Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
‘Ek werk eerder by die huis en kietsie’

Meer as een uit elke vyf mense sal eerder tuis saam met hul troeteldiere werk as op kantoor saam met hul kollegas.

Snippy en Jackie kom vra gereeld vir Julian Jansen vir aandag of ’n stappie in die buurt.

’n Dier is iets waarop ’n mens jou liefde kan uitstort, sê Juliana Coetzer, psigoterapeut en skrywer, oor die rol wat diere in veral die inperkingstyd in mense se lewe speel. “En dan is daar die absolute, onvoorwaardelike liefde wat jy terugkry. Daai dier is áltyd bly om jou te sien. Ek dink die mens voel baie spesiaal, hy voel geliefd en waardeer wanneer ’n dier daai toeganklikheid openbaar en ook vir hom wys hoe bly hy is dat sy eienaar huis toe gekom of wakker geword het.”

’n Studie deur die Amerikaanse veeartsgroep Banfield Pet Hospital wys meer as 20% van mense verkies tuiswerk saam met hul troeteldiere eerder as om kantoor toe te gaan. Dié uitslag is in Mei gepubliseer, maar word opnuut opgehaal omdat Oktober die internasionale maand vir bewusmaking oor geestesgesondheid is. Altesame 45% van die respondente het gesê hul hele huishouding se geluksvlak het gestyg toe hulle meer tyd saam met hul diere bestee het tydens inperking. Die studie is onder duisend troeteldiereienaars gedoen.

“Vir my is die een waarde van ’n dier dat hy help teen isolasie en afsondering en alleenheid. Jy kry mense wat gewéldig alleen is en ’n dier help eintlik ontsettend baie dat daardie mens nie uitgesluit of alleen voel nie,” sê Coetzer. “Ek sien hoe mense sagter word . . . In ’n gesin kan ’n troeteldier ’n gedeelde belangstelling gee.”

Waldimar Pelser, Rapport se redakteur, werk buite wyl Anouk (links) en Olaf hom geselskap hou.

Dit leer ook dissipline, sê sy, want daardie dier moet elke dag gevoer en versorg word, en dit verminder stres, want wanneer jy by die huis kom “en hier kom jou hond aangegalop na jou toe en hulle is bly om jou te sien en jy gaan sit en jy laat die dier toe om op jou te klim, is dit ’n manier van stresontlading. Ook vir emosionele ondersteuning.”

Net die handeling om na iets anders om te sien, selfs ’n vis, bring mee dat jy vir ’n tyd lank nie aan jou eie dinge dink nie en fokus op iets anders, sê Coetzer.

Die Amerikaanse sentrums vir siektebeheer en -voorkoming (CDC) stem daarmee saam en sê daar is talle gesondheidsvoordele om ’n troeteldier te besit. Hulle bied geleentheid om te oefen, buite te kom en te sosialiseer. Volgens die CDC sluit die gesondheidsvoordele verlaagde bloeddruk en ’n laer cholesterolvlak in.

Emily probeer Landi Slatter se vingers vang terwyl sy tik.

Dr. Liza le Roux, tegniese bestuurder vir die metgeseldier-span by Zoetis in Suid-Afrika, sê troeteldiere verminder stres en ’n gevoel van ongelukkigheid. Zoetis is ’n multinasionale dieregesondheidsmaatskappy.

“Om jou kat of hond te streel kan jou bloeddruk verlaag, jou kalmer laat voel en verligting bring vir stywe spiere,” sê Le Roux. “Deur met jou troeteldier te speel verhoog dit ook die vlakke van serotonien en dopamien in die brein wat die goedvoel-hormone is.”

Meer oor:  Waldimar Pelser  |  Julian Jansen  |  Covid-19  |  Troeteldiere
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.