Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
‘Ekstreme partytjies’ gehou in huis waar 3 sterf

Die vol drinkglase van die drie kollegas wat Saterdagoggend dood in ’n huis in Pretoria gevind is, is onaangeraak in die huis gekry.

Werner Koekemoer, ’n oudpolisielid en ondersoeker van Mike Bolhuis, private ondersoeker, sowel as een van die slagoffers, Chariska Kloppers (30), se man, Nollie, het dit aan Netwerk24 bevestig.

Die stoel waarop Chariska Kloppers (30) dood gevind is op die stoep van ’n huis in Menlo Park in Pretoria. Foto: Verskaf

Die ander twee mense wat dood in die huis gevind is, is Theo Kleynhans (60) en Mario Pretorius (23).

Bolhuis, wat deur Pretorius se familie aangestel is om ’n private ondersoek na sy dood te doen, het Dinsdag in ’n onderhoud met Jacaranda FM gesê die ondersoek is “gekompliseerd”.

Hy het na die huis in Menlo Park waar Pretorius, Kloppers en Kleynhans se lyke gekry is, verwys as “ ’n huis waar ekstreme partytjies” gehou is.

Bolhuis en sy ondersoekers is besig om beeldmateriaal na te gaan van kameras wat oral in die huis is.

Hy sê dit kan baie help met die ondersoek om vas te stel wie almal Vrydagaand en vroeg Saterdagoggend in die dubbelverdiepinghuis was.

Volgens ingeligte bronne blyk dit dat al vier die slagoffers min of meer dieselfde tyd baie siek moes geword en drie van hulle gesterf het.

“Daar was vier mense. As hulle die een ná die ander stadig begin sleg voel het, sou een tog sekerlik kon bel vir hulp? Die feit dat niemand dit kon doen nie, laat dit lyk of almal min of meer dieselfde tyd iets oorgekom het. Hulle sou nie sommer van iets soos voedselvergiftiging almal op dieselfde tyd en plek sterf nie.”

Chariska Kloppers (30) Foto: Verskaf

Kleynhans was die besturende direkteur van The Property Management Authority of South Africa-eiendomsagentskap, oftewel PropMan, in Faerie Glen, wat veral in deeltitels spesialiseer.

Hy het ook ’n fotografie-onderneming gehad en as Theo Klein foto’s geneem.

Die tragedie het gebeur nadat werknemers van PropMan Vrydagmiddag ná werk by ’n kuierplek iets gaan eet en drink het. Nadat die res van die kollegas weg is, het Kloppers, Kleynhans, Pretorius en nog ’n 32-jarige vrou (wat oorleef het) na Kleynhans se huis gegaan. Die vrou se naam word op regsadvies weerhou.

Mario Pretorius (23) Foto: Facebook/Mario Pretorius

Wat presies in die huis gebeur het, bly ’n raaisel.

Koekemoer en Bolhuis beweer daar is op vermoedelik dwelms in die huis afgekom. Daar is glo ook skedule 5- en skedule 6-medisyne, waaronder pynmedikasie, in die huis gekry.

Kol. Nxolo Kweza, polisiewoordvoerder in Gauteng, wil dit nie bevestig of ontken nie. Sy kon Dinsdag ook nie sê of die lykskouings al gedoen is nie.

Netwerk24 het verneem die lykskouings, wat moontlik toksikologietoetse kan insluit, is Maandag gedoen.

’n Werknemer van Kleynhans het Saterdagoggend in die huis op die lyke afgekom. Kloppers het buite op die stoep op ’n stoel gesit. Die ander vrou het bewusteloos op die stoep gelê. Sy word steeds in die waakeenheid van ’n hospitaal in Centurion behandel.

Theo Kleynhans (60) Foto: Facebook/Theo Kleynhans

Kleynhans is in die gang naby die trappe gekry. Hier is bloed en wat blyk moontlik braaksel te wees op die mat gekry. Pretorius se lyk is ook in die gang gekry.

PropMan en die Kleynhans-familie het Dinsdag in ’n kort gesamentlike verklaring gesê dit is met groot hartseer dat hulle as familie en vriende die verlies van hul werknemers, seun en broer “onder hierdie moeilike omstandighede” moet hanteer.

“Ons wens ons ander vrouekollega ’n spoedige herstel toe,” lui die verklaring. Hulle voeg by hulle bid die Here hou Pretorius en Kloppers se geliefdes in sy hand en gee troos in “hierdie tye van swaarkry”.

Die maatskappy en die Kleynhans-familie het gevra dat hul privaatheid gerespekteer word omdat hulle nie kommentaar oor die aangeleentheid kan lewer terwyl ook hulle vir die verdere ondersoekwerk wag nie.

“Laat asseblief die polisie toe om hul werk te doen om sodoende meer inligting te kan verskaf. Dankie aan almal wat hul medelye betoon en vir hul volgehoue ondersteuning die afgelope paar dae,” lui die verklaring.

’n Lessenaar in die huis in Menlo Park in Pretoria waar drie kollegas Saterdagoggend dood aangetref is. Foto: Verskaf

’n Kunstenaarsvriend van Kleynhans het hom net meer as tien jaar gelede ontmoet en ken hom as fotograaf.

“Theo was ’n baie goeie fotograaf. Ek het hom ontmoet toe hy foto’s van my geneem het by ’n ateljee. Hy was baie professioneel. Ek onthou in die dae toe ons gekuier het, het hy gereeld onthaal – ’n sosiale, flambojante mens. Sy huis het ’n groot kroeg en TV’s gehad,” vertel die vriend.

Die families van die ander oorledenes het Dinsdag alle navrae na Bolhuis verwys.

Nollie Kloppers het gesê “ek het my redes” vir hoekom hy nie meer oor die voorval wil uitwei nie. Hy en Chariska was besig om te skei. Sy het saam met haar ma en die egpaar se drie klein kinders in Pretoria-Tuine gewoon.

Die dubbelverdiepinghuis in Menlo Park waar drie kollegas Saterdagoggend dood gekry is. ’n Vrou is in ‘n ernstige toestand in ’n hospitaal. Foto: Brümilda Swartbooi

Hy het Maandag aan Netwerk24 gesê “daar is geensins ’n manier” dat Chariska dwelms sou gebruik nie. Vriende van Chariska het op Facebook gesê “sy het nie eens gerook nie”.

Een van die vriende ken haar van laerskool af. “Sy het drie klein kindertjies. Iets is baie verdag.”

Michael Pretorius, ’n oom van Mario, sê Bolhuis het gesê alle navrae moet na hom verwys word. Hy sê hulle weet nog nie wanneer ’n roudiens of begrafnis gehou sal word nie.

Pretorius het, net soos Kloppers, in Pretoria-Tuine gewoon.

bloed
Wat lyk na bloed en/of braaksel is op die mat gekry waar daar afgekom is op Theo Kleynhans (60) se lyk in sy huis in Menlo Park in Pretoria. Foto: Verskaf

Meer oor:  Theo Kleynhans  |  Chariska Kloppers  |  Mario Pretorius  |  Partytjies  |  Kollegas  |  Ekstreme  |  Sterf  |  Huis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.