Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
‘Ek wil steeds Engels gee, maar nie weer in China’

Die tien uur wat sy gestrand was voordat sy en haar seun na hul tuisstad kon reis, het ná die sewe maande in huisarres in China soos ’n ewigheid gevoel.

So het Estelle Lötter (25) Sondag in haar ma, Suzi Salzwedel, se huis in Gonubie, Oos-Londen, gesê.

Veilig in haar ouerhuis. Estelle Lötter (regs) en haar seun, Caleb, by Suzi Salzwedel, Lötter se ma. Foto: Verskaf

Lötter sou Vrydagoggend vroeg op die O.R. Tambo-lughawe in Johannesburg land en die middag na Oos-Londen vlieg, maar ’n vertraging in China het veroorsaak dat sy haar vlug van Johannesburg na Oos-Londen gemis het. Sy en haar driejarige seun, Caleb, het toe eers Saterdag in Oos-Londen aangekom.

“Saterdag het ek uiteindelik net ontspan en gebraai. Dit was baie lekker. Dis amper twee jaar laas dat ek gebraai het,” het Lötter gesê.

Salzwedel was ook Sondag oorstelp om haar dogter en kleinkind by die huis te hê.

“Ek is baie bly hulle is by die huis. Ek is net so bly hulle is veilig,” het Salzwedel gesê.

Lötter en haar seun het in Oktober 2017 na China verhuis. Sy sou daar as Engels-onderwyseres werk.

Die agentskap wat haar gewerf het, het haar laat glo sy het geen kwalifikasies nodig nie, slegs ’n mediese sertifikaat, polisieklaring en toeristevisum. In China sou die toeristevisum glo omgeskakel word sodat sy daar kon werk.

Dít het egter nie gebeur nie en in Februarie het die owerhede op die agentskap toegeslaan.

Lötter het besluit om daar te bly deur aansoek om ’n studentevisum te doen. “Dit het my die geleentheid gegee om te studeer en ’n aantal ure te kan werk.”

Verlede jaar het sy huis toe verlang en besluit om terug te vlieg. Sy is op 1 Augustus in China op die lughawe voorgekeer.

“Die beamptes het net gesê hulle wil met my praat oor hoe ek by die land ingekom het.”

Die beamptes het net gesê hulle wil met my praat oor hoe ek by die land ingekom het.

Ná ure se ondervraging in ’n polisiekantoor is sy en haar seun in huisarres geplaas.

“Geen woorde kan die toestand van die huis beskryf waarin ons gebly het nie. Dit was ’n eenslaapkamerhuis, daar was geen matras, geen wasmasjien, geen TV-stel nie, die lugversorger was foutief en van die gasstoof het net een brander gewerk. Ek moes hulle smeek vir ’n yskas.”

Sy is nie toegelaat om te werk nie. Die Chinese regering het haar ongeveer R4 000 ’n maand gegee waarmee sy gas, water, elektrisiteit en kos vir haar en Caleb moes betaal.

“Dit was ’n baie stresvolle tydperk. Tussendeur als en die ondersoek moes ek kontak maak met die Suid-Afrikaanse departement van internasionale betrekkinge en samewerking en die ambassade.”

In Maart het die aanklaer in die saak haar laat weet sy word vrygelaat. Sy het die dokumentasie om die land te mag verlaat egter eers sowat ’n maand daarna ontvang.

Terug in Suid-Afrika het sy reeds besluit sy wil steeds ’n Engels-onderwyseres wees, maar dié keer sal sy die nodige kwalifikasies hê, en China is nie op die lys van plekke waar sy wil werk nie.

“Ek mag China nie binne die volgende vyf jaar besoek nie. Ek oorweeg nou Thailand en Viëtnam.”

Meer oor:  China  |  Visum  |  Onderwys
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.