Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Elsiesrivier-gemeenskap ruk op om Tazne se familie te steun

Die gemeenskap van Elsiesrivier in Kaapstad het Sondag hul ondersteuning aan die gesin van die vermoorde Tazne van Wyk (8) betoon. Tazne se lyk is Woensdag in ’n stormwaterafvoerpyp langs die N1 by Worcester gevind.

Inwoners, onder wie die eerste burger van Kaapstad, Dan Plato, was onder diegene wat die Van Wyk-familie ondersteun het.

’n Groot groep mense van verskillende agtergronde en gelowe het Sondag deelgeneem aan ’n optog deur die strate van Elsiesrivier.

Die optog het omstreeks 14:30 by die Spar in Avonwood begin en geëindig by die Van Wyk’s se huis. ’n Gebedsdiens is daar gehou.

Mense drom saam voor die optog in Elsiesrivier, Kaapstad. Foto: Verskaf

“Ons is hier om ons voortgesette ondersteuning aan die familie te betoon. Ons het almal genoeg gehad van moorde en geweld teen ons vroue en kinders. Ons kan nie week ná week ons kinders begrawe wat hier op die vlaktes verkrag en vermoor word nie,” het Plato gesê.

Hy het sy meegevoel uitgespreek teenoor die familie en gesê Kapenaars deel in hul pyn en lyding.

“Natuurlik voel ons die pyn saam met die familie. Ek was bitter geskok toe ek hoor dat Tazne se lykie gekry is. Dis woorde wat geen ouer ooit moet hoor nie.”

Plato sê hy kan hom nie indink hoe Tazne se laaste oomblikke op aarde moes wees nie.

“Om so wreed gevat te word en doodgemaak te word is net eenvoudig tragies.”

Die burgemeester het die familie verseker dat hulle hul nie moet bekommer oor die begrafnis nie en dat die stad ’n bydrae sal lewer.

“Ons sal toesien dat sy ’n ordentlike begrafnis kry. Nou moet ons net verseker dat die geweld wat Vrydag voorgekom het, onmiddellik gestop word. Ons kan nie geweld met geweld vergeld nie. My versoek aan inwoners is om hul haat te laat vaar en nie geweld te gebruik nie.

“Tazne se ouers is dit eens dat mense nié in hul dogter se naam geweld moet pleeg nie. Die xenofobiese ondertone wat Vrydag skerp deurgeslaan het, moet ook gestop word.

“Talle kerkleiers en pastore het aan die optog deelgeneem Dit is duidelik dat die kerk sal moet begin fokus op die mans in ons gemeenskappe. Ons godsdienstige groepe sal die boodskap moet versprei dat ons mans die geweld teen vroue en kinders moet staak. Dis ons mans en broers wat verkrag en moor en ons kinders soos rommel en vullis weggooi, asof hulle niks is nie.

“Ons is almal moeg vir die geweld. Ons het genoeg gehad. Daar is te veel vrae oor Moyhdine Pangarker (54) se misdaadrekord en hoe korrektiewe dienste hom in die eerste plek kon vrylaat,” het Plato gesê.

’n Groot groep mense van verskillende agtergronde en gelowe het Sondag deelgeneem aan ’n optog deur die strate van Elsiesrivier. Foto: Verskaf

Sondag is ’n diens ook in die United Reformed Church in Elsiesrivier gehou wat bygewoon is deur Tazne se ma, Carmen.

Chris Nissen, die Suid-Afrikaanse menseregtekommissaris vir die Wes Kaap, het Sondag gesê dat hy vroeër die dag die Van Wyks besoek het nadat die familie hul kommer uitgespreek het dat die beskuldigde glo vir psigiatriese waarneming wil gaan.

“Die familie is bekommerd hieroor, en ek het hulle gerusgestel dat die polisie die hele proses aan hulle sal verduidelik.

“Die pyn en lyding wat hierdie gesin deurmaak, kan nie in woorde beskryf word nie. Hul hartseer is nog te rou.”

Pangarker, Tazne se vermeende ontvoerder en moordenaar, het volgens die nasionale vervolgingsgesag (NVG) ’n ellelange misdaadrekord.

Meer oor:  Dan Plato  |  Tazne Van Wyk  |  Elsiesrivier  |  Kaapstad  |  Gemeenskap  |  Moord  |  Ondersteuning
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.