Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Ekonomie knou, maar sommige gemeentes blom
Die bekende NG gemeente Moreletapark in Pretoria, waar baie mense nou hul werk verloor weens herstrukturering. Foto: Alet Pretorius
Ds. Nelis Janse van Rensburg, moderator van die NG Kerk se algemene sinode. Foto: Nelius Rademan

Die huidige ekonomiese omstandighede in die land raak alle instansies, ook die kerke.

Terwyl sommige gemeentes groot finansiële druk ervaar, is daar ander waarmee dit “baie goed gaan,” sê ds. Nelis Janse van Rensburg, voorsitter van die NG Kerk se moderamen, in reaksie op die aflegging van 19 mense, insluitende drie leraars, by die bekende en groot NG Moreletapark-gemeente in Pretoria.

Dié gemeente het onlangs bevestig dat hy weens finansiële druk deur ’n herstruktureringsproses gaan.

Naas die finansiële druk, het die krimpende lidmaattal ook bygedra.

Hierop sê Janse van Rensburg: “Ek kan nie sê wat die Moreletapark-gemeente se spesifieke omstandighede was nie, maar daar is NG gemeentes waarmee dit finansieel baie goed gaan, ander waarmee dit minder goed gaan en dan nog waarmee dit sleg gaan”.

Die probleem is groter in plattelandse gebiede waar baie demografiese verskuiwings plaasvind. Mense trek na die stede toe, wat die getal lidmate laat daal.

Lidmate ervaar self ook die ekonomiese druk en gee dus kleiner kerklike bydraes.

“Maar, ’n mens kan nie veralgemeen nie. Soos ek gesê het, is daar weer gemeentes met wie dit baie goed gaan. Van ons sinodes, wie se inkomste uit die gemeentes onder hulle kom, het skerp stygings in hul inkomste gehad,” het Janse van Rensburg uitgewys.

Pieter Breytenbach, gemeentebestuurder en bedryfshoof van die Moreletapark-gemeente, beklemtoon ook dat die afleggingsproses wat hulle moes deurgaan, ’n wêreldwye neiging is.

Kyk maar hoeveel mense verloor hul werk. Die kerkgangers onder hulle het nie meer geld vir hul tiendes of bydraes nie.
Pieter Breytenbach

“Daar is kerke wat groei, daar is mense wat skuif tussen kerke en daar is mense wat kerke los.

“Ons is nie die enigstes nie. Daar is selfs kerke in die platteland wat toemaak omdat hulle nie ’n leraar kan bekostig nie of mense woon nie meer dienste by nie,” sê hy.

Daarby verkies sommige mense deesdae om na ’n kerkdiens oor die radio te luister of op televisie te kyk.

“Die moeilike ekonomiese omstandighede lei ook daartoe dat mense se bydraes aan die kerk verminder. Kyk maar hoeveel mense verloor hul werk. Die kerkgangers onder hulle het nie meer geld vir hul tiendes of bydraes nie.

“Ander onderhou dalk ’n familielid, wat sy werk verloor het, of voel die ekonomie aan hul eie besighede waar hulle eerste vir hul eie werknemers en eie brood en botter moet voorsien,” verduidelik Breytenbach.

Wanneer lidmate wat self sukkel om hulp kom aanklop, plaas dit ook druk op ’n gemeente se finansies.

“Ons moet hulle ook ondersteun waar ons kan, soos met kos en klere.”

Dit het ’n uitwerking op almal, selfs op diegene wat nie hul werk verloor het nie.
Pieter Breytenbach

Met verwysing na die Moreleta-gemeente se finansies, sê Breytenbach hul grootste uitgawes is munisipale dienste soos water en ligte, maar ook salarisse en onderhoud.

“Die afleggings is nie ’n lekker situasie om in te wees nie. Ons kollegas is soos familie.

“Dit het ’n uitwerking op almal, selfs op diegene wat nie hul werk verloor het nie. Dié wat afgelê is, is goeie mense. Hulle is nie laat gaan oor misstappe of probleme met hul werksprestasie nie.”

  • Breytenbach wou nie die name bekend maak van die drie leraars wat afleggingspakkette aanvaar het nie, omdat hy dit beskou as ’n persoonlike, intieme saak. Hy wil ook niemand “blootstel” nie.

Oor die kerk se finansiële state sê hy hul boeke is oop vir lidmate, maar nie “vir die hele wêreld” nie.

Meer oor:  Nelis Janse Van Rensburg  |  Ekonomie  |  Afleggings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.