Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
EKSKLUSIEF: Gulam Bodi glo ‘middelman’
Gulam Bodi. Foto: Getty Images

Die voormalige Protea- en Lions-kolwer Gulam Bodi word ondersoek as die “middelman” in die jongste wedstrydknoeiery-skandaal wat Suid-Afrikaanse krieket getref het.

Netwerk24 kan onthul dat Bodi (37), ’n voormalige SA Skole-speler wat in sy loopbaan meer as 10 000 lopies in eersterangse krieket aangeteken het, in Desember voorlopig deur Krieket Suid-Afrika (KSA) geskors is uit alle vorme van die sport.

Toe hy gevra is vir kommentaar oor die bewerings, het Bodi eers gesê “nee, nee, nee” en later: “nee, absoluut geen kommentaar nie, jammer”. Hy wou ook nie sê wie sy prokureur is nie.

Bodi het Donderdagoggend sy Twitter-profiel uitgewis.

Hy word aangekla ingevolge artikel 4.7.1 van KSA se teenkorrupsie-beleid omdat hy na bewering probeer het om spelers in die 2015 Ram Slam T20-reeks te beïnvloed om wedstryde te beknoei.

Bodi weier glo om sy samewerking te gee in KSA se ondersoek.

Vyftien jaar gelede is Suid-Afrikaanse krieket geskud toe dit aan die lig gekom het dat Hansie Cronjé, die voormalige Protea-kaptein, omkoopgeld van Indiese beroepswedders ontvang het om die uitslag van wedstryde te beïnvloed.

KSA het tot dusver nie sy identiteit bekend gemaak nie, maar drie onafhanklike bronne met kennis van die ondersoek het aan Netwerk24 bevestig Bodi word daarvan verdink dat hy die “ringleier” was.

Bodi het verlede jaar uitgetree en nie self in die Ram Slam-reeks gespeel nie.

Ingevolge sy skorsing deur KSA mag Bodi nie deelneem aan enige funksie, geleentheid of aktiwiteit wat deur KSA of die Internasionale Krieketraad georganiseer of ondersteun word nie.

In ’n verklaring wat KSA in Desember uitgereik het, sê Haroon Lorgat, uitvoerende hoof, dat hulle enige persoon wat die spel probeer korrupteer “meedoënloos” sal ondersoek met die polisie se hulp. Lorgat het ook gesê dat KSA sal vra vir die strafregtelike vervolging van skuldige partye.

Volgens Netwerk24 se bronne is die polisie reeds bewus van die bewerings teen Bodi en is KSA onder ’n wetlike verpligting om enige bewerings van korrupsie by die polisie aan te meld.

Meer oor:  Gulam Bodi  |  Krieket
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.