Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Ekonomiese groei en staatsalarisse bly groot risiko’s

Die staat sal in die volgende drie jaar ’n bykomende R274,3 miljard vir staatsdienssalarisse moet vind as staatsdiensvakbonde hul sin kry van verhogings van inflasie plus 4%.

Nedbank se ekonomiese eenheid sê in ’n nota dié bedrag is gegrond op die staat se 2020-’21-salarisrekening van R574,4 miljard, as aanvaar word die arbeidsmag in die staatsdiens bly konstant en as die jaarlikse inflasiekoers 4,5% is. So iets sal die staat se planne vir fiskale konsolidasie omvergooi.

Die kredietgraderingsagentskap Moody’s, wat Suid-Afrika se staatskuld tans het op twee kerwe onder beleggingsgraad met ’n negatiewe vooruitsig, sou Vrydag ’n besluit oor Suid-Afrika neem, maar het dit oorgeslaan.

Johann Els, hoofekonoom van die Old Mutual Investment Group, sê daar is ’n verskil tussen geen besluit neem nie en die kredietgradering onveranderd hou. Hy meen Moody’s het nie genoeg inligting gehad om nou ’n besluit te neem nie en wag waarskynlik op die uitslag van die loononderhandelinge.

Staat se salarisrekening kan dié jaar rek met R37 miljard as vakbonde wen.

Die regering se salarisonderhandelinge met staatsdiensvakbonde oor verhogings vir die volgende drie jaar het verlede naweek vasgeval en vakbonde dreig met ’n staking.

Daar is ook nog nie uitsluitsel oor die bevriesing van die staat se salarisverhoging vir 2020-’21 nie.

Nedbank sê as die konstitusionele hof in staatsamptenare se guns beslis en die bevriesing tersyde stel, sal dit R37 miljard tot die salarisrekening voeg vir die jaar.

Volgens Nedbank hang ’n groot deel van die regering se plan om staatskuld teen 2025-’26 op ’n hoogtepunt van 88,9% van die bruto binnelandse produk (BBP) te laat draai, af van ’n laer salarisrekening.

Hoewel die syfer beter is as die 95,3% wat die tesourie in die mediumtermynbegrotingsraamwerk (MTBR) in Oktober 2020 voorsien het, is die verhouding van staatskuld tot BBP steeds ver bo die mediaan vir lande met ’n BB-skuldgradering. Fitch het dié verhouding in 2020 op 50% bereken.

Nedbank sê al drie die groot kredietgraderingsagentskappe het ná die Februarie-begroting gewaarsku die tesourie se fiskale padkaart is ’n uitdaging.

“Die effens beter skuldverhouding en kleiner begrotingstekort as wat in Oktober 2020 voorsien is, is grootliks gegrond op ekonomiese herstel en om die staat se salarisrekening in bedwang te hou. Albei hou groot risiko’s in.”

Els sê Moody’s het waarskynlik die graderingsbesluit oorgeslaan ook omdat groeivooruitsigte beter lyk en die fiskale risiko laer is. “As die loononderhandelinge goed afloop en ’n verhoging toegestaan word wat nie die begroting te veel oorskry nie en veel laer as inflasie is, kan Moody’s selfs Suid-Afrika se negatiewe vooruitsig opdateer tot ’n stabiele vooruitsig ná die MTBR in Oktober.”

Daar is egter nog baie donker wolke, want met ’n negatiewe vooruitsig is die volgende stap ’n verdere afgradering tensy die staat se geldsake in die volgende paar maande verbeter en die ekonomie oor die mediumtermyn sterk groei.

S&P Global Ratings sal op 21 Mei sy besluit neem en Fitch na verwagting ook in daardie tyd.

S&P het ook Suid-Afrika se kredietgradering op BB, die laaste van die dubbel-B-graderings voordat dit verder in rommelstatus sak, maar met ’n stabiele vooruitsig. Fitch se gradering is ook twee kerwe onder beleggingsgraad met ’n negatiewe vooruitsig.

Annabel Bishop, ’n ekonoom van Investec, het vroeër die week in ’n nota geskryf dis onwaarskynlik dat S&P Suid-Afrika sal afgradeer, maar die vooruitsig kan in negatief verander.

Fitch sal Suid-Afrika na verwagting ook nie nou verder in rommelstatus dompel nie, maar die land vanjaar fyn dophou om te sien of die beter skuld- en begrotingstekort-vooruitskattings van die Februarie-begroting behaal kan word. “Fitch het vroeër gesê hoewel die BBP in 2021 in geheel sal herstel, word gedempte ekonomiese aktiwiteit in die eerste helfte van die jaar verwag weens die stadige vordering met Covid-19-inentings,” skryf Bishop.

Nedbank sê sedert 2015 het die ekonomie met gemiddeld net 0,8% per jaar gegroei en geen noemenswaardige verbetering word in die volgende twee jaar verwag nie. “Dis te laag om die maatskaplik-ekonomiese situasie vinnig te verbeter en dus negatief vanuit ’n graderingsoogpunt.” Die bank sê omdat Moody’s en Fitch Suid-Afrika se status in November 2020 afgegradeer het, kan hulle ’n “wag-en-kyk”-houding inneem tot die nasionale begroting in Februarie 2022.

Enige agteruitgang in die ekonomiese vooruitsigte sal egter die kanse vir nog ’n afgradering vanjaar verhoog, waarsku Nedbank.

Meer oor:  Nedbank  |  Ekonomie  |  Moody's
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.