Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
‘Ek wil kom spook,’ skryf vermoorde Liam (2) se pa

“Hallo en totsiens. Toe kies ek toe die kort pad. Die lang pad is vol dorings en dissels,” skryf Nantes Nortjé in ’n vermoedelike selfdoodbrief wat in ’n geestelike boekie tussen sy besittings in die tronk gevind is nadat hy verlede jaar in die Pelonomi-hospitaal in Bloemfontein dood is.

Liam NortjéFoto: Verskaf

“Aan die ander kant wou ek nog altyd ’n spook gewees het,” het hy in potlood geskryf.

Dié briefie is vermoedelik nou deel van die geregtelike ondersoek in die Bloemfonteinse landdroshof na sy dood.

Nantes (49), wat destyds ’n lewenslange vonnis in die Mangaung-tronk uitgedien het weens die moord op sy seuntjie, Liam Nortjé (2), se naam is nou weer op talle mense se lippe.

Die uitslag van DNS-toetse op die erg ontbinde oorskot van ’n kind wat in Desember 2019 langs ’n spoorlyn by Harrismith gevind is, het getoon dat dit Liam was. Dié bevinding is verlede week bekend gemaak.

“Ek sal nog by ’n paar mense wou spook. So, as julle iets in die nag hoor, moenie worry nie. Dit is maar net ek. Sien julle eendag anderkant die reënboog,” sluit hy die briefie af – sonder om ’n woord te rep oor hoe en waar sy blondekopseuntjie doodgemaak is.

Nantes is op 16 Julie dood nadat hy vermoedelik ’n oordosis van ’n middel in die tronk gedrink het.

Hy was sowat sewe maande in die tronk nadat hy in Desember 2019 in die hooggeregshof in Bloemfontein vir die moord op Liam in November 2017 gevonnis is.

Hallo en totsiens. Toe kies ek toe die kort pad. Die lang pad is vol dorings en dissels.

Liam het by Nortjé gekuier in Kestell, ’n buurdorp van Harrismith, toe hy verdwyn het. Nortjé was ook skoonveld.

Vroeër is berig die laaste keer dat Cheinelle Brooks haar seuntjie, Liam, se stem gehoor het, was op 21 November 2017 in die agtergrond toe sy hoor hoe hy huil terwyl sy en Nantes ’n rusie oor die telefoon gehad het.

Nantes het toe vir haar gesê: “Jy sal Liam nooit weer sien nie,” is berig.

Nortjé is op 18 Julie 2018 in Ladysmith in KwaZulu-Natal aangekeer. Tot sy dood wou hy nie sê waar Liam is nie. Hy het ook nie in sy verhoor getuig nie.

Op pad selle toe vir sy lewenslange vonnis destyds in die hooggeregshof in Bloemfontein. Nantes Nortjé se vingerafdrukke word deur konst. Thabang Mathinya geneem voordat hy na die hofselle geneem is. Foto: Mike van Rooyen

Nadat hy in 2019 gevonnis is, was hy koel en kalm, asof hy verlig was die vonnisverrigtinge is afgehandel. Hy het vooraf gesê hy gaan nie appelleer nie, ongeag wat sy vonnis is.

Ná die vonnis het hy gevra of Netwerk24 hom wou afneem en met hom praat. Oor waar Liam was, het hy geswyg. Hy het ook ontken dat hy hom doodgemaak het.

Daardie selfde oggend is Liam se oorskot langs die treinspoor gevind. Dit was duidelik dat hy nie lank daar gelê het nie.

Die polisie sal waarskynlik nou na ’n medepligtige in sy moord moet soek. Iemand anders as Nortjé het hom opgegrawe en daar neergesit om gevind te word.

• Netwerk24 het Vrydag berig reëlings word getref om die oorskot van die forensiese laboratorium in Pretoria te kry sodat dit veras kan word. ’n Roudiens sal dan gehou word.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.