Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
‘Ek moet lewe,’ al wat meisie dink toe krok hap

“Ek lewe, ek het ’n tweede kans gekry.”

Dis die gedagtes wat deur Hesmarie van Loggerenberg (15) se gedagtes gemaal het toe sy met gapende wonde aan albei haar bene uit ’n krokodil se kake gered is. Die krokodil het haar Woensdagmiddag in ’n swemgat in die Elandsrivier in Swartruggens, Noordwes, gegryp toe sy in die vlak water op hom getrap het.

Sy het Vrydag telefonies uit haar hospitaalbed in die Job Shimankana Tabane- provinsiale hospitaal in Rustenburg vertel sy kan steeds haar erg beseerde linkerbeen verloor indien sy infeksie kry of die senuweeskade te erg is.

“Ek worrie nie te veel daaroor nie, want ek lewe. My been was aanvanklik morsdood, maar ek kan hom nou voel en dis baie seer.”

Hesmarie van Loggerenberg en haar ouma, Susan van Loggerenberg, Vrydag in die Job Shimankana Tabane- provinsiale hospitaal in Rustenburg waar sy verpleeg word. Foto: Verskaf

Hesmarie kon sedert haar worsteling met die dood nog nie weer slaap nie omdat sy die oomblik toe die krokodil haar in die water getrek het, oor en oor voor haar geestesoog sien afspeel.

“Toe ek op die krokodil trap, het hy voor my opgespring, my een been gegryp en begin eet.” Hesmarie sê hoewel sy dadelik die pyn gevoel het, was haar grootste bekommernis op daardie oomblik dat sy moes leef. “Ek het na bo geswem terwyl die krokodil my probeer aftrek het. Ek het hom met die een been geskop, maar toe gryp hy weer die ander een. Ek het baie geskree.”

Hesmarie se maats het dadelik hulp gaan kry by volwassenes in die omtrek. Verskeie mans het hierna saam gewerk om haar uit die water te kry. Hulle het die krokodil met klippe gegooi en een van die mans, Nelson Harmse, het ’n stok na Hesmarie uitgehou. Sy het daaraan gegryp. Harmse het haar aan dié stok uitgetrek, terwyl die ander mans haar nader aan die wal aan haar arms uitgetrek het.

Hesmarie van LoggerenbergFoto: Verskaf

Hesmarie vertel toe sy uit die water kom en die wonde aan haar bene sien, het sy geskrik. Daar was ’n groot gat in haar linkerkuit en diep byt- en snywonde aan haar linker- en regterbobeen. Nadat sy noodhulp op die toneel gekry het, is sy eers by ’n plaaslike hospitaal behandel, waarna sy na die hospitaal in Rustenburg oorgeplaas is. Haar wonde is sedertdien onder narkose skoongemaak en sover moontlik met steke geheg.

Die linkerbeen is vir eers in gips en sy mag hom nie te veel beweeg nie, sê Hesmarie se ouma, Susan van Loggerenberg. Sy en twee van Hesmarie se tantes is by haar in die hospitaal. Hesmarie se ma, Hester, is drie jaar gelede aan kanker dood.

“Die skok van die krokodilaanval tref ons nou eers behoorlik,” vertel Susan. “Ons is net so dankbaar teenoor al die mans wat gehelp het om Hesmarie te red, want sonder hulle sou sy dood gewees het.” Susan sien nou selfs kans vir ’n grappie: “Die krokodil moes Hesmarie eerder aan haar ore gegryp het sodat dit kon oopgaan en sy begin luister.”

Intussen soek die departement van ekonomiese ontwikkeling, omgewingsake, bewaring en toerisme in Noordwes sedert die aanval nog onverpoos na die krokodil wat Hesmarie aangeval het.

Hesmarie van Loggerenberg Woensdag langs die Elandsrivier by Swartruggens nadat die krokodil haar gegryp het. Haar gesig is verberg op dié foto wat op ’n plaaslike noodgroep versprei is. Foto: Verskaf

Dumisa Seshabela, departementele woordvoerder, het Vrydagmiddag gesê hulle het ’n spesialis in die beheer van diere, asook biodiversiteitsbewaringsamptenare daarheen gestuur. “Ons vrees die krokodil hou ook ’n gevaar vir ander inwoners naby die rivier in. Indien die krokodil/le gevang word, sal hulle waarskynlik na ’n plek verskuif word waar hulle nie ’n gevaar inhou nie.”

Verskeie inwoners vertel krokodille word al geruime tyd in die omgewing van die rivier gewaar en dat hulle vermoedelik by een of meer krokodilplase in die omgewing uitgekom het.

Seshabela sê hulle is bewus van die plase in die omgewing en ondersoek nou waar die krokodille moontlik vandaan kom. “Die gereg moet nou sy loop neem. Ons wens Hesmarie ’n spoedige herstel toe.”

Die departement is ook besig om waarskuwingsborde in die omgewing op te rig om plaaslike gemeenskappe te waarsku teen die moontlikheid van krokodille. Enigiemand wat ’n krokodil gewaar, word versoek om Vasti Botha, ’n dierebeheerspesialis, by 083 761 7497, of die polisie te bel.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.