Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
‘Ek maak jou dood soos George Floyd’

’n Pulmonoloog van Midrand sê toe hy verlede Saterdag aangerand is, na bewering deur Tshwane-metropolisielede, was dit die enigste keer in sy lewe dat hy werklik hulpeloos gevoel het.

Dr. Emannuel Taban: “Nóg Addis nóg die Lebomborivier se seekoeie het my so hulpeloos laat voel.” Foto: ELIZABETH SEJAKE

Dít komende van ’n man wat Suid-Soedan op die ouderdom van 16 te voet vir Suider-Afrika verruil het. “Die reis het meer as twee jaar geneem. In dié tyd het ek op straat saam met die straatmense van Addis Abeba gebly. Nóg Addis nóg die Lebomborivier se seekoeie het my so hulpeloos laat voel,” sê dr. Emannuel Taban (42).

Verlede naweek moes hy ’n Covid-19-pasiënt by die Midstream Mediclinic te hulp snel.

“Een van my kollegas was verlede naweek op bystand, maar daar het iets met sy selfoon verkeerd gegaan en toe bel die hospitaal my om te gaan help.” Die pasiënt moes aan ’n ventilator gekoppel word.

“Ek is seker so 04:30 Saterdagoggend huis toe ná my skof en het tot so 10:30 geslaap. Ek was bekommerd oor die pasiënt en ek en my vrou het saam Mediclinic toe gery.”

‘Hulle het haar ’n prostituut genoem.'

Die Taban-egpaar het skuins voor 14:00 Saterdagmiddag met ’n agterpad hospitaal toe gery.

“Naby Rietvlei het ek ’n vragmotor verbygesteek. Ses TMPD-lede – vier mans en twee vroue – het ons afgetrek. Hulle het gesê ek het te vinnig én roekeloos en nalatig bestuur.” Hy het sy rybewys aan een van die beamptes oorhandig. “Ek het vir hulle gesê ek werk met positiewe Covid-19-gevalle en gevra of ek my fisieke afstand mag hou, waarop hulle geweier het en gesê het ek is in hegtenis geneem.”

Hy sê die beamptes het Noord-Sotho of Tswana gepraat. “My vrou, Motheo, is ’n Pedi. Sy vra toe hoekom hulle so aggressief met my is. Hulle het met haar rusie gemaak. Ek kon een woord herken, ’n neerhalende term wat plaaslike mense vir buitelanders gebruik,” sê Taban, wat ’n Suid-Afrikaanse burger is.

Die beamptes het glo toe gesê hy moet met sy eie voertuig na die Lyttelton-polisiekantoor toe ry en hulle sou volg. “Toe ons in die kar klim, vertel Motheo my hulle het haar ’n prostituut genoem wat met uitlanders slaap. Ek klim toe uit en neem foto’s en video’s van die TMPD-voertuig se nommerplaat. Dít was nie wat hulle wou gehad het nie.” Hy is geboei en in die TMPD-voertuig gelaai. “Toe ek met my hande agter my rug geboei was, het een van die beamptes my aan die keel gegryp en gewurg. Hy het gesê hy gaan my soos George Floyd doodmaak.” Hy skud sy kop.

Dr. Emmanuel Taban tydens sy aanhouding.

“Sowat vyf minute later sit dieselfde man langs my op die agtersitplek en kyk ’n videoboodskap van sy klein dogtertjie asof niks gebeur het nie.” Die beamptes het die egpaar se selfone afgevat. “Hulle het my vrou grond toe gestoei om haar selfoon te kry. My selfoon het sy skelm uit my sak gehaal en aan haar lyf weggesteek, maar hulle het dit ook gekry. Toe vee hulle al ons foto’s en video’s uit.”

Taban is in die Lyttelton-polisiekantoor aangekla van roekelose en nalatige bestuur en die aanranding van ’n polisiebeampte. “Al die klagte is laat vaar. Ek het met my prokureur gekonsulteer. Ons gaan môre self by die polisie ’n klag van aanranding indien.”

In Februarie het TMPD-lede ’n afgetrede regsdosent van Unisa, prof. André Thomashausen, naby sy huis in Irene, Centurion, in hegtenis geneem en ure aangehou. Die saak teen hom is later van die hofrol geskrap.

In Desember het metropolisielede ’n kleuterskooljuffrou, Kymie du Toit, laatnag probeer aftrek, maar sy het na ’n vulstasie in Moreletapark, Pretoria, gery, waar beamptes haar voor ’n kringtelevisiekamera uit haar kar gesleep en met geweld geboei het. Die klagte teen haar is laat vaar.

Sr.supt. Isaac Mahamba, TMPD-woordvoerder, sê hulle wag dat Taban ’n amptelike klag teen die beamptes indien.

“Sodra die polisie die dossier vir ons gestuur het, sal ons eie interne ondersoek kan begin.”

Oor die ondersoeke na die Thomashausen- en Du Toit-voorvalle het hy gesê: “Dié ondersoeke gaan nog aan. As die interne dissiplinêre proses afgehandel is, sal ons die uitslag daarvan bekend maak.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.