Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Emigrasie skiet die hoogte in

Suid-Afrikaners met tersiêre kwalifikasies soek teen ’n stink spoed hul heil in die buiteland.

Daar word beraam dat meer as ’n miljoen Suid-Afrikaners oorsee werk. Emigrasie is deesdae ’n ál groter rede dat mense eien­dom in die mark sit.

En dit is nie net wit Suid-Afrikaners wat skoert nie.

In die departement van binnelandse sake se 2017-verslag oor internasionale migrasie word aangevoer dat geleerde swart mense nou die land teen ’n groter tempo verlaat as geleerde wit mense.

Dr. Sihle Mthiyane, waarnemende direkteur van beleid en strategiese bestuur by dié departement, het verlede week in ’n Carte Blanche-insetsel gesê hy is glad nie verras oor hierdie verskynsel nie.

“Ons is baie bekommerd hieroor. Vir ons om in die ekonomie te kan belê, het ons mense met vaardighede nodig,” het Mthiyane gesê.

‘Tref alle maatreëls om die emigrasie van wit kundigheid op hoë vlak te verhoed.’

Mthiyane erken ook dit is nie bekend presies hoeveel Suid-Afrikaners tans oorsee werk nie.

Die regering werk met ’n studie wat tussen 1989 en 2003 gedoen is, wat bepaal het dat meer as 520 000 Suid-Afrikaners in hierdie tydperk geëmigreer het.

Hierdie studie werk dan op ’n vooruitskatting dat die getal elke jaar met 9% groei.

Die Amerikaanse Pew-navorsingsentrum sê egter dat daar teen 2017 oor die 900 000 Suid-Afrikaners in die buiteland gewerk het.

Die Homecoming Revolu­tion, Afrika se grootste werwingsfirma, skat die getal op meer as 2,7 miljoen.

Die enigste land wat al presiese data verskaf het, is Australië, wat in 2016 bekend gemaak het dat 162 448 Suid-Afrikaners daar werk.

Een ding waaroor die regering wel seker is, is dat hierdie getal elke jaar toeneem.

Volgens FNB se eiendomsagentstudie het 14,2% van mense wat hul huise tot dusver in 2019 verkoop het, dit verkoop om te emigreer.

Verlede jaar het dié syfer gewissel tussen 7,4% vir die eerste kwartaal en 10% vir die laaste kwartaal.

Die verhuisingsmaatskappy Biddulphs se uitvoerende hoof, Owen Farmerey, het aan Carte Blanche gesê hulle het in 2013 nog 15 Suid-Afrikaners teruggebring Suid-Afrika toe vir elke tien wat emigreer.

Nóú, sê Farmerey, emigreer 45% meer van hul kliënte as in 2015. Hy sê die gewildste bestemmings is Brittanje, Australië, Nieu-Seeland en die VSA.

Die redes waarom Suid-Afrikaners trek, was volgens Johannes Wessels, direkteur van The Enterprise Observatory of South Africa, al in 2008 duidelik, “die regering het dit net geïgnoreer”.

In die blog-inskrywing “Ten Wasted Years” vra Wessels of Tito Mboweni, minister van finansies, gebruik gaan maak van sy nuwe raadgewer, die Harvard-ekonoom Ricardo Hausmann, se destydse raad oor swart ekonomiese bemagtiging (SEB).

Hausmann was onder oudpres. Thabo Mbeki die voorsitter van die interna­sionale paneel van kundiges oor die regering se versnelde Suid-Afri­kaanse groeiplan (Asgisa).

Hausmann, bekend om sy kundigheid oor mislukte state, het destyds al die regering aangeraai om SEB groeigerig te maak.

“Tref alle maatreëls om die emigrasie van wit kundigheid op hoë vlak te verhoed.”

“Hy het SEB bestempel as ’n voortdurende belasting op kapitaal en voorgestel dat ’n spertyd gestel moet word om dit af te skaf,” sê Wessels.

Dié raad is egter geïgnoreer. Oudpres. Jacob Zuma se regering het swartbemagtiging en regstellende aksie “sonder remme begin najaag”.

“Dit is onwaarskynlik dat Hausmann nou ’n beter situasie hier gaan kry. Eintlik het sake versleg wat betref die beskikbaarheid van produktiewe kennis,” skryf Wessels.

In die verslag van binnelandse sake erken die regering:

  • Vir elke een geleerde wat na Suid-Afrika immigreer, emigreer agt geleerde Suid-Afrikaners;
  • Wit Suid-Afrikaners emigreer as gevolg van ’n gebrek aan werksgeleenthede in die land; en
  • Hoewel die nasionale ontwikkelingsplan (NOP) voorkeur verleen aan die verkryging van vaardighede, het die regering steeds geen beleid om vaardighede te verkry of te behou nie.

Die verslag erken ook dat 120 000 van die 520 000 Suid-Afrikaners wat tussen 1989 en 2003 geëmigreer het, wit emigrante was wat tersiêre kwalifikasies gehad het, en dat Suid-Afrika net in dié tydperk 7% van sy totale arbeidsmag met tersiêre kwalifikasies verloor het.

Volgens die PPS Graduate Professional Index se jongste peiling sê 42% van die respondente Suid-Afrikaners emigreer vanweë ’n tekort aan werkgeleenthede.

Dié peiling is vroeg vanjaar onder 5 837 Suid-Afrikaners gedoen.

PPS is ’n versekeraar vir beroepslui, onder wie ingenieurs, medici en rekenmeesters.

Wessels sê indien die regering nie drasties ingryp by die emigrasie van Suid-Afrikaners nie, sal die NOP tot “pure fiksie” verval.

Meer oor:  Emigrasie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.