Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
‘Ek sal nie aan meisie slaan’

’n Randfonteinse seun wat vroeër die week herhaaldelik deur ’n meisie in gr. 10 met die vuis in die gesig geslaan is, sê hy en dié meisie se vriendin was vroeër gekys.

Branden van Niekerk sê hy was nooit bang vir die meisie wat hom geboelie het nie, maar Dinsdag het gevaarlik geraak toe sy hom aanrand. Foto: Elizabeth Sejake

Die 15-jarige Branden van Niekerk, ’n gr. 9-leerling aan die Hoërskool Jan Viljoen in Randfontein aan die Wes-Rand, sê dit is waarskynlik die rede vir die aanranding, omdat die meisie “nogal aggressief raak as iemand haar maatjie laat sleg voel”.

’n Ontstellende selfoonvideo van die voorval, waarin gesien kan word hoe die meisie, geklee in haar skoolklere, die jonger Branden uittart en vloek voordat sy hom twee keer met die vuis slaan, het die afgelope week landwyd opslae gemaak.

“Hoekom is jy bang vir my, Branden? Hoekom is jy bang vir my? O wag, want ek is ’n half-Porra,” sê die meisie.

’n Seunstem skree dan: Wys vir hom hoekom hy moet bang wees vir jou, wat is dit dan met jou?

Daarop slaan sy hom met die regtervuis in die gesig.

“Jirre, moenie vir my f*kken buk nie,” sê sy as hy koes vir haar hou en slaan hom weer terwyl sy hom ook as ’n “f*kken klein p**s” uitvreet.

Dit was ’n aan-en-af kys.

Branden, wat glad nie antwoord op haar tirade nie, hou dan sy hand voor sy gesig waar sy hom geslaan het.

“Vat weg daai hand, vat weg daai (onduidelik) hand,” sê sy. As Branden sy hand laat sak, slaan sy hom weer hard met ’n regter vol in die gesig. Hy sak dan op sy knieë en sy sê vir hom: “Kom, moet nou nie huil nie. Kom, kom, moenie huil nie.”

Reg deur die video kan jy kinders in die agtergrond hoor gesels. Links sit ’n meisie op ’n seun se skoot en albei hou die geveg amper onbelangstellend en emosieloos dop, minder as twee meter van waar Branden teen die skoolheining ineensak en huil voordat sy aanvaller selfvoldaan omdraai en wegstap.

Die 15-jarige Branden en sy aanneemma, Martie Muller, het die afgelope week vir Rapport vertel wat gebeur het. Muller het Branden aangeneem toe hy drie maande oud was. Hy noem haar “Ouma”.

Muller sê sy weet glo al lank die meisie boelie vir Branden. Die meisie se naam is aan Rapport bekend, maar word weerhou omdat sy minderjarig is en strafregtelike klagte in die gesig staar.

Só is Branden van Niekerk deur ’n ouer meisie aangerand.

Sy sê dis ook nie die eerste keer dat sy aan Branden klap, stamp of hom slegsê nie.

Branden, met ’n rooi keps met die woorde “Bully Buster” en “Muscles 4 Jesus” daarop, sê die geboelie het begin nadat hy begin het om ’n maat van die meisie te “date”.

Die meisie is in gr. 8, ’n jaar jonger as hy en twee jaar jonger as sy aanvaller.

Dit was ’n aan-en-af kys en hy het haar verlede week afgesê.

Hy sê Dinsdag omstreeks 11:00 (hulle kan tydens die eksamen vroeër huis toe gaan) het ’n groot groep kinders, onder wie sy eksmeisie, buite die skool gestaan. Hy het ’n briefie wat hy vir sy eks geskryf het, by hom gehad en het dit vir haar gegee.

Die ouer meisie het die briefie gegryp en sy eksmeisie het weggehardloop. Toe takel die ouer meisie hom.

“Ek was gekroek,” sê Branden. Hy sê hy is doelbewus na die groep gelok omdat hulle geweet het die boelie gaan hom konfronteer en slaan.

“Ek sou in elk geval nie ’n meisie terugslaan nie. Ek sal ook nie haar vloekwoorde gebruik nie, want ek is versigtig vir sulke goed.”

Branden sê die rede waarom hy nie teruggeslaan het nie, is nie dat hy bang is vir haar nie.

“Maar ek was regtig bang vir die ander seuns. Dít kan gevaarlik wees, want sulke ouens kan jou doodslaan.”

Muller sê sy gebruik glad nie Facebook nie en haar dogter het die video later die middag vir haar gewys.

“Ek was in trane. Ek was eintlik naar. Ek het eers so teen Donderdagaand weer iets geëet.

“Ek kan dit nie hanteer as die kind só seerkry nie. En so in die openbaar. Dit breek my hart.”

Muller het vir Branden aangeneem omdat hy swaargekry het. Sy ouers leef, maar is met drank en dwelms deurmekaar. “Hy sien hulle nie meer nie.”

Die pa van die gr. 10-meisie het die afgelope week aan Rapport gesê hy is nie “heeltemal bewus” van wat Dinsdagmiddag tussen die kinders gebeur het nie.

“Ek is besig om ’n verskoning te skryf wat ek saam met my dogter op sosiale media gaan plaas. Ek het die video gesien en ek is ontsteld. Ek het nie my kind só grootgemaak nie.”

Op ’n vraag of hy dink sy dogter het verkeerd opgetree het hy vroeër die week aan Netwerk24 gesê: “Aan die een kant ja, en aan die ander kant nee.”

Hy sê sy dogter het Vrydag twee sielkundiges gaan besoek en Dinsdag sien sy ’n derde.

“Ek wil weet wat fout is.”

Sy is intussen vir ’n week uit die skool geskors hangende ’n ondersoek en dissiplinêre verhoor.

Die meisie en haar ma het intussen hul Facebook-profiele gesluit nadat vreemdelinge hulle begin slegsê het.

Branden en sy ouma het ’n klag van aanranding teen haar ingedien.

Sarel Steyn, skoolhoof, sê hy gaan nie kommentaar lewer terwyl die ondersoek en dissiplinêre proses aan die gang is nie.

Meer oor:  Randfontein  |  Aanranding
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.