Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
‘Ek was daai hele nag toe Magnus se vrou’

Hy is vandag oorbeskermend teenoor sy twee kinders.

Hy vertel hoe hy in sy alledaagse lewe, selfs by die kerk, ingestel is op kinders se welstand.

Mnr. X sê nie eens sy vrou van die afgelope 20 jaar weet van sy geheim nie.Foto: LULAMA ZENZILE

“Ek weet wat die gevaartekens van seksuele mishandeling is. Kinders wie se persoonlikhede verander. Gelukkige kinders wat ongelukkig lyk en word. Ons kerkmense vra altyd hoe kan ek so vinnig optel as daar fout is in ’n kind se lewe. Ek kan nie vir hulle sê dat ek self daardeur was nie.”

Só sê mnr. X, die man wat na vore gekom het ná die publikasie vroeër die week van die boek Seuns van Bird Island deur Mark Minnie en Chris Steyn waarin skokkende bewerings oor ’n pedofielnetwerk en drie vooraanstaande mans (almal reeds oorlede) gemaak word. Nog ’n oudminister, wat nog lewe, was glo ook betrokke, maar word om regsredes nie in die boek geïdentifiseer nie.

Mnr. X begin vertel van die aand toe die blou Kombi hulle agtervolg het. Hoe hulle probeer het om weg te weghardloop. Sy vriend Jasper* het weggekom. Mnr. X het egter in ’n doodloopstraat beland.

Hy sê een van die mans het hom aan sy hare gegryp en hom begin klap. Hy is in die Kombi gegooi. Sy hande is geboei. In die Kombi was daar nog vier ander seuns.

Mnr. X vertel die seuns agter in die Kombi het gesê hulle moet hul “bekke hou” toe hy en die ander seun wat by hom gesit het begin huil.

Hy sê die Kombi het in Mountweg opgery, verby die Louis le Grange-polisiekwartiere. In Kaapweg het die Kombi saam met nog ’n voertuig, wat glo bygekom het, by ’n vulstasie stilgehou.

“Die oom wat my gevang het, het uitgeklim. Ek het probeer om die kans te kry om weg te hardloop.”

Hy sê ’n ander man wat uit die tweede voertuig geklim het, het hom egter gevang.

Terug in die Kombi is hy drank ingejaag. “Ek het nie ’n keuse gehad nie. Iemand het my lugpyp vasgedruk en ek moes sluk.”

Een van mnr. X se ontvoerders het glo ook ’n vuurwapen teen sy sy gedruk. Hy het later in die weermag besef daardie vuurwapen was ’n .38 Special.

Mnr. X sê hy het kort-kort sy bewussyn verloor.

Dis tydens een van die besoeke dat ek hom gesien het. Ek was kwaad en wou hom konfronteer, maar het nie geweet hoe nie.

Hy het die volgende oggend wakker geword. In ’n bed, kaal. Die son was reeds op. Sy hande was nog steeds vasgemaak.

Langs hom het ’n ouer man gelê en snork. Wit. Kaal. Mnr. X noem die man “oom Een”.

“Ek het histeries geword en begin huil. Ek kon nie regop sit nie. Dit was pynlik.”

Twee van die mans wat in die Kombi was, het toe glo ingekom. Die een het hom glo weer begin klap. “Ek het gesê ek het niks gedoen nie. Hy het gesê ek moet my bek hou en dat ek moet gaan bad.”

Volgens mnr. X kon hy nie reg loop nie. In die badkamer het hy gevra dat sy hande losgemaak word. “Ek het gesê ek sal nie so kan was nie.”

Terwyl hy in die bad was, het oom Een ingekom en glo oor sy kop begin streel. “Hy het my gevra of ek orraait is. Ek het nog gewonder hoe hy my dit kan vra ná wat hy gedoen het.”

Oom Een het volgens mnr. X weer op die bed gaan lê. “Hy het my geroep en gesê ek moet langs hom kom lê. Ek het geweier.” Dit was glo toe dat oom Een na die man met die vuurwapen roep. Dié het hom weer met die vuurwapen gedreig, waarna hy langs oom Een gaan lê het.

Die oom het hom toe daarna begin betas. Hy het glo ook gevra dat mnr. X ’n seksuele daad met hom pleeg. “Ek het ge­weier. Die oom het my die wêreld belowe.”

Die man het mnr. X toe glo aan sy hare gegryp en sy kop ondertoe gedwing. “Hy het vir my gesê hy kan my maklik laat doodmaak. Sy presiese woorde was: ‘Jy wil nie weet wat maak ons met outjies soos jy wat nie luister nie.’ Ek het hom toe gemasturbeer.”

Mnr. X sê in dié tyd het die oom heeltyd sy kop gestreel. “Ek was ’n tiener; ek het geweet van die goed, maar nooit gedink ek sal in ’n situasie wees waar ek dit oorkom nie.”

Die mishandeling het volgens hom tot ten minste die namiddag geduur. Die middag is hy deur iemand kom haal om te kom eet. “Ek het nog nooit sulke lekker en so baie kos gesien nie.”

Ek het nog nooit sulke lekker en so baie kos gesien nie.

Daar was volgens hom nog seuns in die huis.

Ná middagete het ’n tweede oom hom kom haal. “Die oom het gesê hy het gehoor ek is so lekker.”

Hy sê hy is daardie Saterdagnag heelnag deur Magnus Malan misbruik. “Ek was sy vrou daai nag.”

Mnr. X het in 1991, toe hy by die weermag aangesluit het, eers werklik besef wie die man, oom Twee, was wat hom na bewering verkrag het.

“Ek het nooit persoonlike kontak met hom (Malan) gehad nie, maar hy was gereeld in Port Elizabeth by die Kommandement OP waar ek gestasioneer was. Dis tydens een van die besoeke dat ek hom gesien het. Ek was kwaad en wou hom konfronteer, maar het nie geweet hoe nie.”

Hy sê hy het ook al briewe geskryf vir Malan, maar dit nooit gestuur nie. “Ek was bang vir die verleentheid.

“Ek het hulle vergewe. Vergeet sal ek egter nooit.”

* ’n Skuilnaam is gebruik om die man se identiteit te beskerm.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.