Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
‘Ek kan nie my beste vriend los nie’

Toe Ethan Martins (14) van Krugersdorp hoor sy gesin immigreer Nieu-Seeland toe, wou hy dadelik weet wat van sy hond en beste vriend, Leo, sou word.

Ethan se pa, Adriaan, het vir hom verduidelik dit kos tienduisende rande om ’n hond saam te trek en dat hul gesin se emigrasie sy eerste prioriteit is. Leo moet waarskynlik in Suid-Afrika agterbly.

Ethan Martins met sy beste vriend, Leo. Foto: Elizabeth Sejake

Maar Ethan het net daar besluit Leo móét saamgaan. Ethan sê Leo is die beste vriend wat hy nog gehad het, saam met wie hy “net so stout is soos seuns gewoonlik is”.

Die jong entrepreneur het wasgoedpennetjies begin verkoop en by sy pa se heuningstalletjie by vlooimarkte begin help.

Ethan se desperaatheid het party mense so geroer dat WhatsApp-boodskappe oor sy poging om geld in te samel vir sy hond die ronde begin doen het. Een vrou skryf: “Hy tree baie meer verantwoordelik op as baie volwassenes. Hy het regtig my hart aangeraak.”

Die gesin het Leo gekry toe Adriaan ’n jaar gelede op Facebook sien iemand soek ’n huis vir ’n verwaarloosde hondjie van Maraisburg, Roodepoort, wat van tee en droë brood geleef het. Die gesin het Leo eers net tydelik versorg, maar toe kruip hy diep in hul harte in.

Ethan, wat in gr. 8 aan die Hoërskool Noordheuwel in Krugersdorp is, dink lankal reeds aan sy toekoms. “Ek wil my eie brand begin, Hype Life.” Hy vlieg van die bank af op, waar Leo by hom sit, en kom terug met ’n T-hemp waarop sy handelsmerk pryk.

Eintlik wil hy ’n fisioterapeut word, gesels hy, maar as hy dié onderneming kan laat werk, is entrepreneur beslis sy eerste keuse.

“Ek het opgesoek, Nike het in ’n motorhuis begin. Ek dink dit is hoe ’n mens suksesvol raak. Die meeste van my vriende dink aan die nóú.” Maar nie hy nie.

Behalwe natuurlik wat Leo betref. Die tyd loop uit vir die seun en hond. Die aanvanklike raming was dat dit R23 500 sou kos vir Leo om te emigreer. Ethan se ouers, Adriaan en Carrie-Anne (34), het gesê as hy die helfte van die geld bymekaar kan maak, sal hulle die res betaal.

Maar verlede week het hulle die finale kwotasie gekry: dit sal kort duskant R40 000 kos.

Adriaan vertrek reeds oor twee maande, en die res van die gesin volg oor vyf. Die pa is moedeloos.

“Ons moed is maar bietjie laag. Soos sake staan is dit nie doenbaar nie. Ek dink ons gaan eerder vir hom ’n liefdevolle huis vind,” sê Adriaan. Ethan is egter nog ver van moed opgee.

Hy kry nie sakgeld nie, maar hy word beloon as hy take in die huis verrig, soos skottelgoed was. “Enige geld wat ek kry, spaar ek,” sê hy.

Hy het al ’n paar honderd rand gemaak, maar nadat mense van sy storie gehoor het, het hulle Saterdag by ’n mark in Walkerville op een dag R600 gemaak. Dit het hom weer hoop gegee.

“Ek dink vir ’n weggooihondjie van Maraisburg om ’n kans te kry, is ’n storie op sy eie,” sê Adriaan.

Intussen raak die band tussen Ethan en Leo al hoe sterker. Wanneer die bussie smiddae ná skool voor die hek stilhou, begin Leo al sy stert wikkel. Hulle twee gaan stap elke middag en in die parkie haal hy Leo se halsband af en hardloop hulle saam.

jana.smit@rapport.co.za

Meer oor:  Hond  |  Emigrasie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.