioen aan Netwerk24 vertel het, het dit by die student gehoor wat volgens Jaap vir die stamp verantwoordelik was.

Hy sê hulle gaan ’n saak by die polisie aanhangig maak en wil hê dat geregtigheid geskied, “maar Lalla moet eers gesond word, ons wil haar nie nou verder ontstel nie”.

Intussen ondersoek die polisie steeds die voorval, al het Jaap nog nie ’n klag ingedien nie.

“Die universiteit is nie in ’n posisie om kommentaar te lewer oor die voorval nie,” sê Martin Viljoen, US-woordvoerder. “Maar die US gee sy volle samewerking in die ondersoek.

“Die ondersteuning van die sentrum vir studentevoorligting en ontwikkeling is steeds vir alle betrokkenes beskikbaar.”

Meer oor:  Taylië Jaap  |  Stellenbosch  |  Koshuis  |  Student  |  Val
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.