Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
‘Ek sal jou nooit vergewe nie,’ skryf pa glo ná dogter eie lewe neem

“Ek hoop jy is nou gelukkig en tevrede dat jy so mooi na my dogter omgesien het ek sal jou nooit vergewe nie.”

Dis een van die boodskappe wat Chris Luus ontvang het van sy vriendin se pa nadat sy haarself glo opgehang het terwyl hulle in die Drakensberge vakansie gehou het.

Chris Luus praat oor sy vriendin. Foto: Elizabeth Sejake

Annel Snyman (38) is aan die badkamerdeur aan ’n rekverband opgehang.

Luus sê hy het die hele nag ná Snyman se dood “gehuil en gebid” en eers die oggend net voor 07:00 haar ouers gebel om vir hulle die tyding te gee.

Terwyl hy met haar ma, Antoinette, oor die telefoon gepraat het, het hy haar pa, Hennie, in die agtergrond hoor sê hy gaan hom kom doodmaak.

Die twee dae ná Annel se dood het Hennie vir hom nog selfoonboodskappe gestuur wat lui: “Jy slaap lekker. Jou tyd kom,” en “Annel se dood lê ek voor jou deur. Ek sal nie rus nie”.

Antoinette ontken haar man het gedreig om Luus te gaan doodmaak. “Hy jok.” Antoinette sê hulle is gebroke oor Annel se dood. “Oom Hennie is 70, hy loop met ’n kierie, so as hy (Luus) nou bang wil wees . . . dis ’n pa wat stukkend is, wat gebroke is. Dis ’n pa wat sy dogter verafgod het.” Snyman se familie laat ’n private lykskouing doen.

Luus sê Annel, wat aan die outo-immuunsiekte lupus gely het, het baie seer in haar lewe weggesteek met ’n glimlag en ’n grappie, maar sy was baie bekommerd oor onderlinge struwelinge oor die familieplaas. Die plaas, Loebiespark buite Bela-Bela, behoort aan Hennie. Sy het daar na roofdiere omgesien en haar ma bedryf ’n gastehuis op die plaas.

Luus erken hulle het die aand voor haar dood by die Cayley Mountain Resort woorde gehad. Hy sê sy het gaan bad terwyl hy op die stoep gesit het. Hy het daarna gaan stort en toe hy uit die badkamer kom, was Luus weg. “Toe bel ek haar sewe keer. Ek het by die voordeur uitgeloop en haar by my bakkie sien staan.”

Hy sê Luus het gesê sy het haar selfoonlaaier gaan haal. Hulle stry toe oor waarom sy nie haar foon beantwoord het nie.

“Ná ’n lang storie het ek vir haar gesê om rustig te raak en gesê ons moet gaan slaap. Ek het vir haar koffie gemaak en op ’n hangmat buite gaan lê, terwyl ek gewag het dat sy by my aansluit.”

Hy sê hy het aan die slaap geraak en toe hy wakker word, het hy op haar lyk afgekom. “Ek het die verband losgesny en haar op die bed neergesit.”

Al het hy nie kennis van mond-tot-mond-asemhaling nie, het hy 10 tot 20 minute gespook om haar by te bring, sê hy. Hy het uiteindelik 23:00 die nag hulp ontbied.

Die polisie ondersoek nog die oorsaak van Annel se dood.

Antoinette het Dinsdag aan Rapport gesê sy kan dink wat sy wil, maar nie sê wat sy wil nie.

“Dit brand ons, want ons het nie uitsluitsel nie. Wanneer hulle vir my sê dít is die feite, sal ek sê hoe ek voel. Ek wonder ook net wat het gebeur.”

Meer oor:  Annel Snyman  |  Chris Luus  |  Selfdood
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.